Gee jouself hierdie jaar gerus meer groen! Dit is die kleur vir hoop, heilsaamheid en heling. Gaan pluk dit vars in jou tuin. En kyk net watter goue verskil dit in jou lewe bring! DEUR ATEL STREICHER; FOTO’S: DAVID BRIERS
Pasta met kruisement- en pietersielie-pesto
2 porsies
Pesto
Jy benodig:
- 500 ml (2 k) vars kruisementblare
- 250 ml (1 k) vars pietersielieblare
- 125 ml (½ k) fyngerasperde Parmesaan
- 60 ml (¼ k) amandels, sonder vel
- 1-2 knoffelhuisies, fyngemaak
- 125 ml (½ k) olyfolie
- Varsgemaalde swartpeper
Pasta
- 200 g spaghetti
Jy maak só:
- Pesto: Plaas al die bestanddele behalwe die olie in ’n voedselverwerker. Verpulp dit. Voeg die olie geleidelik by terwyl die ander bestanddele verpulp word. Proe, en geur dit met peper na smaak.
- Kook die spaghetti tot net sag. Dreineer dit.
- Skep die pesto op die pasta en sit dit voor met die Parmesaan en die swartpeper.
Olyf-ciabatta met roosmaryn
Jy benodig:
- 500 g koekmeelblom
- 1 pakkie (10 g) kitsgis (let mooi op na die vervaldatum!)
- 10 ml (2 t) fyn sout
- 500 ml (2 k) louwarm water
- 200 g grofgekapte ontpitte olywe
- 60 ml (4 e) roosmarynblaartjies (opsioneel)
Jy maak so:
- Plaas die meel, gis en sout in ’n mengbak. Voeg die water by en meng alles totdat dit ’n sagte deegbal vorm. (As jy ’n menger met ’n deeghaak het, is jou kop deur!) Voeg die stukkies olyf by (en die roosmaryn as jy dit gekies het) en werk dit goed by die deeg in.
- Bedek die mengsel met kleefplastiek en laat staan dit op ’n warm plek om te rys totdat die volume ongeveer verdubbel het. Dit sal so 30-40 minute lank duur.
- Voorverhit die oond tot by 220°C. Bespuit ’n bakplaat met kossproei en sprinkel meel daaroor. Plaas die deeg daarop en vorm ’n langwerpige brood met jou hande.
- Bak dit 20-25 minute lank of totdat dit goudbruin is.
OOR KRUISEMENT
Dit is ’n soet kruiesoort met ’n kenmerkende geur. Dit het ’n lekker vars smaak en is heerlik saam met suurlemoen in ’n beker water of vrugtesap.
OOR OLYWE
- Onthou dat dit nie van die boom geëet word nie; dit word eers ingelê.
- Die meeste olywe word vir die maak van olyfolie aangewend.
- Die oudste olyfboom op aarde is 5 000 jaar oud en kan op die eiland Kreta in die Middellandse See gesien word. Dit dra steeds!
- Swart olywe is groen olywe wat langer ryp gemaak is.
-
-
OOR ROOSMARYN
Hierdie krui het ’n lekker sterk geur, en dit is onontbeerlik vir lamsvleis.
- Dit word ook soms saam met ander kruie gebruik om ’n kruiebossie te vorm wat in bredies en soppe gebruik word.
- Dit is goed vir die immuunstelsel.
- Dit lewer pragtige ligblou blommetjies.
-
-
Eenbak-suurlemoenpoeding
6 porsies
Hier is ’n nagereg wat in een bak berei word. (Dit sal help as jy ’n voedselverwerker in jou kombuis het.)
Jy benodig:
- 1 groot suurlemoen met ’n dun skil. (Of rasper ’n dun lagie skil aan die buitekant af en druk die sap uit. Gebruik dan albei.)
- 375 ml (1½ k) strooisuiker
- 45 ml (3 e) botter
- 3 ekstragroot eiers, by kamertemperatuur
- 30 ml (2 e) mielieblom
Jy maak só:
- Voorverhit die oond tot by 180°C. Sny die suurlemoen in kwarte en verwyder die pitte.
- Verpulp die suurlemoen in ’n voedselverwerker. Voeg die res van die bestanddele by, verpulp alles saam totdat die beslag glad is.
- Skep dit in ’n oondvaste bak en bak dit sowat 30 minute lank totdat dit gaar is. Sit dit warm voor met roomys. Of by kamertemperatuur – soos jy verkies
OOR SUURLEMOENE/LEMMETJIES
Begin elke dag met ’n suurlemoen – in jou drinkwater, om geur aan jou kos te gee, as skoonmaakmiddel en/of om jou koffietafel vars en vrolik te laat lyk.