Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Hier is die pad!’

17 Mei 2021

DEUR MILANIE VOSLOO

God wil ons by Hom hê. Naby aan Hom. Want dit is die plek waar dit vir ons die heel beste is. Hier teenaan Hom, hier versorg en beskerm Hy ons met groot liefde en deernis. En hiervandaan lei Hy ons na presies die regte plek.

LEES OOK: ‘Ons moes alles aan Hom oorgee …’ sê LiG-leser na korona pa, sussie eis

Maar dis in ons aard om maklik af te dwaal. Ons wil, soos kinders maar is, ons grense toets en ons eie wêreld ontdek. Dis dan wanneer ons ons te pletter loop teen die groot klomp klippe op ons pad. Of wanneer ons, omdat ons ver van ons Leidsman is, droogmaak en ook ander mense seermaak.

En dis waarom ons Herder ’n slingervel-van-liefde by Hom het. Sodat Hy, wanneer ons afdwaal, klippies na ons kan slinger om ons weer op koers te kry. Want ons, ek en jy, is vir Hom oneindig kosbaar en Hy wil net die beste vir ons hê.

Moet dus nie wonder waarom klippies van die lewe jou soms skrams tref as jy weggeloop het nie. Dis jou Oppasser se manier om te sê: “Hier is die pad. Draai om en loop hierlangs” (vgl Jes 30:21).

Roep my, Here!

Ek is ’n regte wegloper, Here.
U weet dit.
U weet hoe maklik ek my eie koers inslaan.
Waarom ek U sommer ignoreer.

Dankie dat U my nie dan los nie.
Dat U my, op u manier,
saggies nader roep.
Dat U my dalk skrams met klippies van liefde tref.
Dis omdat U my liefhet.
Meer as u eie lewe.

Hou aan roep, Here.
Ek wíl by U wees.
Nou.
Altyd.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF