Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Here, help my leef asof ek onthou …

Op Palmsondag pluk ons gesin blare van ons palmboom en vou kruisies daarmee. Ons het sopas die storie van Jesus se intog in Jerusalem gelees. 

“Die volgende dag het die groot menigte mense wat na die fees toe gekom het, gehoor dat Jesus na Jerusalem toe kom. Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep: ‘Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!’ en: ‘Die Koning van Israel!’” (Joh 12:12-13)

Toe ons die blare gepluk het, was dit diepgroen, helder en blink. Maar met verloop van tyd het ek gesien hoe dit begin uitdroog en die kleur verdof. Teen die einde van die Heilige Week was dit vaalbruin en droog.

LEES OOK: Blinde vertroue

Ek dink aan …

Op dié manier het die palmblare vir my ’n kragtige metafoor geword, een wat my laat dink het oor my eie lewe.

* Ek dink aan die mense wat “hosanna!” geskree het, wat palmtakke heen en weer geswaai het. En ek wonder: Was dit nie dalk dieselfde mense wat slegs ’n paar dae later “kruisig hom!” geskreeu het nie?

Hoor hoe beskryf Lukas dit: “Maar soos een man het hulle geskreeu: ‘Weg met hom! Laat Barabbas vir ons los!’ … Hulle het egter met ’n harde geskreeu aangehou om te eis dat Jesus gekruisig moes word, en met hulle geskreeu het hulle die oorhand gekry” (Luk 23:18, 23). 

* Ek dink aan Petrus wat, kort nadat Jesus gevange geneem is, Hom drie maal verloën het. Die einste Petrus wat al Jesus se wonderwerke gesien het, wat saam met Hom geëet en gedrink het. Petrus wie se voete deur Jesus gewas is …

* Ek dink ook aan die een in Jesus se binnekring wat Hom verraai en oorgelewer het. Die man wat deur Jesus gekies is, vir wie Hy lief was.

* En ek dink aan Jesusvolgelinge in die algemeen, ons, en hoe maklik ons vergeet, en ontken, en verraai. Op ’n Sondag aanbid ons Jesus, maar gedurende die res van die week vergelyk ons ons met ander, ons probeer mekaar die loef afsteek, ons konkel, ons veroordeel. En ons “kruisig” dié van wie ons verskil. Alles wat die mense destyds aan Jesus gedoen het, doen ons ewe maklik aan mekaar. 

Goddank vir die alternatief wat Jesus aan ons gebied het, as ’t ware ’n omgekeerde werklikheid: Ons kan anders teenoor mekaar optree, en op dié manier dieselfde aan Hom doen. Hy het immers gesê: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (Matt 25:40).

Ons kan gerus sy woorde heel letterlik vertolk: om ander mense te klee, hulle kos te gee, hulle te huisves, om hulle in die hospitaal en in die tronk te besoek.

Die genadige besef

So sit ek met my droë, bruin kruisie ná afloop van die Paasfees en ek wonder: Wat moet ek doen om te onthou? En te leef asof ek onthou?

Dan daal die genadige besef op my neer dat ek niks op my eentjie kan regkry nie. Ek is steeds ’n blote mens en ek maak dieselfde foute as iemand soos Petrus. En ek word ook dikwels deur ’n skare meegevoer. Maar nogtans het Jesus vir my gesterf. Hy ken my, Hy weet hoe dikwels ek misluk. En ten spyte van dit alles het Hy my gekies om in die oorwinning van sy opstanding te deel.

Ek kan slegs dankbaar op my knieë neersak en vra dat Hy my sal help om te leef asof ek onthou. Dat Hy my sal help om Hom raak te sien in die medemens voor my deur.

Dit is soos die ou profeet eeue tevore bely het: “Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom. Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ’n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie. Terwyl hy gely het en gestraf is, is hy weggeneem, en wie van sy mense het dit ter harte geneem dat hy afgesny is uit die land van die lewendes? Hy is gestraf oor die sonde van my volk” (Jes 53:6-8). 

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF