“God se liefde bedek al jou foute, en al daardie oomblikke waarin jy as ouer gefaal het.”
Só getuig die sangeres Nadia Vorster nadat sy en haar 13-jarige dogter Alba onlangs die duet Me & You bekendgestel het.
Nadia en Alba, wat in Parkrand in Boksburg woon, het ’n moeilike pad tot hier gestap. Maar onderweg het hulle geleer dat daar, vanweë God se liefde vir ons, ’n volmaakte liefde tussen ’n ouer en ’n kind kan wees.
Nadia vertel: “Om dié rede wil ons graag sing oor die volmaakte liefde tussen onvolmaakte ouers en hul onvolmaakte kinders. Ouers maak soms foute, soos ook hul kinders, maar te midde van moeilike omstandighede is dit die liefde wat ons staande hou. Dit leer ons by God se liefde vir ons. Hy het ons onvoorwaardelik lief.”
‘Nie vir my grootste vyand nie’
Nadia beskryf die swaarkry-tyd in hul lewe as ’n pad wat sy nie haar grootste vyand sal toewens nie.
Sowat 12 jaar gelede het Nadia erge depressie ontwikkel wat tot ’n selfdoodpoging gelei het. “Ná baie doktersbesoeke en etlike sessies met sielkundiges en psigiaters, moes ek ter wille van oorlewing besluite neem wat ek nie gedink het ek ooit sou moes neem nie. In daardie stadium was my persoonlike keuses beperk tot die volgende: My kinders het ’n mamma wat hulle dalk nie elke dag sien nie. Of: My kinders word groot sonder ’n mamma.
“Ek was op pad om groot skade aan myself te doen . . .
“Ek het besluit om te skei – maar wat gesamentlike toesig en beheer moes wees, verander toe in sewe jaar waartydens my dogters nie permanent by my kon woon nie. Dit was die moeilikste, mees uitdagende sewe jaar van my lewe, asook die mees uitdagende deel van my ouerskapreis.
“Nee, ek roem glad nie hieroor nie; trouens, ek wens dit nie my grootste vyand toe nie.”
‘Ouers wat in die Here glo’
Nadia kon uiteindelik selfliefde, vergifnis en vryheid vind, en dit deur haar identiteit in Christus opnuut te ontdek. Sy sê sy hoop dat sy vir ander, te midde van hul swaarkry, dié liefdesboodskap kan bring.
Alba, wat aanstaande jaar in graad 8 by Helpmekaar Kollege in Johannesburg is, wil ook aan ander kinders raad gee. Sy sê: “Moenie dat een oomblik se heftige emosies die verhouding tussen jou en jou ma vir altyd skaad nie. Maak seker dat jy altyd met jou ma kan gesels. Jy gaan haar in die toekoms nodig hê. Onthou ook dat sy nog nooit iemand soos jy grootgemaak het nie.”
Die jong sangeres het ook ’n boodskap aan ma’s: “Ons generasie het ouers nodig wat opstaan vir wat reg is. Ouers wat in die Here glo. Hou asseblief aan om ons te wys hoe Jesus se liefde is.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.