Saterdag 26 Julie 2025 was ’n gewone Saterdag in my lewe. Ek en my verloofde Jaco Jacobs was op pad om my seun terug Bethlehem toe te neem, skool toe. Dit was weer ’n dag vol irritasie, stry en baklei. Dit was net nóg ’n dag waarin ek en my verloofde gekyk het hoe seer ons mekaar kon maak …
Op pad terug Middelburg toe was ons in ’n ernstige motorongeluk betrokke. Tot vandag toe is ons nie seker presies wat gebeur het nie. My verloofde vermoed hy het aan die slaap geraak agter die stuurwiel.
Ons is in Reitz se hospitaal opgeneem. Daar het die personeel my ingelig dat my nek gebreek is. My gesig was erg gekneus. Daar was nie pyn nie; ek het morfien gekry. My verloofde het ’n gat in sy arm gehad.
Eensklaps het ek besef dat ek nie my linkerbeen kon oplig nie. Genadiglik was dit net my enkel wat gebreek was. Ek het die oorweldigende vrees gehad dat ek verlam sou wees.
Daarna is ek van die een hospitaal na die ander vervoer. Uiteindelik het ek in Bloemfontein-hospitaal beland waar ek meer as twee weke lank gelê het. Ek moes nege dae lank doodstil op my rug lê, want my nek mag glad nie beweeg het nie.
Tot stilstand geruk
Terwyl ek op dié manier tot stilstand geruk is, het ek bestek opgeneem van my lewe. Ek het opnuut besef hoeveel seer ek in my lewe beleef, hoeveel negatiwiteit, bitterheid, woede en haat ek elke dag in my ronddra. Die lewe wat ek geken het, het my vreugde gesteel. En ek het dit toegelaat.

Lank voor die ongeluk het God reeds Psalm 46:10 aan my gegee: “Wees stil en weet dat ek God is.” Maar ek wou nooit stil wees nie; nou is ek tot stilte gedwing. My verloofde het met alkoholisme gesukkel, en ook hy moes ’n les geleer word sodat hy sy lewe kon verander.
Jy skrik as die dokter vir jou sê jou C2- en C3-werwels is morsaf. En veral as hy byvoeg: “Mevrou, jy moes nie eens lewend uit die wrak gekom het nie.” Volgens hulle moes ek ten minste verlam gewees het.
LEES OOK: ’n Desperate vrou: ‘God se stem keer my toe ek my man wou vermoor’
In dié tyd wat my wêreld behoorlik stilgestaan het, het God my met ’n kalmte gevul wat net van Hom af kon kom. Hy het met my gepraat en vir my gesê: “Laat los, en weet ek is God. Los die verlede en die seer.”
Ek het besef ek kon sonder vrede en vreugde gesterf het.
Hoekom laat ons toe dat die vyand steel en verwoes? God is ons blydskap en ons krag. Hy is ons anker en ons kompas.
Deesdae leef ek anders
Dis nou meer as twee maande later. My nek word deur ses skroewe geheg en versterk, en ek loop weer, stadig maar seker, met ’n been wat besig is om gesond te word.
Die pad na volledige herstel is nog lank en swaar. Maar ek het geleer om geduldig te wees. En ek is dankbaar om te kan leef. Dankbaar vir ’n tweede kans. Ek staan nou elke dag op met God se vrede en rustigheid in my hart.
Dis baie seer, ja, maar soms moet God jou tot stilstand ruk sodat jy kan stil word en luister.
In Eksodus 14:14 sê Moses vir die volk dat hulle moet stil word en weet dat God vir hulle veg. Ek het die punt bereik waar ek kan sê: “Let go and let God.” Ek bevind my op ’n pad van vertroue en geloof. Ja, ek glo en vertrou, al kan ek nie die toekoms so duidelik sien nie en al weet ek nie presies hoe die pad lyk nie. Maar ek weet dat my Herder alles weet.
God het op daardie dag wonderbaarlik voorsien. Ek dank Hom dat my twee seuns nie saam met ons in die voertuig was nie. Ek dank Hom dat Hy gesorg het dat ons by die beste dokters kon uitkom. Oral het ek sy liefde beleef – van die medici en die hospitaalpersoneel tot by die besoekers.
Ek het opnuut besef dat God ook in ons donkerste tye teenwoordig is. En nou leer ek elke dag hoe om stil te wees, hoe om te weet Hy is God. En te glo dat Hy in beheer is.
Deesdae leef ek volgens die digter se uitspraak in Spreuke 3:5-6: “Maak nie staat op jou eie insig nie, maar ken die Here jou God in al jou weë en Hy sal jou pad gelyk maak.”
- Chantel is ’n 38-jarige verkoopsdame en ma van twee seuns in Middelburg. Ethan Wheeler is 15 en Deacon Meintjies is nege jaar oud.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.






















