Toe haar 25-jarige seun skielik na sy asem snak en in ondraaglike pyn verkeer, het Anneke Agenbag besef iets is ernstig verkeerd. Min het sy geweet God was reeds lank voor daardie nag besig om die legkaartstukke vir sy redding in plek te sit.
Ons woon op Onrusrivier in die Wes-Kaap, ’n kusdorpie naby Hermanus. Op ’n Maandagaand in Mei vanjaar was ons seun Tinouw skielik kortasem, en het ernstige pyn beleef. Ek het hom probeer bemoedig, langs sy bed gebid en gewaak, en later lofliedere begin sing. Terwyl hy sóveel pyn verduur, het hy met ’n flou glimlaggie gevra ek moet eerder bid. Ek is nie regtig met ’n sangstem geseën nie.
Toe my woorde opraak, het ek opgekyk na die Here en gebid: “Here, ek weet nie meer wat om te bid nie, help asseblief!”
Net daar beleef ek iets besonders: Dit was nie ’n hoorbare stem nie, maar diep binne my hart hoor ek die Here sê: “Dit gaan eers sleg gaan, daarna sal dit weer goed gaan.”
Ek het dit nie verstaan nie, maar ek het gewéét dit kom van Hom.
Toe begin Tinouw verskriklik opgooi, emmers vol.
Noodhartchirurgie
Kort nadat ek hierdie lang seun van ons na die naaste hospitaal in Hermanus gejaag het, is hy dringend na Somerset-Wes se privaathospitaal gehaas vir noodhartchirurgie. Hy moes ’n metaalhartklep kry plus ’n gedeelte van die aorta-aneurisme wat geskeur het, moes herstel word.
LEES OOK: ‘God ís goed’ – boer beaam sy vrou se woorde ná haar dood
Terwyl my man Theo saam met Tinouw in die ambulans gery het, het ek, ons dogter Ciske en vriende agterna gery. Op so ’n nag voel die 80 km Somerset-Wes toe báie ver. Hoewel ek gelees het dat die oorlewingsyfer vir pasiënte wie se aortas skeur, uiters laag is, klou ek heeltyd vas aan God se stem wat beloof het: “Dit gaan eers sleg gaan, daarna sal dit weer goed gaan.”

Dokters en verpleegpersoneel het later vertel hoe intens en kritiek die operasie was. Die grootste uitdaging was die herstel van die beskadigde aar. Met elke steek het nuwe bloeding ontstaan, amper soos ’n ballon wat aanhou lek, het hulle gesê.
Dat Tinouw lewend uit die teater gekom het, was reeds ’n wonderwerk.
Intussen het ’n kollega ’n gebedsgroep vir Tinouw gestig en hieruit het duisende gebede vir hom opgegaan. Selfs vreemdelinge het vir hom gebid.
In hierdie tyd was ons oorweldig deur die liefde van ons Hemelse Vader. Hy het ons deur hierdie storm gedra en vir ons vrede gegee wat alle verstand te bowe gaan.
Verder het die deernis en ondersteuning van mediese personeellede, vriende en vreemdes ons deurentyd gedra. Ons gee alle eer en heerlikheid hiervoor aan God, ons Vader.
God se legkaartstukke
Twee weke voor Tinouw se aneurisme het ek sterk beleef dat die Here my voorberei dat iets groots in ons lewe op pad is en dat ons ’n moeilike week sou beleef. ’n Week voor die hele gebeurtenis, terwyl ons as gesin na die televisiereeks The Chosen gekyk het, het die Here dit vir my duidelik gemaak dat die moeilikheid wat voorlê, oor Tinouw sou gaan. Ek het dadelik begin bid en vir Jesus gevra om sy lewe te spaar, want ek weet hoe lief Tinouw vir die Here is.
Daardie moeilike dae van 18/19 Mei, terwyl ek onophoudelik vir hom gebid het, was die Here se woorde in my gemoed die bevestiging wat ek benodig het dat ons onmiddellik hospitaal toe moes gaan.
Voeg hierby die uitstekende diens van die Hermanusdokters, die ambulans wat vinnig beskikbaar was en die suksesvolle operasie, voel dit soos legkaartstukke wat netjies uitgepak was om Tinouw se lewe te red.
Die belangrikste legkaartstuk wat Hy voorsien het, was die dokters wat verlede jaar opgemerk het dat Tinouw se aorta effens verwyd was. Omdat hy so jonk is, was dit nie kommerwekkend nie, dit moes bloot dopgehou word. Maar daardie aand in Mei, toe vinnige diagnoses uiters belangrik was, het hierdie voorafkennis ’n onmiddellike en korrekte diagnose moontlik gemaak.
Ook hierin het die Here voorsien.
Sedert Tinouw 15 dae ná sy operasie uit die hospitaal ontslaan is en huis toe kon gaan, leef ek en my gesin in groot dankbaarheid teenoor die Here vir hierdie groot wonderwerk. Tinouw is steeds in die rehabilitasieproses, maar hy maak goeie vordering.
Ons is dankbaar vir sy genade, liefde en trou, vir alle ondersteuning van mense binne ons dorp en daarbuite.
Daarom probeer ons nou om op elke manier te getuig van sy genade en voorsiening in ons lewe. Alle eer aan God vir hierdie wonderwerk.
En hoewel ons dit voorheen geweet het, het ons nou Lukas 1:37 belééf: “Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.






















