Ons weet intuïtief dat ons nie alles vir ons kinders kan wees nie. Dat ons hulle gereeld aan ons Hemelse Vader moet opdra, soos Dawid ook sy seun Salomo aan God opgedra het. Jy sê dalk: “Gebed vir my kinders kom nie spontaan nie”. Dan kan hierdie kort gebede help wanneer jy wonder hoe om te bid.
#1 Gebed vir my kinders – “Dat hulle U sal ken …”
“Here, ek bid dat my kind U sal ken.
“My gebed vir my kinders is dat hulle ‘n liefde vir u Woord sal kweek en altyd eerste hulle antwoord in Jesus en die Bybel sal gaan soek.
“Mag my kinders glo en verstaan dat Jesus hulle sonde vergewe en rein maak wanneer hulle jammer sê. Dat Jesus hulle krag gee om teen sonde te kies. En dat Jesus hulle wil leer en lei om deel van God se koninkryk hier op aarde te wees.
“Help my om vir my kinders ‘n voorbeeld te wees van hoe dit lyk om U waarlik te ken, lief te hê en volgens U wil te leef. Amen.”
#2 Gebed vir my kinders – “Vir geestelike en fisieke gesondheid”
“Here, soms weet ek nie hoe om te bid nie. Veral wanneer ek dink aan my kind se geestelike welstand.
“Dankie dat U my kind deur en deur ken. Here, U sien dwarsdeur my kind, U ken haar. Of sy sit en of sy opstaan, U weet dit, U ken haar gedagtes nog voordat dit by haar opkom. (Psalm 139:1-2)
“My gebed vir my kinders is dat U die koning oor hulle gedagtes wees. Sal U hulle leer om hoopvolle gedagtes, vol van u beloftes te dink, en nie depressiewe gedagtes nie.
“Here, ek dra ook haar fisieke welstand aan U op. Dankie dat U my kind sal beskerm en bewaar. Wees haar veilige skuilplek en beskerm haar met u trou aan alle kante. Amen.”
#3 Gebed vir my kinders – “Dat hulle nie bang sal wees nie”
“Here, U gee vir ons ‘n Gees van krag, liefde en selfbeheersing. Nie ‘n gees van vrees of lafhartigheid nie. (2 Tim 1:7).
“Lei my kind om te weet dat hy niks hoef te vrees nie, want U hou oor hom wag. Lei my kind om moed te hê om die regte ding te doen, want U het reeds die oorwinning behaal.
“Leer my kind om moedig op te tree, altyd in liefde en respek teenoor mense. Lei my kind in die waarheid en gee vir hom vertroue in U sodat hy nie onseker of bang sal wees nie. Amen.”
#4 Gebed vir my kinders – “Dat hulle gehoorsaam sal wees …”
“Here, ek kom bid 2 Timoteus 6:18-19 vir my kind:
“Here, mag my kind die wil hê om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. So vergader sy vir haar ‘n skat as ‘n goeie belegging vir die toekoms, sodat sy die ware lewe sal verkry.
“Here, help my om gehoorsaam te wees aan u opdragte in die Bybel en aan die influistering van die Heilige Gees. Sodat ek ook vir my kinders ‘n voorbeeld kan wees van ‘n getroue dienaar van Christus. Amen.”
#5 Gebed vir my kinders – “Vir sy identiteit in Christus”
“U weet, Here, hoeveel aanslae daar is op ons kinders se identiteit en hoeveel verwarring daar in die wêreld is.
“Dankie dat U my kind geroep het nog voor die grondlegging van die aarde en elke deel van my kind in die fynste besonderhede beplan en geskep het.
“Here, my gebed vir my kinders is dat hulle hulle identiteit in Christus sal vind. Mag my kinders weet dat U hulle lief het, dat U hulle geroep het, en dat U hulle gewillig en bekwaam maak om u wil uit te voer. Amen.”
Hier is verdere gebede om te bid vir jou geliefdes.