Ons het onlangs ’n Saterdag op vriende se plaas deurgebring. Die oggend is met plaaswerk gevul, en ons het gehelp plant en die kinders het vir die kalfies melk gegee. Oral was daar besige hande. Teen middagete het ons almal saam om die tafel gesit, moeg maar tevrede.
Terwyl die son begin sak, het die dag se hoogtepunt aangebreek: ’n sokkerwedstryd. En nie sommer énige sokkerwedstryd nie; dit was die pappas teen die kinders.
Die spanname is gekies, die doelwagters aangewys en die spelers het hul plek op die veld ingeneem. Die kinders én die pappas was baie ernstig oor die wedstryd.
Die pappas het gou gewys dat hulle járe se ondervinding het, en dit was nie lank nie of hulle het ’n doel aangeteken. Die kinders se skouers het so effens gehang. Hulle het hard probeer, maar dit het gelyk asof die grootmense net te sterk is.
Toe verander die hele dinamiek: Die pappas het begin stadiger beweeg. Nie meer so flink verdedig nie. En daar het gapings ontstaan waardeur die kinders die bal gestuur het. Kort voor lank het een van die kleintjies die bal reguit in die net geskop.
Nog twee doele het gevolg, maar toe het die pappas verseker dat die telling gelykop is. En daar het dit gebly: 2-2.
LEES OOK: ‘God ís goed’ – boer beaam sy vrou se woorde ná haar dood
Die wedstryd is toe met strafdoele beslis. Langs die kantlyn is daar gejil en entoesiasties aangemoedig. En die jonges het gewen!
Terwyl ek daar gestaan en kyk het hoe die kinders hul oorwinning vier, het ek gedink aan ’n gesprek wat ek nie lank tevore nie met my seuns gehad het.
My jongste het my gevra: “Mamma, as ek teen Liewe Jesus resies hardloop, sal Hy wen?”
Maar voordat ek kon antwoord, het sy ouer broer uitgeroep: “Ja! Vir seker!”
Ek het gesê: “Nee, ek dink nie so nie. Ek dink Liewe Jesus is so lief vir jou dat Hy jou sal laat wen.”
My seuns het my verbaas aangekyk. “Dis vreemd,” het die oudste gesê.
God se koninkryk werk anders
En ek moes saamstem. Dit ís vreemd. Dis nie hoe ons gewoond is om oor wen en verloor te dink nie. Ons bewonder immers die vinnigste, die sterkste en die suksesvolste mense. Ons leer van kleins af dat die doel in die lewe is om eerste te eindig.
Maar Jesus het dinge anders gesien. Daarom lees ons in Markus 10:31 hoe Hy sê: “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees en wat laaste is, eerste.” God se koninkryk werk anders as ons idees. Ons vier prestasie; Jesus vier nederigheid. Ons probeer so hoog moontlik klim; Jesus vra hoe diep is ons bereid om te buig ten einde ander te dien. Ons streef daarna om ’n wenner te wees; Jesus wys ons die pad van selfopofferende liefde.
My oudste het later iets hiervan gesnap en gesê: “Dis soos wanneer Pappa ons partykeer laat wen.”
“Is nie!” het die jongste heftig geprotesteer. Hy is nog nie heeltemal gereed om te glo dat sy pa soms opsetlik stadiger hardloop of ’n doelskop aspris mis nie. Maar elke ouer, en soms die ouer kinders, verstaan daardie waarheid.
Waar liefde die dryfkrag is
Wanneer ’n pa vir sy kind plek maak om te presteer, doen hy dit nie omdat hy swak is nie. Inteendeel, hy doen dit omdat hy sterk genoeg is om nie sy eie vermoëns te wil bewys nie. Hy geniet dit om sy kind se vreugde te sien en aan dié se selfvertroue te help bou. Sy liefde het tot gevolg dat hy bereid is om sy eie aansien opsy te skuif sodat sy kind kan groei.
Deur Jesus se woorde hier bo kry ons ’n kykie in God se hart: Jesus het nie aarde toe gekom om sy mag te vertoon nie; Hy het gekom as ’n nederige mens. Hy het sy dae met tollenaars en sondaars deurgebring, en tussen siekes en uitgeworpenes. Hy het mense se voete gewas. Hy het kinders op sy skoot getel. Uiteindelik het Hy sy lewe aan ’n kruis geoffer.
Waarom het Hy dit gedoen?
Omdat liefde die dryfkrag is agter alles wat Hy doen. Dis dieselfde soort liefde wat ’n pa laat glimlag wanneer sy kind die wendoel aanteken. Ons Vader verheug Hom daarin om sy kinders te seën. Hy geniet dit om goeie gawes aan hulle te gee. Daarom sê Jesus ook: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader in die hemele goeie dinge gee vir hulle wat Hom vra!” (Matt 7:11).
Miskien is dít die rede waarom God se liefde vir ons so vreemd lyk: Dit pas nie by dié wêreld se reëls nie. Sy koninkryk is “onderstebo” en “agterstevoor”. In sy koninkryk word grootheid aan diensbaarheid gemeet, rykdom aan genade, en oorwinning aan liefde.
En soms lyk daardie liefde kompleet soos ’n pa wat ’n bal links verby die doelhok skop. Sodat sy kind kan weet hoe dit voel om te wen.
- Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.






















