Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘God wil ons seer vir liefde ruil’

8 April 2021


Corinne Badenhorst se pa was ’n boer. Nadat hy vermoor is, het vrees haar metgesel geword. Dit was soos ’n spreekwoordelike doring in die vlees wat sy met haar saamgedra het. Sy wou dié doring soek en dit uithaal. Met haar jongste boek wil sy ander mense aanmoedig om dieselfde te doen, en om dan die lewe se blinkers in hulleself te vind. Anique Jordaan van die sangpaar Kaleidoskoop is ’n waterverfskilder. Sy is verantwoordelik vir die illustrasies.

DEUR ENGELA DUVENAGE

Hoe sou julle die boek in 25 woorde beskryf? 

Corinne: Dis ’n boek wat jou eiewaarde op ’n diepsinnige manier weer kan blink poets.

Anique: Dis ’n storie van die salf wat op duisend maniere aangewend kan word. Wat miljoene doring-wonde kan lawe, genees, en dit in blinkers verander.

“My boer-pa is vermoor, en ek het ’n reuse-“doringvrees” met my saamgedra wat my lewensgehalte beïnvloed het. Ek het dit altyd probeer uitoorlê, maar dit het my eerder angs besorg, dit het my geld gekos, my uitgeput en soms sonder hoop gelaat. Die enigste weg na heelword was om die doring op te spoor en uit te haal. Daardie reis het ’n nuwe dimensie in my lewe gebring. Ek wil ander mense graag aanmoedig om die lewe se blinkers te vind – in hulleself,” vertel Corinne. Foto verskaf

Hoekom het julle juis dié boek geskryf?

Corinne: ’n Paar jaar gelede moes ek by ’n vrouekonferensie oor my eerste boekie, Blinkerboom, gesels. As arbeidsterapeut het ek jare se groepsterapie agter die rug, maar die gedagte om 400 vroue toe te spreek, het my baie senuweeagtig gemaak. Ek sou net soos ’n galmende simbaal klink as ek myself sou probeer slim hou. Ek het God gevra om my te help. Hy is die Maker van ’n vrou se hart. Uiteindelik was dié dag ’n belewenis.

LEES OOK: Aanlyn boek ‘laat jou nuut dink oor lewe, swaarkry, die Here’

In die grendeltyd het ek op ’n boekie afgekom waarin ek daardie dag se praatjie neergeskryf het. Dit het gehandel oor my eie proses van dorings vir blinkers ruil in my stiltetyd met God. Dit het in my hart begin roer … ek wou ’n boekie vir vroue maak. Omdat God liefde is, glo ek Hy wil ons seer vir liefde ruil.

My boer-pa is vermoor, en ek het ’n reuse-“doringvrees” met my saamgedra wat my lewensgehalte beïnvloed het. Ek het dit altyd probeer uitoorlê, maar dit het my eerder angs besorg, dit het my geld gekos, my uitgeput en soms sonder hoop gelaat. Die enigste weg na heelword was om die doring op te spoor en uit te haal.

Daardie reis het ’n nuwe dimensie in my lewe gebring. Ek wil ander mense graag aanmoedig om die lewe se blinkers te vind – in hulleself.

Anique: Ek het uit die staanspoor geweet dis iets wat God op ons hart lê om te voltooi. Daar is so baie vroue wat, soos ek, met hul eiewaarde en “dorings” sukkel. Vir elkeen lyk dit anders. Ons het ’n breë soort vertelling gebruik om al die seer, waardeloosheid, onvergewensgesindheid en bitterheid universeel te kan aanspreek. Om sodoende te help met die genesing daarvan, al is elkeen se situasie uniek.

Wat het julle in die skryfproses geleer?

Anique: Ek het definitief geleer hoe God nie slegs die stuurwiel nie, maar ook die kwas kan oorneem. Dit wat ek uit my hart vir Hom bring, is ook genoeg – al is dit nie perfek nie. Ek onthou hoe ek vir Corinne ’n fout op een van my sketse uitgewys het en sy bloot gesê het: “Daai stukkie van die painting sal dan vlieg op skouers van genoegwees!”

Hoe hoop julle sal dit mense se hart raak?

Corinne: Ek hoop elke vrou sal besef sy is genoeg. Sy is ’n plekkie waar die hemel aan die aarde raak.

Anique: Ek hoop elke vrou sal weet dat om te sweef op die skouers van genoegwees, is ’n moeitelose wete. Dit maak nie saak wat die wêreld of selfs jou eie gedagtes oor jou sê nie. Sodra jy weet Wie s’n jy is, is jy genoeg.

LEES OOK: KYK: Joernalis gee hoop vir seuns met ’n afwesige pa

Wil julle hê die boek moet mense laat “beweeg” of eerder laat besin?

Anique: Albei! Dis goed om te besin voor jy beweeg, maar ons kan nie God in ’n boksie plaas of met ’n resep beperk nie. Hy laat jou soms beweeg terwyl jy besin. Die boek inspireer nadenke, en dit maak moeilike vrae los. Vermoedelik gaan daar ’n hele tydjie se besinning wees. Hopelik word dit dan die katalisator vir “blinkers strooi”, waar vroue mekaar kan aanmoedig en ondersteun. En dat hulle dalk selfs ’n boek vir ’n vriendin wat dit nodig het, kan aanskaf.

Vertel van een stukkie hoop in die boek.

Corinne: Een mamma het vertel: “Wanneer ons ’n doring uithaal, groei daar ’n nuwe takkie in die blinkerboom. Ek glo die dorings (byvoorbeeld skuldgevoelens, minderwaardigheidsgevoelens en angs) wat vroue dra, vertroebel ons waarneming van onsself. Dis asof dit ’n swaar kombers oor ons identiteit kom neerlê. Wanneer ons dit wegkry, word ons ligter. In die Lig eggo die Hoop.”

Het julle reeds terugvoer ontvang?

Corinne: Iemand het my vertel hoe sy geleer het dat sekere dinge haar emosies laat opvlam. So het sy by haar eie seer uitgekom, eerder as om altyd op sulke “ontploffings” te reageer en dan bloot nóg magteloser te voel.

  • Corinne Badenhorst is ’n arbeidsterapeut in Bloemfontein. Sy is die skrywer van die kinderboek Blinkerboom (ook beskikbaar as Twinkle Tree) . Anique Jordaan is lid van die sangpaar Kaleidoskoop en sy is ’n waterverfskilder. Hierdie twee talentvolle vroue het Blinkers vir ’n Blomtuin Dié boek bevat inspirerende gedagtes veral vir vroue. Corinne skryf: “Om jou glinsterstorie te leef, is om die hemel in jou oënskynlike ‘gewoon’ te vind.”

Die boek, afdrukke van sketse daarin, asook musiek en juwele kan aanlyn by www.blinkerboom.co.za bestel word.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF