Gebede vir my gesin en my kinders
Van die grootste geskenke wat jy aan jou gesin kan gee, is jou gebede. Jy vra God om jou mense te omarm, te bewaar en te lei. Só seën jy hulle met woorde aan die God aan wie hulle behoort.
Hier is 12 gebede wat jy vir jou geliefdes kan bid:
Gebed vir roeping
Vader, ek dank U vir hierdie Paulusgebed: “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou.”
Daarom bid ek vir ons gesin se roeping, Here. Ek bid dat ons sal besef hoe U ons gemaak het, en hoeveel hoop daar in u roeping vir ons is. Vader, plaas asseblief u droom in ons hart en gee ons die deursettingsvermoë om dit doelgerig na te streef.
Beskerm ons daarvan dat ons van ons roeping sal afwyk wanneer ander mense allerlei negatiewe dinge sê. Of wanneer moedeloosheid of twyfel of vrees ons oorval. Help ons om op u tyd te wag. Hoor ons as ons U vir die regte rigting vra, en help ons om in vrede op u antwoord te wag.
Amen.
Gebed vir emosies
Here, ek hoor in Psalm 23:4 hierdie wonderlike belofte: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my.”
Daarom bid ek vir ons emosies. Ek bid vir elke vrees, bekommernis, depressiewe gevoel, angstigheid of selfdoodgedagte. Here, U is die Een wat vry maak en ons uit die donker put van ons emosies trek om op ’n stewige plek te staan.
Help ons om nie die slaaf van ons emosies te wees nie, maar om te bly vertrou dat U ons van elke negatiewe gedagte sal verlos. En dat U ’n nuwe lied in ons mond sal sit.
Amen.
Gebed vir prioriteite
Koning Jesus, ons kry nie altyd ons prioriteite in orde nie. U herinner ons egter hieraan: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God.”
Ek bid dat ons as gesin, gesamentlik en afsonderlik, U ons eerste prioriteit sal maak. En dat U ons sal help om die regte hoeveelheid tyd en aandag aan die regte dinge te bestee.
Weerhou ons daarvan om tyd te mors met dinge wat geen waarde tot ons lewe toevoeg nie. Help ons om te verstaan dat alles onder u Koningskap is. Skenk ons die selfdissipline om elke dag tyd af te staan om by U in stilte te vertoef.
Amen.
Gebed vir verhoudings
Prins van vrede, God van liefde, ek bring al ons verhoudings voor U. Ek bid dat U steeds mense, vriende, oor ons pad sal stuur wat U vrees en wat wysheid najaag. Beskerm ons van alle negatiewe invloede, en leer ons om goeie vriende vir ander te wees. Gee ons vrede in ons verhoudings, oop kommunikasie en wedersydse aanvaarding.
Here, leer ons om gou te vergewe, om nie verblind te word deur hardvogtigheid nie. Seën ons in elke verhouding – met dié wat ons liefhet, met ons kollegas en vriende, met die mense wat ons net terloops ken, en met elke vreemdeling wat ons pad kruis.
Laat u liefde, genade en vrede elke verhouding deurweek.
Amen.
Gebed vir selfbeeld
Jesus Christus, ek bid dat ons ons identiteit in U sal vind. Dat ons ons waarde in u oë en volgens u standaarde sal raaksien.
Mag ons U tog beter leer ken, sodat ons sal weet wie ons eintlik in U is. En mag ons almal se selfbeeld na die beeld van Christus gevorm word.
Ek bid dié Pauluswoorde oor ons: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”
Amen.
Gebed vir gehoorsaamheid
Here God, daar kom tye dat ons ongehoorsaam is, en ek bely dit nou voor U. Ek bid dat U die begeerte in ons sal plaas om in elke opsig aan U gehoorsaam te wees. Leer ons om só saam met die psalmdigter te bid: “Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting.”
Herinner ons elke dag aan u gebooie en die beginsels in u Woord. Gee ons dan die krag om gehoorsaam te bly, al is dit moeilik. Skenk ons die insig om te weet dat daar geen beter plek is as binne God se wil nie.
Amen.
Gebed vir beskerming
Here, vandag bid ek vir u beskerming. Bewaar ons van ongeluk, siekte, gevaar en bose invloede. Ek bid dat u vlerke van beskerming ons sal bedek en verskans. Hou ons voete op die pad wat U vir ons bestem het.
En as ons val, help ons asseblief weer op. En lei ons verder, deur u teenwoordigheid en u genade, op die regte pad.
Leer ons dié psalmgebed: “Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.”
Amen.
Gebed vir keuses
Here, alle wysheid en elke stuk onderskeiding kom van U. En ek ken die waarheid van die Spreukedigter se uitspraak: “Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig.”
Leer ons om U met ons hele hart te soek. Om U, die Almagtige, te vrees. Weerhou ons van dwaasheid, en skenk ons die wysheid om te luister en te leer.
Laat ons wysheid najaag, u raad soek en daaraan gehoorsaam wees. Help ons om goeie keuses te maak en goeie raad te volg.
Amen.
Gebed vir geloof
Vader God, ek bid dat U ons nou ’n ekstra porsie geloof sal gee. Dat ons sal groei in ons vertroue op U, en in ’n vaster geloof in u Woord, u beloftes, u beginsels en u karakter.
Here, ek bid vir geloof wat berge sal versit. ’n Geloof wat daaraan vashou dat alles vir U moontlik is. Leer ons om deur geloof te lewe, en die vryspraak daarvan te geniet. Leer ons om op U te vertrou, maak ons bereidwillig om deur U gelei te word. En wys ons hoe om U in alles eerste te stel.
Leer ons om u aangesig te soek, eerder as om lysies op te stel van alles wat ons by U wil hê.
Amen.
Gebed vir verlossing
Verlosser, Christus, Vrymaker, ek bring ons gesin nou voor U, en ek vra dat U ons sal vrymaak van alles wat ons geestelik en emosioneel gevange hou. Bewaar ons van die bose, maak ons vry en standvastig in U.
Ek bid dat ons u volle wapenrusting sal aantrek, en dat ons sal onthou dat ons stryd voer teen elke mag, gesag en gees wat in hierdie sondige wêreld heers. Help ons om die waarheid as gordel te dra, asook die borsharnas van vryspraak, en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan ons voete.
Plaas asseblief geloof in ons hand as ’n skild om elke brandpyl van die Bose af te weer. Sit die helm van verlossing op ons kop en help ons om die swaard van die Gees, die woord van God, op te neem. En dring ons om dit alles biddend te doen, totdat U die deurbraak gee.
Amen.
Gebed vir gesondheid
Groot Geneesheer en almagtige God, ek bid vir ons gesondheid. Gee tog dat elke deel van ons liggaam in perfekte harmonie funksioneer. Genees ons van pyn, besering, siekte of swakheid.
Ons glo wat U oor Uself sê: “Dit is Ek, die Here, wat julle gesond hou.” Help ons om goeie besluite oor kos en oefening te neem, sodat ons liggaam gesond kan wees. Herinner ons gereeld daaraan dat ons liggaam die tempel van die Heilige Gees is.
Ek bid dat ons onsself as lewende en heilige offers aan U sal gee, om só te kan onderskei wat u wil is, wat vir U goed en aanneemlik en volmaak is.
Amen.
Gebed vir voorsienigheid
Vader, Seun en Heilige Gees, U is die algenoegsame God. U is die Een wat in ons behoeftes voorsien en vir ons sorg. Mag ons U elke dag ervaar as die vrygewige God, en met elke nood en behoefte na U toe kom.
Leer ons om met ’n dankbare hart alles raak te sien wat U reeds vir ons gegee en gedoen het. En wys ons hoe om in geloof en dankbaarheid alles te ontvang wat U ons vandag sal gee. Hou ons deurentyd bewus van u versorgende teenwoordigheid en u vreugdevolle nabyheid. Vul ons met vrede en vreugde wanneer ons u aangesig soek.
Amen
Oorspronklik geskyf deur Francine Prins vir LiG Tydskrif.