Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Gebed vir my kinders: ‘Ek bid vir my kinders, Here’

Die nuwe skool termyn het reeds afgeskop – en daarmee saam is daar opwindende vooruitsigte. Maar daar is ook onsekerhede, selfs vrees. Hierdie 'gebed vir my kinders' sal help.

Die nuwe skool termyn het reeds afgeskop – en daarmee saam is daar opwindende vooruitsigte. Maar daar is ook onsekerhede, selfs vrees. Ouers voel dit alles akuut aan wanneer hulle aan hul kinders dink. Hoe sal dit wees as jy al hierdie gevoelens voor die Here gaan lê?

Hier is twaalf gebede vir jou kinders om jou hiermee te help.

Gebed vir my kinders: Bid dat hulle God sal ken

Bid dat jou kinders kleintyd al die Here as hul Verlosser sal ken (2 Tim 3:15) en hul lewe volgens sy riglyne sal inrig (Ps 119:9). Vra dat die Here Hom op so ’n wyse aan jou kinders sal openbaar dat hulle in ’n opregte liefdesverhouding met Hom sal wil wees (Joh 15:13-15).

Bid dat hulle ’n liefde vir die Woord sal hê

Bid dat jou kinders die lewende krag van die Woord sal beleef, dit sal bestudeer en daarvolgens sal leef. Oordink die pragtige Psalm 119 en bid dat die Bybel vir hulle kosbaarder as goud en soeter as heuning sal wees, ’n lig op hul pad en ’n lamp vir hul voet (Ps 19:8-11).

“Ek bid dat jy die Bybel as jou kompas sal kies en dat jy jou in die wonderlike waarheid daarvan sal verdiep. Mag die riglyne wat die Here vir ons in sy Woord gee waarlik jou pad verlig en jou voetstappe rig.”

Gebed vir my kinders: Bid dat hulle in hul gebedslewe sal groei

Doen voorbidding en lei jou kinders in gebed sodat hulle uiteindelik elke versoek en uitdaging biddend voor die Here sal lê (Ef 6:18). Help ook jou kinders om die antwoorde op hierdie gebede raak te sien.

Gebed vir my dogter en seun: Bid dat jou kinders hul skeppingsdoel sal verstaan

Die Bybel verseker ons dat God ons kinders ken en ’n plan met hul lewe het (Jes 43:1, 4; Jer 1:5; Ps 139:13-18). Bid dat jou kinders sal verstaan hoe kosbaar hulle in God se oë is en hoe duur hulle gekoop is. En bid dat hulle met hul lewe hierop sal antwoord (Hand 20:24).

“Dankie, Here, dat U my kinders se lewe beplan het en oor hulle opgewonde was lánk voordat hulle gebore is. Dankie dat U hulle op ’n wonderbaarlike wyse gemaak het as ’n tasbare getuienis van u almag en liefde. Help my kinders asseblief om altyd hul identiteit in U te verstaan.”

Bid vir hul vriendskappe en verhoudings

Bid vir Christelike vriende. Bid dat hulle in hul verhoudings rein en heilig voor God sal lewe (Ps 51:12; 2 Kor 6:14; Spr 17:17; Spr 18:24). Dra ook nou reeds hul toekomstige huweliksmaat aan die Here op.

Gebed vir my kinders: Bid vir hul toekoms

Gebruik die pragtige woorde in Numeri 6:24-26 om die Here se seën oor jou kinders af te bid. Bid dat Hy hulle ’n toekoms en ’n verwagting sal gee (Jer 29:11-14). Bid ook dat jou kinders God altyd in hul besluite sal ken, en dat hulle in wysheid en insig sal groei (Spr 3:5-8; Kol 1:9-11; Jes 11:2).

“Mag die Here jou oorvloedig seën en jou beskerm waar jy ook al gaan. Mag jy self ervaar hoe groot en hoe wyd sy genade is, en mag jy deurentyd van sy teenwoordigheid en sy vrede bewus wees.”

Bid dat jou kinders hul afhanklikheid van God sal besef

Daar word oral baie klem op onafhanklikheid gelê en baie mense is onder die indruk dat afhanklikheid ’n teken van swakheid is. Bid dat jou kinders hul afhanklikheid van God sal erken en verstaan, en dat hulle sal leer om Hom met hul lewe te vertrou (Jak 4:13-17).

Bid dat die vrug van die Gees in jou kinders se lewe sigbaar sal wees

Lees en oordink Galasiërs 5:22-23. Bid dat elkeen van hierdie eienskappe in jou kinders se lewe sigbaar sal word. Fokus byvoorbeeld elke dag op een daarvan en vra dat God jou kinders sal help om dit te verstaan en uit te leef (1 Joh 4:11; Miga 6:8; Fil 2:5-8).

Gebed vir my kinders: Bid vir verantwoordelikheidsin en ’n gewilligheid om te werk

Bid dat jou kinders hul verantwoordelikheid teenoor God, hul familie, vriende, hul naaste en die aarde sal verstaan en dat hulle hul taak met ywer, eerlikheid en integriteit sal aanpak (Gal 6:5; Kol 3:23).

Bid vir fisieke en geestelike gesondheid

Vra God om jou kinders te beskerm en te bewaar teen gevare, siektes, negatiewe invloede en die Bose se aanvalle (1 Tess 5:23-24; 2 Tess 3:2-3; Ef 6:10-18; 1 Kor 10:13).

Gebed vir my dogter en my seun: Bid dat hulle vreesloos sal getuig

Bid dat jou kinders die Here se Naam sonder vrees sal uitdra en teenoor gelowiges én ongelowiges kan getuig van dit wat Hy in hul lewe doen (Rom 1:16-17; Hand 4:29).

En bid vir ’n dankbare ingesteldheid in jou gesin

Die beeld wat deur die media – juis ook sosiale media – geskep word, laat baie mense reken dat voorregte soos tegnologie, klere, luuksemotors en vakansies hulle toekom. Bid dat die Here jou kinders van ’n sieklike verbruikersmentaliteit sal bewaar en dat hulle opreg dankbaar sal wees vir dit wat hulle het (1 Tess 5:18).

Lees ook hierdie 12 gebede wat jy vir jou geliefdes kan bid.

Oorspronklik geskryf deur Susan Goosen.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF