My lewe het op 14 September 2001 onherroeplik verander. Wat begin het as ’n normale dag in ons huishouding in die Bolandse dorp Wellington, sou in ’n tragedie eindig. Terwyl ons jongste dogter in haar kamer gelê en slaap het, en ons oudste dogter die bure se kinders opgepas het, het my destydse man Johan Joubert ons negejarige seuntjie Johan geskiet. Daarna het hy sy eie lewe geneem.
Johan sr is op die toneel dood verklaar, maar ons seun het geleef en ’n ambulans het met hom na Tygerberg-hospitaal gejaag. Ek onthou hoe ek saam met my suster buite die trauma-eenheid se deur gestaan en bid het dat God my seun se lewe spaar.
Terselfdertyd het ’n groepie mense gewag vir sy korneas en beenmurg indien hy sou sterf.
Ek het ons seuntjie se hand vasgehou … totdat dit verslap het. Daardie oggend, kwart oor sewe, het hy gesterf. Ek wou so graag sy lyfie ’n laaste keer nog teen my vasdruk …
Ek het besluit om my kind se beenmurg en korneas te skenk sodat ander mense deur hierdie tragedie gehelp kon word. Al het my seun se lewe tot ’n einde gekom, sou iemand anders s’n weer kon begin.
My hart was stukkend, maar ek was tevrede dat God nie hiérdie keer my gebede verhoor het nie. Dat Hy in beheer is. Daar het ’n kalmte oor my gekom.
Ek het die familie in kennis gestel. En ek het geglo my dogters het dit nodig dat ek sterk bly.
Genesing is ’n báie lang pad. Soms is daar vrae sonder antwoorde, daar is woede, ’n voortdurende gevoel van die onregverdigheid van dit alles. Maar dit is dan dat ek weet God is getrou. Dat ons kinders nie ons eiendom is nie. Dat ons op hierdie reis wat ons “lewe” noem slegs aan mekaar geleen is.
Dis nou 21 jaar later, en ek het my eksman vergewe vir die onmenslike daad wat hy gepleeg het. Want God is genadig, Hy vergewe ons sondes. En vergifnis maak ons vry.
Was dit maklik?
Nee, maar as ons God aanbid en na aan Hom leef, is dit moontlik. Sonder my Skepper sou ek dit nie kon regkry nie. Ek ervaar steeds God se genade, elke dag, en ek weet dat Hy my deur al die moeilike tye en al die swaarkry heen dra.
Ek wou hierdie storie oorvertel sodat ander mense, wat dalk ook deur sulke diep waters gaan, hoop kan hê. Dat hulle kan wéét God straf ons nie, want Hy is ’n God van liefde.
- Kyk die openhartige video-onderhoud waarin Anel daardie tragiese aand, 14 September 2001, in herinnering roep. Sy vertel ook meer oor haar man se drankprobleem, wat sy reken waarskynlik tot sy ondenkbare optrede aanleiding gegee het. Sy bring ook ’n boodskap van hoop aan kykers deur te getuig dat daar wel genesing is van soveel trauma en seerkry, al is dit ná ’n baie lang pad.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.