15 Maart 2021
DEUR RENÉ BADENHORST
Terwyl ek by die biblioteek is om slaaptydstories vir die kinders uit te neem, vang my oog ’n boek in die selfhelp-afdeling – The Fairy Godmother’s Guide to Getting What You Want deur Donna McCallum. Ek blaai dit vlugtig deur. ’n Moderne feetjie wat jou gaan help om alles te kry wat jy wil hê. Hoe aanloklik!
Juis toe spring Jakobus 4:4 se woorde in my gedagtes: “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid. Julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.”
LEES OOK: Hoe lyk jou ballon-briefie?
Die moontlikheid dat ons verkeerd kan bid, laat my twee keer dink oor my motiewe in die lewe. Dalk vra ons die verkeerde soort vrae. Dalk vra ek te veel kere “hoe kan ek gelukkiger wees?” en te min “wat is God se wil?” of “hoe kan my liefde God gelukkig maak?” Kortom: Hoe kan ek dit wat ek het, gebruik om sy koninkryk uit te brei?
Ons vind nie ware geluk wanneer al ons probleme verdwyn en al ons begeertes bevredig word nie. Die digter van Psalm 37 stel dit só: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer” (Ps 37:4).
As jy jou vreugde in God vind, gaan jy meer kry van dit wat jou gelukkig maak. Meer van Hom.
LEES OOK: Deel 4 van aanlyn boekreeks: Dít het my gehelp om te oorleef
Dis ook wat ons ons kinders moet leer. Dit sal ’n wonderlike dag wees as ons besef dat God alles oortref wat die wêreld ons kan bied.
En wanneer dit ons gelukkig maak om sy wil in alles te soek, kan die storms maar kom en koninkryke maar val. God is ons rusplek en ons vreugde.
Is jy honger genoeg vir meer van God?
Bid saam met my
“Deursoek my hart, o God. Kyk of daar enige sondige neiging by my is en lei my op die ewige pad. Gee my ’n honger en dors vir meer van U. In Jesus se Naam. Amen.”