Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Só help jou geloof om stres te hanteer

Geloof en stres

Geloof en stres is dalk albei in jou hart teenwoordig. Want stres is deel van ons alledaagse bestaan. Aan die een kant, omdat ons in ‘n gebroke wêreld leef waar pyn, frustrasie en spanning deel van ons lewe is. Aan die ander kant is gesonde stres ook ‘n hulpmiddel wat ons help oorleef. Maar langdurige stres kan baie nadelig wees vir jou fisiese sowel as geestelike gesondheid. Hoe kan ons geloof ons help om stres te bestuur?

Ons gee vyf Bybelse wenke om stres te hanteer, en kyk ook na wat die Bybel oor stres sê.

Hoe help my geloof in God wanneer ek stres? 

As gelowiges wat in Jesus glo, word ons nie gevrywaar van stres nie. Maar deur ons geloof kan ons juis ons voete op vaste grond plant: God se liefde en sy beloftes. Dit is anders as om vertroue te hê op gedurig veranderende omstandighede of feilbare mense (insluitend onsself).

Ons kan in geloof bid oor ons bekommernisse, en weet dat God ons pleite hoor. Paulus skryf só aan die gemeente in Filippi: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en julle sinne die wag hou in Christus Jesus.” – Filippense 4:6-7

Hennie Symington skryf in ‘n dagstukkie: “Paulus se lering oor gebed en bekommernis herinner ons aan Jesus se woorde in die Bergpredikasie oor angstigheid en God se voorsienigheid: ‘Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie … Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” – Matteus 6:25; 34.

“Wanneer jy bang en angstig is oor wat môre sal bring, is Paulus se raad om op jou knieë te gaan voor die Vader wat die hemel en die aarde in sy hand hou, en Hom te vra om jou deur sy Gees te versterk. Paulus beskryf hierdie krag nie as ‘n gewelddadige of aggressiewe krag wat om vergelding roep nie, maar as ‘n innerlike krag wat vrede uitstraal. In tye soos hierdie is dit nodig om die lengte en die diepte van jou geloof te beproef. En voluit in die volheid van God te leef.”

Hoe om stres te hanteer: Vyf maniere om jou geloof en stres te bestuur

Daar is verskeie maniere om jou stres te bestuur, juis omdat jy ‘n Christen is. Hier is vyf maniere waarop jy jou geloof kan inspan om stres te hanteer.

1. Erken die probleem

Wanneer stres maak dat jy nie gesonde menseverhoudinge kan handhaaf nie, is daar rede tot kommer. Of wanneer oormatige stres familieverhoudinge skaad of selfs jou verhouding met God belemmer, moet jy weet dat dit ‘n probleem raak. 

Stres jy só baie dat jy in ‘n ander mens verander? Dan is dit tyd om die probleem raak te sien vir wat dit is. Sodra jy besef dat stres ‘n groot probleem is, kan jy begin om ‘n oplossing daarvoor te vind.

2. Wees genadig met jouself en kry hulp

Geen mens kan die lewe se probleme alleen hanteer nie. God het ons juis gemaak om binne ‘n gemeenskap te leef. Meer nog, Hy het ons gemaak om in groot afhanklikheid van Hom te leef.

Dit is juis diegene wat weet hoe afhanklik hulle van God is, wat uitreik vir hulp. Jy hoef nie “sterk” te wees net omdat jy dink dit is hoe ‘n Christen behoort te wees nie.

Dit is raadsaam om stres as deel van ‘n groter geheel te sien. Dit affekteer jou gesondheid, jou leefstyl en jou geestelike toestand. Benader dus die probleem deur ‘n holistiese oplossing: Eet gesond, slaap genoeg en sorg dat jy jouself met ‘n geloofsgemeenskap omring. Doen ook jou deel om stil te word voor God.

As jy deur ‘n moeilike tyd gaan, gee jouself tyd om saam met die Here deur die proses te werk. Indien jy gereeld angstige episodes beleef of angsaanvalle kry, is dit raadsaam om ‘n dokter of psigiater te gaan sien.

3. Bid tot die Here

Soms voel dit asof bid die laaste ding is wat jy wil doen wanneer jy gespanne is. Maar dit is juis waar jou krag vandaan gaan kom. Wanneer jy jou hart in gebed tot God draai, kan Hy jou hart vul met dít wat jy nodig het om jou situasie te hanteer.

God is altyd bereid om te help: “God is vir ons ‘n skuilplek en ‘n bron van krag; as hulp in benoudheid is Hy altyd te vinde.” – Psalm 46:1

As gedagtes oor jou probleme keer dat jy kan fokus op jou gebed, probeer hierdie wenke vir aandagtig lewe.

4. Dink na oor God se Woord

Dit is in die Bybel waar jy God se beloftes gaan vind, en besef dat Hy jou werklik kan en wíl help! Dit is in die Bybel waar jy waarhede gaan vind wat jou moeilike situasie in perspektief gaan bring.

Wat sê die Woord? Hier is ‘n paar beloftes waaroor jy kan nadink en mediteer

Matteus 11:28: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” 

Johannes 14:27: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.” 

Psalm 4:9: “Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon.”

5. Spandeer tyd in lofprysing en aanbidding

Dit is nagenoeg onmoontlik om bekommerd te wees terwyl jy aan God lof toedig. Dit is nie so omdat jou probleme kleiner raak nie, maar dit is so omdat jy dan besef hoe groot God werklik is. Dat Hy, jou liefdevolle Vader, inderdaad groter as jou probleme is.

Die musiek van lofprysing help ook om ons siel te sus. Om te sing is boonop ‘n wonderlike uitlaatklep opsigself.

Wat sê die Bybel oor stres?

Die Bybel maak dit duidelik dat ons in ‘n wêreld leef wat ons kan laat stres. Want die Bybel erken die gebrokenheid waarin ons leef en dat ons allerhande spanning, uitdagings en probleme beleef. Jesus veral is deeglik hiervan bewus, en het met sy dissipels daaroor gepraat: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” – Johannes 16:33

Die Bybel maak dit ook duidelik dat ons, in ons swaarkry en swakheid, juis op God vertrou soos wat Hy dit wil hê. Toe Paulus oor sy swaarkry na God toe gaan, het hy só geskryf oor God se antwoord: “Sy antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.’ Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.” – 2 Korintiërs 12:9 

Die Bybel nooi ons uit om van ons stres ontslae te raak deur dit na die Here te neem: “Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg. Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie.” – Psalm 55:23

Die Bybel verseker ons ook dat ons deur die krag van die Heilige Gees elke moeilike situasie sal kan hanteer. Die Heilige Gees is vir ons ‘n vertroostende metgesel in elke stresvolle situasie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF