Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

God sonder grense

Dit is verkiesingsjaar in Suid-Afrika, soos ook in baie ander dele van die wêreld. Blykbaar gaan meer as die helfte van die lande in die wêreld vanjaar stembus toe.

Wanneer ek die radio in my motor aanskakel, hoor ek ’n partypolitieke advertensie. Of ek moet luister na ’n debat of na ander verkiesingsnuus. Op die televisieskerm, in die nuusblaaie en teen die lamppale is dit net verkiesing, verkiesing, verkiesing.

Wanneer jy na die wêreldkaart met al sy denkbeeldige lyne kyk, al die landsgrense wat oor eeue heen getrek is, kan jy nie anders nie as om te dink aan die erge bloedvergieting wat daarmee gepaardgegaan het. Van die mensdom se ontstaan af woed daar grensoorloë. Dié soort skermutselings kom uiteraard ook in die Bybel voor. En Suid-Afrika beleef ’n voortslepende twis oor wie nou eintlik watter grond (moet) besit.

LEES OOK: Here, help my leef asof ek onthou …

God se vaste hand

Mense leef en praat soms asof hulle vergeet het dat dit God se wêreld is. Hy het dit geskep. Mensgemaakte grense en stelsels en regerings kom en gaan, maar Hy bly deurentyd dieselfde. Die wisselvalligheid en wispelturigheid wat so kenmerkend is van menslike beheer, weeg nie op teen die vaste hand waarmee Hy regeer nie.

Daarom kan gelowiges, juis in tye wanneer hulle groot onsekerheid beleef, tot rus kom in die wete dat Hy in beheer is. Hy is die Een wat steeds planne maak vir die wêreld wat Hy geskep het.

Ook vir ons land en al sy mense. Ongeag die strepe wat ons in die sand trek en die heinings wat ons oprig, kan ons weet dat alles binne én buite daardie grense aan Hom behoort.

Natuurlik is dit soms moeilik om te glo dat God alles in sy hande hou. Dis nie maklik om jou slegs op sy planne te verlaat nie. Maar, goddank, sy goedheid en genade is nie van ons geloof afhanklik nie. En Hy het nie ons instemming nodig om sy planne uit te voer nie. Daarby weet ons dat sy krag juis tot volle werking kom wanneer ons swak is (2 Kor 12:9). Ons kan Hom maar vertrou.

Aan sy voete

Ja, terwyl die verkiesingsdag in Suid-Afrika al hoe nader kom, en die politieke aansprake en uitsprake al hoe gewaagder word, plaas ons ons vertroue op Hom wat die Koning van die konings is. Ons hou nie op om te bid vir leiers en voorgangers nie – of hulle dit weet of nie, en of ons van hulle hou of nie. Ons lê ons land en sy mense in ’n tyd soos dié opnuut aan God se voete neer.

Prys Hom wat hemel en aarde geskape het! Prys Hom wat in sy grootheid intiem betrokke is by mense soos ons.  Prys Hom omdat Hy nie eenkant woon en van ver af regeer nie. Prys Hom wat sy kinders en hul vrese ken en hul behoeftes op sy hart dra. Prys Hom dat ons Hom “Vader” mag noem.

En bid saam met die Kroniekeskrywer: “Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe. Van U kom rykdom en eer. U heers oor alles. Mag en krag word deur U geskenk, en dit berus by U om enigiemand groot en sterk te maak” (1 Kron 29:11-12).

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.