Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Noah kon nog geleef het …’ – ma maak hart oop ná vroedvrou se wandade

Baba Noah het weens die bedenklike optrede van die vroedvrou Yolandé Maritz Fouchee gesterf. Klein Noah se ma sê: “Ek was kwaad en daar was haat in my hart. Maar ná die hofsaak afgehandel is, het daar tog vrede gekom.”

“Van God verlate.”

Dit is hoe Alysia von Kloëg-Scholtz (34) die laaste ure van haar eersgeborene se lewe beskryf.  “Ek het hom in my arms gehou terwyl ek ’n ou wiegeliedjie vir hom gesing het. Met die woorde van ‘Doedoe, my baba’ het sy uurglas begin uitloop.

“Noah was slegs nege dae oud toe hy sy ogies finaal gesluit het.”

Al die opgewondenheid en die heerlike vooruitsig van ’n nuwe lyfie in die huis was verpletter.

‘Die wete dat ek nooit my kind sou terugkry nie’

Aanvanklik het Alysia, ’n datavaslegger in Middelburg, haarself kwalik geneem omdat sy Yolandé Maritz Fouchee (50) as vroedvrou gekies het. “Maar dit was tog ’n ingeligte besluit!

“Eers ’n jaar ná Noah se dood het ek besef dat dit haar skuld was. Ek het in die loop van my swangerskap soms vermoed dat dinge nie pluis is nie, maar omdat ek geen mediese agtergrond het nie, het ek haar oordeel vertrou.”

Fouchee (50) was direk betrokke by Noah se dood, het die hooggeregshof bevind. Ná ’n hofsaak wat ongeveer ’n jaar geduur het, is sy op 14 aanklagte van poging tot moord skuldig bevind en tot 23 jaar gevangenisstraf gevonnis.

“Ek het nie gedink die saak sou by die hooggeregshof gaan draai nie,” sê Alysia. “Ek begin nou eers die trauma beleef van die pynvolle ondersoek ná Noah se dood. Dit was ’n geveg om geregtigheid. Ek was kwaad en daar was haat in my hart.

“Ná die saak afgehandel is, het daar tog vrede gekom, ten spyte van die wete dat ek nooit my kind sou terugkry nie.”

‘Dié soort leuens het gemaklik oor haar lippe gekom’

Alysia vertel dat sy in 2018 besluit het om swanger te raak. Sy het opgewonde en met groot verwagting by verskeie “mamma-groepe” na ’n goeie vroedvrou begin soek. Die meerderheid vroue het Yolandé aanbeveel. Daar was geen rooi ligte nie. 

LEES OOK: Vyf jaar ná Zara se selfdood: ‘Jy is met ’n pyl geskiet – en dit bly seer’

“Ek en my ma het haar uitdruklik gevra of daar ooit babas dood is of gestrem gelaat is onder haar sorg. Sy het dit ten sterkste ontken. Sy was so oortuigend.

“Intussen het ek elke maand ’n sonar-ondersoek laat doen. Ons het op die skerm gesien dat Noah op 25 weke die grootte van ’n 20 weke oue fetus het. Dié agterstand het deur die res van die swangerskap onveranderd gebly.

“Dit was vir ons die eerste rooi lig. Yolandé het ons egter verseker dat dit normaal was omdat die ouers albei klein van postuur is. Dit het nie vir my sin gemaak nie. 

“Ek het haar gevra hoekom die baba nie beweeg nie, en sy het geantwoord dat sommige babas maar so stil is. Hierdie opmerking was die tweede rooi lig.

“Met my 34 weke-besoek het ek haar weer gevra hoekom my baba net na die een kant toe lê. Weer eens is ek verseker dat dit normaal is. Maar ek het opgelet dat sy lyfie minder ontwikkel was in vergelyking met ander babas op 34 weke. Yolandé het weer gesê dat die kind se ouers skraal is, en dat dit die rede is.

“Dié soort leuens het gemaklik oor haar lippe gekom, en die rooi ligte het al hoe meer geword.”

