Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘God is groter as enige tragedie’ – sangeres ná ongeluk

Die sangeres Heidi Fourie sê dat sy waardevolle lesse geleer het deur die slegte dinge wat met haar gebeur het. Sy verwys na haar moeilike kinderjare, ’n dispuut met ’n platemaatskappy en ’n ernstige ongeluk. Dit alles het haar geleer hoe om weer op te staan.

Dit was ’n gewone wintersdag in Junie 2024. Die 31-jarige sangeres en grimeerkunstenaar Heidi Fourie het pas op haar huis se dak geklim om ’n foto te neem.

“Dit moes ’n foto wees soos een wat Bobby van Jaarsveld geneem het. My man Henk het gesê as ek daar val, is ek dood. Maar ek is ’n impulsiewe mens en het nie geluister nie.”

Heidi het op ’n plastiekplaat getrap en 2,5 meter ver geval. Sy het vier ribbes gebreek en haar longe het platgeval. Dit sou drie maande duur voordat sy sou herstel.

‘God bring my tot stilstand’

Die ongeluk het ’n dramatiese impak op haar lewe gemaak. Die eerste paar weke ná die val was bitter moeilik. Die pyn was ondraaglik. En, sê sy, haar gees was moeg. Terwyl sy in die hospitaal aangesterk het, het haar twee seuntjies, Hendré (4½) en Luhan (3), siek geword. Eers het hulle albei met ’n hoë koors gesukkel en later het hulle tekens van skeidingsangs getoon.

Omdat Heidi nie by die huis kon wees om hulle te versorg nie, was sy vol angs en skuldgevoelens. Sy het haarself gekasty omdat sy nie na Henk geluister het nie.

LEES OOK: Vrou glo God het haar tot stilstand met ongeluk geruk: ‘Ek kon sonder vrede of vreugde gesterf het’

Maar iewers tussen die pyn en selfverwyt deur het sy ’n keuse gemaak: “Ek het besluit om voortaan te dink voordat ek doen. Ek het besef dat God my tot stilstand gebring het sodat ek Hom weer kon hoor.

“Ek het ook besluit om na goeie raad te luister,” glimlag sy.

Swaar jare, en ’n wonderlike ontdekking

Heidi se musiekloopbaan het vroeg reeds begin. Sy vertel: “My kinderjare was nie altyd maklik nie. Ek is een van ’n tweeling. Ons het op Zastron grootgeword. My ander helfte is my boetie, Hennie Pitout.”

Hul ouers is geskei toe hulle nog baie jonk was en daarna het Heidi by haar pa gewoon.

Sy onthou ook kosbare tye saam met haar ma. “Ek het my ma min gesien, maar elke keer as ek by haar was, was dit vir my die lekkerste tyd denkbaar. Van kleins af het sy vir my CD’s gespeel en die liedjies se woorde uitgedruk. Dit is hoe ek my liefde vir musiek ontdek het.”

Haar pa het vir haar ’n kitaar gekoop toe sy 17 was en Heidi kon ná die eerste les reeds dié instrument bespeel. Sy het later begin sing om ’n ekstra inkomste te verdien, maar nooit gedink dat dit haar loopbaan sou word nie.

In 2015 het Heidi die geleentheid gekry om in ’n voorvertoning vir Heinz Winckler op te tree. Haar pa het ’n video-opname daarvan gemaak en dit op Facebook geplaas. ’n Platemaatskappy het dit raakgesien en haar genader om ’n album op te neem.

Toe kom die skok: “Ek het saam met Dirk van der Westhuizen begin toer, maar ná ’n dispuut met die platemaatskappy was die voorgenome album daarmee heen. Dit was ’n harde slag.”

’n Nuwe begin

Heidi vertel dat Henk haar vir haar eerste sangkompetisie ingeskryf het. Hy het haar gemotiveer om musiek ’n voltydse loopbaan te maak.

En terwyl sy liggaamlik en geestelik besig was om van die ongeluk se gevolge te herstel, het sy agtergekom dat sy ook in haar musiek gegroei en tot nuwe insigte gekom het. Sy vertel: “Elke woord wat ek vandag sing, dra gewig, want ek weet hoe dit voel om te midde van verlies tog iets groters te vind.”

Haar musiek is rou en eg en vol positiewe boodskappe. Sy wil haar aanhangers daaraan herinner dat geloof nie slegs vir die lewe se goeie tye bedoel is nie.

Sy vertel hoe die jare ná die ongeluk haar verhouding met God laat verdiep het. “Ek moes leer om Hom te vertrou op ’n vlak wat ek nie voorheen geken het nie. Hy het my gewys dat my waarde nie lê in wat ek doen of hoe ek lyk nie, maar in wie Hy sê ek is.”

Die lewe sal steeds teleurstellings en trane bring, maar Heidi het bewys dat jy altyd jou pad kan terugvind na die Een wat alles in sy hande hou. “Ek dink nie geloof beteken jy verstaan alles nie. Dit beteken wel jy hou aan glo, al verstaan jy niks.”

‘En jy hou aan dans, al verander die ritme’

Heidi het onlangs ’n nuwe enkelsnit vrygestel, “Kan Jy Vasdans?”. Dis ’n vrolike liedjie wat die lig weerspieël wat sy ná die donker tye ontdek het. “Dis ’n lied oor aanhou dans, al verander die lewe se ritme.”
Die liedjie het reeds by haar bewonderaars aanklank gevind, ook omdat dit so eg is. “Ek wil hê almal moet hoor dat jy steeds kan lewe en lag en liefhê, selfs al dra jy letsels.”

Vandag is Heidi en Henk reeds 14 jaar saam. Sy is baie trots op haar gesin. Dis vir haar belangrik om by haar kinders se lewe betrokke te wees. “Ek wil hulle skool toe neem en saans saam met hulle bid. Ek wil dáár wees.”

Sy sê sy was nog altyd ’n kind van die Here, maar haar geloof het ná die ongeluk veel dieper geword. “Ek wou nog altyd die Here trots maak, maar ek het gedink daarvoor moet jy die ‘regte’ dinge doen. Jy moet Hom tog net nie teleurstel nie. Nou verstaan ek dit anders. Nou weet ek alles is genade.”

Wanneer Heidi terugkyk op daardie dag toe sy van die dak afgeval het, is daar geen bitterheid nie. Slegs dankbaarheid oor die nuwe diepte wat sy in haar verhouding met God gevind het.

“Ek kan nie sê ek is bly dit het gebeur nie, maar ek weet God het my daardéúr gelei om my te wys dat Hy groter is as enige tragedie.

“Ek het geleer om weer te lewe, nie omdat ek sterk is nie, maar omdat Hy sterk is.”

Heidi se lewe getuig daarvan dat al kan jy nie kies wat met jou gebeur nie, jy wel kan kies hoe jy daarop reageer. En soms, net soms, is dit juis in die val dat jy leer om op te staan. Ook uit ’n hospitaalbed.

* Klik hier om na Heidi se jongste enkelsnit te luister.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►