Bokkoors het die land behoorlik beet. En ek wonder dikwels oor hierdie span wat dit kon regkry om hoop vir ’n nasie te bring.
Wat is dit aan hulle wat Suid-Afrikaners so inspireer?
Ek dink aan ’n kaptein wat, in elke onderhoud wat met hom gevoer word, openlik praat oor al die uitdagings in ons land. Wat steeds glo in die krag van hoop om ’n nasie te verenig. Hy praat oor sy spelers se verskille in agtergrond en kultuur, en hoe elke lid van die span uitdagings gehad het wat te bowe gekom moes word.
LEES OOK: ‘Ons land word vanmiddag vir 80 min verenig, maar dan …’
Ek dink aan die gemeenskaplike doel. Die spelers en hul span helpers verklaar deur die bank dat dit vir hulle om meer as bloot rugby gaan. Hulle werk vir ‘n groter doel, vir ’n land wat bankvas agter hulle staan, vir al die mense wat hulle liefhet.
Is dit waar Paulus se geloof, hoop en liefde bymekaarkom? Is dit waar die krag lê?
Dalk lê die inspirasie wat hulle bring in die feit dat hulle dit kon regkry om God te verheerlik met wat hulle so saam doen en so saam geniet. Hul passie vir wat hulle doen, voer ook ons mee.
Dalk lê die verklaring van dit alles in die waarheid dat hulle, ten spyte van hul ooglopende diversiteit, so ’n hegte eenheid vorm. Daar is iets in die spanlede se onderlinge verhoudings wat ons aantrek. Hulle stel ’n voorbeeld van wat ’n mens kan vermag as jy saamwerk om ’n gemeenskaplike doel te bereik.
Eenheid in verskeidenheid
Ons verwar dikwels eenheid en eenvormigheid met mekaar. Dit is so dat God se skepping oneindig divers is, en Hy verwag nie eenvormigheid van ons nie. Ja, kyk bloot na die natuur, na die ontelbare variasies: die uiteenlopende landskappe, die verskillende soorte insekte, die voëlspesies, die verskeidenheid blomme.
Nie twee mense lyk of is dieselfde nie – en tog is ons almal na God se beeld geskape. ’n Mens kan nie na die skepping kyk en dan nié tot die gevolgtrekking kom dat God lief is vir verskeidenheid nie! Sedert die ontstaan van die skepping probeer Hy ons wys dat diversiteit goed is.
Net soos God Drie is maar steeds Een, moedig Hy ’n soort eenheid aan wat elke mens se unieke identiteit erken. En dit, op sy beurt, moedig die eiesoortige mens aan om te groei. Om ruimte te skep vir verhoudings waarin daar plek is vir diversiteit, vir andersheid, vir uitsonderings. En waarin eenheid gedy.
Ek hoor hoe mense sê, veral ook die afgelope week: Ja, maar die probleme in die land bly net dieselfde. Daar is steeds misdaad, armoede, kragonderbrekings en bedrog.
En dit is so. Maar God, die Drie wat Een is, is steeds hier by ons. Hy inspireer ons steeds om, ten spyte van ’n menigte probleme, die eenheid-in-verskeidenheid te omhels.
God is alles en oral en in almal
Ek kyk hoe die Springbokke uit ’n goue beker drink, en dit van die een na die ander aanstuur. Dis ’n prentjie wat vir Christene alte bekend is …
En vir ‘n oomblik is alles heilig. Daar is ’n plek aan die tafel vir almal. Elkeen kan ’n sluk uit die beker neem.
Ons is deel van die fees. Ons laat toe dat die vreugde ons meesleur. Dit is wat gemeenskap is.
Ek besef opnuut dat God alles en oral en in almal is. Hy is in die lenteblomme wat nou bloei; Hy is in die motorwerktuigkundige wat my motor herstel; Hy is in die waai van my hond se stert wanneer ek by die huis kom; Hy is in die rivier wat uit die berg kom en see toe vloei; Hy is in die koring wat op die lande staan. En Hy is in die Springbokke wat die Wêreldbeker wen.
Deur aktief aan die lewe deel te neem, kan ons God ervaar. Al wat Hy van ons verlang, is onsself. Nou kan ons voel hoe die Jesuslewe deur óns hande uitreik – om genesing te bring, om ander vas te hou. Om, soos die Prediker sou sê, fees te vier.
En so vier ons ons unieke gemeenskap in Suid-Afrika. Ons vier die hoop wat manne in groen-en-goud vir ons gebring het. Ons vier ons reënboognasie, met al ons verskille en geskille. En ons streef na ’n unieke eenheid waar elkeen die vryheid het om sy of haar unieke self te wees.
Ons besef opnuut dat eenheid nie deur diversiteit óf vryheid vernietig kan word nie. En ons besef ook dat ons nog baie het om hieroor te leer.
* Ons kan gerus Paulus se woorde in Kolossense 3:11 só aanpas, wanneer hy oor die nuwe eenheid in Christus praat: “Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, wit of swart, Xhosa of Zoeloe, Engels of Afrikaans, man of vrou, kind of bejaarde nie … Hier is Christus alles en in almal.”
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.