Wanneer Lindie Strydom en haar 19-jarige dogter Nina by die pragtige Blaauwklippen-landgoed naby Stellenbosch opdaag, kan ’n mens nie anders as om twee keer na hierdie twee mooi mense te kyk nie. Gesels ’n rukkie met hulle, en jy kom agter dis ’n ma-en-dogter-duo wat iets weerspieël wat nie maklik in woorde vasgevang kan word nie.
Lindie Strydom straal wanneer sy by haar dogter is. Maar dis nie net oor Nina nie; wanneer sy oor haar kinders praat, is daar verwondering oor wie en wat hulle besig is om te word. In sulke oomblikke is sy gestroop van titels en rolle, en die kollig is vergete. Dan is sy bloot ma.
Met haar terugkeer na die televisiebedryf het Lindie opnuut ’n bekende gesig vir Suid-Afrikaanse televisiekykers geword. Sy verskyn die afgelope ruk in die sepie Suidooster, en ná 16 jaar weg van die kamera is hierdie nuwe seisoen vir haar iets besonders.
Die kinders is nou klaar met skool, en haar lewe se ritme het verander. Sy geniet haar nuwe roetine, sê sy, al beteken dit vroeg opstaan en nog voor sonop op die Suidooster-stel wees.
“Dit voel eintlik soos vakansie: Al wat ek doen, is om iemand anders se woorde te leer,” lag sy.
Maar daar skuil meer agter dié lighartige opmerking. Ná jare waartydens haar kinders haar prioriteit was en sy by elke skoolaktiwiteit, wedstryd en geleentheid teenwoordig was, voel dié seisoen anders. Haar tyd, verpligtinge en selfs die normale ritme tuis lyk nou anders.
Sy vertel: “Ek hou aan beweeg – letterlik! Ek sal gaan draf en doelbewus opkyk na al die mooi om my. My draftyd is ook gewoonlik bidtyd. Dis asof my ore oper is wanneer my bene beweeg. Asof ek hardop vir myself sê: ‘Die Here weet wat Hy doen; dit help nie ek bekommer my oor hierdie of daardie ding nie.’”
Die jong vrou s’n
Nina, talentvol in eie reg, het ook nou ’n nuwe lewensfase betree. Sy studeer in bedryfsielkunde op Stellenbosch, en wanneer sy oor haar lewe as student praat, glimlag sy breed.
LEES OOK: ‘Ek het skielik besef ek was so arm soos ’n geestelike boemelaar,’ vertel Danie Botha
Sy sê sy mis wel sekere dinge van haar skoollewe: die saamwees, die energie. Maar nie die klaskamer nie.
Dis ’n jong vrou dié wat weet sy is nog besig om te ontdek wie sy is. “Ek dink die meeste jong mense is nog daarmee besig. En in hierdie ontdekkingsreis is daar baie onsekerhede en word baie foute gemaak.”
Dis juis hier waar haar verstaan van genade vorm kry. “Jong mense, ons, het baie genade nodig, met mekaar en met onsself. Ons moet besef foute maak is deel van die proses.”
In ’n wêreld waar voorkoms en prestasie dikwels die maatstaf is, het Nina ’n nugter siening oor identiteit. Sy erken die druk, maar haar perspektief wys op iets wat dieper lê. “Dit wat ek het om te bied is meer as bloot allerlei oppervlakkige eienskappe.”
Dit het nie toevallig so gekom nie. Sy het immers grootgeword in ’n huis waar hul ouers hulle geleer het dat God deel is van alles in hul lewe, groot én klein. “Vir Hom is daar nie klein of groot vrae nie.”
Haar ma sluit hierby aan: “Nina vra regtig goeie vrae, ek dink dis ook kenmerkend van haar generasie. Hulle doen nie dinge bloot omdat dit nog altyd so gedoen is nie; hulle wil verstaan waarom dit so is. Ek bid dat sy dit nooit sal verloor nie. Dat sy sal weet die Here skrik nie vir ons vrae nie!”
Nina se toekoms hou, wat haar betref, ’n verskeidenheid moontlikhede in. Sy het reeds begin naam maak in die vermaaklikheidswêreld. Sy speel, byvoorbeeld, die rol van Jessica in die nuwe kykNET-reeks Beter as Gister, wat in Junie 2026 afskop.
Maar haar drome is nie tot een koers beperk nie. “Ek wil ’n sinvolle lewe leef,” sê sy eenvoudig.
En hoe dit sal lyk, kan verander. Maar die kern bly dieselfde: om met mense te werk, om iets te doen wat betekenis het, en om vreugde daarin te vind.
Sy weet reeds dat teleurstelling deel van die pad is, én drome wat nie ’n werklikheid word nie en planne wat verander.
“Dis ’n bitter pil om te sluk as ’n droom vervaag,” sê sy, “maar soveel kere was dié soort ongelukkigheid baie effentjies wanneer jy agterkom wat God se éintlike plan was.”
‘Op soek na God se hart’
Vir Lindie-die-ma begin alles by een eenvoudige maar allesomvattende waarheid: Haar kinders moet weet hoe lief God hulle het. “Mag Nina allereers weet dat God haar eerste liefgehad het. En mag dit haar so aan die hart gryp dat sy met haar hele lewe daarop sal antwoord.”
