Onlangs, by ons Bybelstudiegroep, word die vraag gevra: “Hoe lyk die hedendaagse afgode?” Dit voel toe vir my soos ‘n Sondagskoolvraag. Buitendien het ek die vraag al so dikwels gehoor dat ek my nie eintlik meer daaraan steur nie.
In elk geval, die Sondagskool-antwoord daarop is dat afgode enigiets is waaraan jy meer geheg raak as aan God. Dis iets wat jou tyd en aandag weghou van wat belangrik is, naamlik jou verhouding met God en met ander mense.
Later dink ek toe weer oor dié vraag, en ek lees in Matteus 4:1-11 oor Jesus se versoeking in die woestyn. En ek besef dat ons hedendaagse afgode steeds in dieselfde kwaad gegrondves is: besitlikheid, begeerte, die vertroue op aardse dinge. Dis inderdaad begrippe wat relevant bly. Dit is daarom betekenisvol dat Jesus juis hiérdie sake as versoekings moes beleef.
LEES OOK: Om sout vir die aarde te wees
Wie sorg vir jou?
Jesus is aangesê om klippe in brood te verander, terwyl Hy in die woestyn gevas het en honger was. Die duiwel konfronteer Jesus met wie dit is wat Hom onderhou. Wie hou Hom aan die lewe? Wie voorsien aan sy liggaamlike behoeftes? Is Hy afhanklik van tydelike dinge of van ’n ewige God?
Wanneer dié strikvrae vandag aan ons gestel word, moet ons erken ons vind dit steeds moeilik om op ons hemelse Vader te vertrou vir ons elkedagse behoeftes. Ons wil beheer hê oor ons lewe.
Maar nee, ons is nie selfonderhoudend nie; ons behoort aan God. Elke asemteug kom van Hom af. Sonder Hom is ons niks. Daarom help Jesus ons met sy antwoord: “Van brood alleen sal die mens nie leef nie, maar van elke uitspraak wat uit die mond van God kom” (Matt 4:4).
Jesus bevestig die waarheid dat God ons onderhou en versorg. Wanneer Hy later wel, by twee geleenthede, brood vermeerder, is dit om ander se onthalwe en nie om vir Homself te sorg nie.
Gelowiges koester ook die dieper betekenis van brood wanneer Jesus dit breek en sê: “Dit is my liggaam. Dit is vir julle.” Ja, Hy is die brood wat lewe gee.
Wie beskerm jou?
Daarna is Jesus na die hoogste punt van die tempelgebou geneem en die duiwel het gesê Hy moet daar afspring, want staan daar dan nie in die Bybel dat die engele Hom sal beskerm nie?
Maar Jesus het geantwoord: “Daar staan ook geskryf, ‘Jy mag die Here jou God nie versoek nie’” (Matt 4:7).
Ons trap maklik in hierdie strik. Ons wil God se beloftes in die Skrif misbruik en buite konteks gebruik soos dit ons pas. Ons onderhandel dikwels met God en stel voorwaardes. Ons maak beloftes, soos: “As U asseblief A, B en C doen, dan belowe ek dat ek X, Y en Z sal doen.”
Omdat ons elke maand ons tiende gee, sal dood of hartseer ons nie tref nie. Omdat ons ’n heilige lewe probeer lei, sal God alles in ons lewe seën. Ons probeer om God te manipuleer ten koste van ons verhouding met Hom.
Ons verhouding met God is egter nie ’n toets of ’n magspel nie, en dis ook nie afhanklik van ons omstandighede nie. Ons verhouding met Hom is in wese ’n oorgawe aan ’n liefde wat ons nie by magte is om te begryp nie.
Wie aanbid jy?
Voorts het die duiwel vir Jesus al die koninkryke in die wêreld gewys, en dit vir Hom aangebied – mits Hy hom sou aanbid.
Ons wil meer aansien hê by die werk en sal op enigiemand trap, solank ons net bo kan uitkom. Ons wil meer geld verdien en daarom werk ons langer ure. Ons is te besig om boonop tyd saam met God of saam met ons geliefdes deur te bring.
Ons sien iemand anders se nuwe huis, motor of besittings – en begeer dit. Ons sien iemand anders se talente – en wens dit was ons s’n. Ons bring ure en ure deur om op sosiale media te kyk hoe ander mense lewe – en vergelyk dit met ons eie.
Jesus, wat self hierdie soort versoeking weerstaan het, sê ons moet eerder skatte in die hemel bymekaarmaak. Hy kies nie die weg van die minste weerstand nie. Hy is nie bereid om aardse geluk bo sy uiteindelike hemelse verheerliking te aanvaar nie. Hy kies die pad na die kruis. Hy kies lyding, en om doodgemaak te word.
Hoe om die afgode te verslaan
Dis eers wanneer ons, doelgerig, ons lewe ondersoek dat ons sien hoe dikwels ons steeds in die strik van afgodery trap. Die duiwel rig sy versoekings aan Jesus met dié woorde: “As jy die seun van God is …”
Net so laat hy ons twyfel wie ons is. Hy wil hê ons moet vergeet dat ons God se kinders is, geskape na sy beeld.
Dit verklap ook die geheim van die manier waarop ons afgode oorwin: Ons moet onthou wie ons is en dat die Heilige Gees ons die krag gee om te oorwin, deur Jesus se kruisdood. En ons moet God se woord teen ons hart druk.
As ons, soos Jesus, die versoekings kan weerstaan – en ons kán! – kom daar ’n verdieping in ons verhouding met God.
Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.