Aborsiemedikasie

Op 39 weke het Alysia se water gebreek.

“Met my aankoms by Yolandé het sy vir die eerste keer die hartmonitor gebruik. Sy het ook bevestig dat ek twee sentimeter ontsluit was. Sy sal my Rescue Remedy gee, het sy gesê, om met die angs te help. En ek het gesluk.

“Maar in werklikheid was dit cytotec, aborsiemedikasie.

“Sy het my tien minute later weer ondersoek, en gesê dat ek agt sentimeter ontsluit was. Dit was vir my vreemd dat ek binne tien minute so ver kon ontsluit. Ek was onrustig, maar toe was dit onmoontlik om enigiets daaraan te doen.”

Geen geluid nie

Ná ’n uitdagende geboorteproses het Noah uiteindelik in die wêreld gekom. Hy het nie gehuil nie. Yolandé het met nog ’n verskoning gereed gestaan: Die baba voel hy is steeds in die baarmoeder, en dit sal sowat ’n minuut duur voor hy begin huil.

’n Uur het verloop, en daar het steeds geen geluid gekom nie.

Alysia onthou: ”Ons het die punt bereik waar ons na ’n hospitaal wou gaan. Yolandé wou nie toelaat dat ons met Noah ry sonder ’n gepaste ‘noonoo pie’ nie. Dis ’n spesiale koekon-kombers.

“Sy het gesê sy sal wel die ambulans ontbied indien ons haar dadelik R3 000 betaal. My ouers het begin rondbel om geld in die hande te kry. Steeds het Noah nie gehuil nie.”

Noah is toe per ambulans na die hospitaal geneem. En Alysia het desperaat bly soek na antwoorde. 

‘Daar sal altyd bitterheid in my hart wees’

Op Dag 9, toe Alysia-hulle klein Noah besoek, het ’n vrouedokter hulle na haar kantoor ontbied. Sy het hulle meegedeel dat daar ná verskeie toetse vasgestel is dat Noah geen breinfunksie het nie. Die medici wou graag dié geval vir navorsing dokumenteer, en die nodige vorms is onderteken.

Sy dink terug: “Om twaalfuur daardie dag, 12 April 2019, is die lewensondersteunende masjiene afgeskakel. Ek het hom in my arms gehou en vir hom gesing totdat hy gesterf het, vyf ure later, steeds in my arms.

“Noah is veras, en daar was geen seremonie nie. Ek was nog nie daarvoor gereed nie.”

Steeds het Alysia bly wonder of Noah se dood werklik Yolandé se skuld is. Die onsekerheid, sê sy, het haar opgevreet. “Vandag het ek gemoedsrus omdat dit nie iets was wat ek gedoen het nie. Tog berou ek die besluit om Yolandé te gekies het. Boosheid kom soms in mooi pakkies.

“Noah kon geleef het, en daarom sal daar altyd bitterheid in my hart wees. Maar ’n mens kan tog nie met bitterheid leef nie …”

Vandag is Alysia die trotse Mamma van die sesjarige Lily. Noah sou nou sewe gewees het.

‘Ek glo in God, maar …’

“Ek glo in God,” sê sy, “maar ek het nog ’n lang reis om af te lê voordat ek weer die geloofspad kan aandurf. Op ’n dag het ’n leraar aan my gesê dat Noah gesterf het omdat ek nie getroud was nie. Dit het diep seergemaak.

“Maar ek sal weer my weg vind. Ek stap nou ’n pad met ’n goeie leraar om al die stukkend weg te pak, om uiteindelik weer die regte koers te kry. Alles is in God se hande.

“Ek het intussen by ’n gemeente aangesluit en bied selfs Sondagskool aan. Ek geniet dit om te beleef hoe maklik die kinders glo in dinge wat vir my steeds moeilik is.

“Ek weet egter dis ’n heilige reis. En ek sien weer die klein dingetjies raak wat ek sewe jaar lank gemis het.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►