Dié ma merk dit reeds op in haar dogter se lewe. Sy vertel hoe Nina mense raaksien wat maklik misgekyk word. Hoe sy doelbewus uitreik na dié wat eenkant staan. Hoe Nina-op-die-verhoog nie die Nina is wat eintlik so ’n bietjie menssku kan wees nie, en hoe sy dit oorkom het.
Nina sê dis belangrik om aan te pas. “My ma het my geleer dat jou identiteit nie vasgemessel is nie. Dis gegrond in geloof, ja, maar jy moet groei en ontwikkel. Sy het wel gesê dat jy slegs een naam het, en dat jy hom tog nie met ’n plank moet slaan nie!”
Lindie sê haar eie verstaan van genade het met verloop van tyd verdiep. Dié insig het nie in een groot moment gekom nie, maar in etlike kleineres. Sy sê dit is iets wat al hoe meer deel word van die manier waarop sy na mense kyk.
In die dramawêreld praat hulle van “teks en subteks”, oftewel dit wat gesê word en dit wat agter die woorde lê. Dieselfde geld die werklike lewe, sê sy. Mense se woorde en optrede kom vanuit bepaalde omstandighede.
Hierdie besef het haar denke verander. En in plaas daarvan om te reageer op dit wat bloot op die oppervlak lê, probeer sy deesdae dieper kyk. Sy wil verstaan hoe ’n ander mens se storie lyk.
“Vir my is die idee van bekering en van ons geloofspad op Jesus se voetspoor iets wat dinamies is. Ek het nog altyd gesê ‘op soek na God se hart’ is die opskrif van my lewe.
“Ek het altyd gedink jy bereik die eindpunt wanneer jy jou hart vir die Here gee. Toe ontdek ek dat dit bloot die begin van die avontuur is waartydens ons meer en meer van God se hart ontdek.
“Ons ontdek sy hart in sy Woord, in ons verhouding met Hom. Én namate ons Jesus volg, en doen wat ons Hom sien doen.”
Genade, en groei
In die Strydom-huis is genade nie slegs ’n idee nie; dit word uitgeleef. En dikwels baie prakties. Lindie vertel van ’n tyd toe alles net te veel word het – te veel kere wat roosters bots, te veel laat aande, te veel verpligtinge.
En toe, amper uit die bloute, het sy ’n besluit geneem: Nou is dit “genadeweek”.
Dit was ’n week waarin hulle sagter met mekaar gewerk het. Waar foute nie onmiddellik reggestel is nie. Waar daar meer ruimte vir asemhaal was.
Nee, die druk het nie verdwyn nie, maar dit het verander: In plaas daarvan dat dit die afsonderlike gesinslede intens geraak het, is dit as ’t ware geabsorbeer. En dit het wonderlike gevolge gehad.
Lindie praat graag oor die feit dat sy steeds leer, steeds groei en steeds ontdek. In dié proses speel haar kinders ’n groot rol: hul vrae, hul perspektiewe. Die manier waarop hulle na die wêreld kyk.
“Ons is reeds deur die lewe se ‘oppe en affe’, vertel sy, “ons weet van wen en verloor, van verlief raak, van ’n hart wat breek, van teleurstellings. Maar om nou te sien hoe jou kinders hierdie dinge deurwerk, leer jou baie. Ek wil nog eendag ’n boek skryf oor al die lesse wat my man en my kinders my geleer het.”
Die goue draad
Teen die einde van dié dag, toe die laaste foto’s geneem word, is een ding duidelik: Dié ma-dogter-verhouding is nie op perfeksie gebou nie. Maar hier leer ken jy genade, ’n genade wat sê jy mág groei, jy mág foute maak.
Lindie vertel iets hiervan: “Dis die genade van almal wat vroegoggend by die see gaan stap, met ’n boerie en ’n hashbrown of ’n fles huiskoffie. Dis om Uno te speel, dis die lekker struwelinge in die motor oor wie die DJ mag wees en in die middel moet sit.
“Die foto’s wat ons in sulke dae neem, is dikwels uit fokus, en selfs ons mooiste selfie-pogings het niks besonders in die agtergrond nie. Maar ons is saam, en dit bly ’n groot genade.”
Ook vir Nina is dit die “gewoon” van hul saamwees wat haar anker. “Al lyk my ma hoe mooi in ’n rok en hakke, het sy steeds ’n tomboy-geneigdheid, met haar tekkies plat op die aarde. Ek sien haar in myself wanneer ek saam met my vriende touchies speel.”
Vir Lindie en Nina is “genade” nie bloot ’n woord of ’n tema nie; dit is die goue draad wat deur hul lewe loop. Miskien is dit die rede waarom hul storie so met elke ander gesin s’n resoneer: Dis ’n ma wat haar bes probeer, ’n dogter wat besig is om haar eie pad te vind. En ’n God wat in elkeen se storie teenwoordig is.
En dalk is dit die uitnodiging aan elkeen van ons: Om weer te glo dat genade genoeg is. Want dis nie perfeksie wat stories mooi maak nie; dis genade.



















