My twee seuntjies sit en speel met hul karretjies. Alles verloop vreedsaam – totdat my jongste per ongeluk sy ouer boetie omstamp. Skielik is daar trane en hulle skree op mekaar.
Ek moet skeidsregter speel om sake te probeer beredder. Ek neem my jongste eenkant toe en sê hy moet jammer sê. Hy weier. “Want dit was net ’n ongeluk!”
Ek verduidelik dat ’n mens soms per ongeluk iemand se gevoelens kan seermaak, maar dat jy dan steeds moet jammer sê.
Toe stap hy nader, ’n groot frons op sy gesig. “Jammer!” sê hy. Nors.
LEES OOK: Die fontein van lewende water
Sy broer hoor die stemtoon en sien die liggaamstaal, en hy antwoord ewe bruusk: “Ugh!”
Maar kinders vergeet maklik, en gou-gou speel die twee weer.
Ek dink onwillekeurig aan die apostel se woorde: “Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word” (Jak 5:16).
En ek besef dis ook vir grootmense moeilik om verskoning te vra wanneer ons iemand per ongeluk seergemaak het. Ons sê wel soms jammer, maar dan met ’n string verduidelikings om onsself en ons optrede te probeer regverdig. Ons stemtoon dra dan ook dikwels die boodskap dat ons dié verskoning nie werklik bedoel nie.
En volwassenes is anders as kinders: Ons vergeet nie so gou en so maklik nie. En wanneer die ongelukkigheid nie opgelos word nie, vind daar nie genesing plaas nie. Die krapperigheid bly.
Wanneer ons ander mense se gevoelens ontken of dit probeer “kleiner” maak as wat dit is, bly die saak onafgehandel. Ja, ons is dikwels kinderagtig, onvolwasse en selfsugtig. Ons hou daarvan om slagoffer te speel en terselfdertyd ons aandeel in die onmin te ontken.
Dis beslis nie wat God wil hê nie. Hy is anders. Hoor dan: “Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu” (Jes 1:18). En Jesus het gesê dat ons onsself moet verloën as ons sy volgelinge wil wees.
Jammer sê is soos salf aan die ander se wonde
Gelukkig is dit nooit te laat om jammer te sê nie. Ons kan altyd die ongelukkige gebeure met mekaar bespreek en ons kan wys dat ons probeer verstaan. En ons kan opregte berou toon, sonder om aan te kla of te verdedig. Ons kan salf aan die ander se wonde smeer deur raak te sien, of minstens te erken, dat ons hulle seergemaak het.
As ons ons verhoudings met eerlikheid benader en maklik om verskoning vra, kry ons dikwels ’n tweede kans en kan ons leer om sulke situasies voortaan beter te hanteer. Ons leer om met ’n oop hart te luister na wat die ander sê, om te vra wat hulle nodig het, om te probeer verstaan hoe hulle voel.
Genesing impliseer dikwels ook dat ons iets daadwerkliks moet doen om die verhouding te herstel. Ja, soms is woorde te min, en dan moet ons wýs dat ons jammer is. Want jammer sê mag nie bloot goedkoop woorde wees nie, nie ’n manier om ons eie gewete te sus “omdat dit van goeie Christene verwag word om jammer te sê nie”. Uiteindelik word sulke geveinsdheid dan niks minder nie as ’n manier om op die ander neer te sien.
Die Heilige Gees sal jou wys
Om werklik om verskoning te vra het ten doel om genesing te bewerkstellig. Dit beteken die fokus van ons jammer sê is nie op onsself gerig nie, maar op die verontregte een, op die mens wat seergekry het. En dit vereis, allereers, respek.
Nee, dis nie eenvoudig nie. Vra daarom die Here se hulp hiermee. En neem jou voor om te luister wat Hy vir jou sê en om te vra wat Hy wil hê jy moet doen. Dalk is die gewenste optrede iets so eenvoudig soos ’n briefie, ’n oproep, ’n WhatsApp-boodskap. Dalk is ’n besoekie die regte ding om te doen, of ’n geskenk, of bloot ’n opregte verskoning. Die Heilige Gees sal jou wys wat die regte tyd, die regte plek en die regte woorde is. Wag op Hom.
Om jammer te sê wys uiteindelik dat ons dankbaar is vir die genade wat ons ontvang het. Jammer sê is dus ’n manier om te sê “dankie, Here!”. Sulke dankbaarheid maak ons hart en ons woorde sag. Hoor wat skryf Paulus: “Laat vaar alle bitterheid en woede en gramskap en geskreeu en gelaster, saam met elke vorm van kwaad. Wees goedgesind teenoor mekaar, met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in Christus julle ook vergewe het” (Ef 4:31-32).
Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.