Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Vyf maniere om geestelik gesond te wees

Bybel lees en bid bevorder jou geestelike gesondheid

Om Jesus te volg behels veel meer as ’n besef van bekering en vergifnis; dis ook die ontwikkeling van bepaalde geloofsgewoontes wat jou geestelik laat groei én jou geestelike gesondheid bevorder.  

Daar is ’n wye verskeidenheid geloofsgewoontes, onder meer gebed, Bybel lees, daaglikse nadenke, vriendskap, verwondering en diens.

#1 Bid en Bybel lees elke dag is goed vir jou geestelike gesondheid

Kommunikasie lê aan die hart van enige verhouding, en ’n belangrike deel van goeie kommunikasie is die vermoë om te kan luister. Dit kan aangeleer word, maar dit verg tyd en toewyding.

Ook gebed vra luistervaardigheid. Trouens, die Deense teoloog Søren Kierkegaard het die volgende oor gebed-as-luister geskryf: “A man prayed, and at first he thought that prayer is talking. But he became more and more quiet until in the end he realised that prayer is listening.” 

Dis belangrik om elke dag tyd vir gebed in te ruim, en dan nie bloot om met God te praat oor wat in jou lewe aan ’t gebeur is, en waaroor jy dankbaar, bekommerd of beangs is nie. Maar ook om te oefen om stil te word en te luister.      

Soms fluister God, en daarom is dit belangrik om gebed te benader vanuit die vaardigheid om behoorlik te luister.

Só lees jy die Bybel vir geestelike gesondheid

Die Bybel staan sentraal in die proses van geloofsvorming. Die Bybel is egter veel meer as bloot ’n boek vol geloofswaarhede. Die befaamde Nederlandse teoloog JH Bavinck het die Bybel beskryf as ’n “boek van ontmoetings”. 

God ontmoet ons deur die Bybel. Dié ontmoeting vra van ons die aanleer van ’n ingesteldheid van luisterende afwagting. Predikant, Gys van Schoor verduidelik hoe die Lectio Divina-metode van Bybel lees werk, dit wat die ou kerkvaders reeds eeue gelede toegepas het: 

  • Raak stil en rustig voordat jy ’n bepaalde Skrifgedeelte lees. Kies ‘n gedeelte wat verkieslik nie meer as 10-12 verse is nie.
  • Herlees die gedeelte, terwyl jy vrae oordink soos: Hoe word my lewe geraak deur wat ek gelees het? En: Wat hoor ek alles hier? 
  • Maak hierdie Skrifgedeelte dan jou ‘huis’ waarin jy ’n week lank elke dag woon.
  • Praat met God oor wat jy raaksien en beleef. 
  • Skryf dié dinge neer. 
  • Wees deurentyd bedag op die Heilige Gees se fluistering. 
  • Leef dan uit wat jy geleer het.

Lees ook die artikel, “Hoe gebed jou geestelike gesondheid bevorder”

#2 Daaglikse nadenke maak ons geestelik gesond

’n Uiters belangrike deel van jou geestelike geloofspad is om jou eie gebrokenheid te erken en te verstaan. Só sê Thea van Schoor, wat saam met haar man Gys ’n tweejaarkursus in geestelike begeleiding deurloop het.

’n Deel van hierdie bewuswording is om aan die einde van elke dag stil te word en vrae te vra soos: Waar was ek vandag van God se teenwoordigheid bewus? En: Wat is die sterkste emosie wat ek vandag beleef het?

Die doel hiervan is genesing, en nie om skuldig te voel nie. Dit help jou om algaande jou masker af te haal en om seerkry, selfs dié uit jou kinderdae, saam met God in die oë te kyk.

Gys skryf in sy boek, Die reis: Dissipelskap as ’n nuwe manier van lewe, dat ’n gebrek aan selfkennis dikwels problematies is op ons reis. Enige tyd wat opsygesit word met die oog op introspeksie is daarom van groot waarde, maar “langer tye alleen met God bring ons in voeling met wat werklik in die dieper dele van ons lewe aangaan”.

#3 Geestelike gesondheid: Vriendskap bring heling in ons geloofslewe

Verskillende mense verkeer in verskillende fases van hul geloofsreis, maar dis altyd ’n reis saam met ander. Gys verduidelik in sy boek dat hierdie saamwees individueel, in groepe en in eredienste teregkom.

Dis belangrik dat jy ’n plek het waar jy veilig genoeg voel om eerlik en broos te kan wees. 

Ds Jaco Schoeman wat ses jaar gelede ‘n stilte-retraite by Gys en Thea gedoen het, vertel hy het tydens sy stilwees by die Van Schoors ontdek watter groot geskenk ’n geestelike gids in jou lewe kan wees. Iemand wat weet hoe om na jou belewenis van jou geloofspad te luister, wat jou kan help om helderheid te vind.

Hy sê hy het toe so ’n mens in sy omgewing gevind. “Elke maand gaan sit ons saam en gesels oor dit waarmee die Here in my lewe mee besig is. Wanneer ek daar wegry, voel ek skoon en nuut en vry van enige hindernis.”

#4 Verwondering is goed vir jou geestelike gesondheid

Nie almal se verwondering lyk dieselfde nie. Sommige mense geniet mooi musiek, of om na ’n voorlesing van ’n gedig te luister, of om ’n boek te lees of kunswerke te besigtig.

Wat belangrik is, is dat jy tyd vir verwondering inruim. Stel vas wat vir jou werk, en sorg dat dit jou uit elke dag se sleur wegneem. God het bedoel dat ons in sy skepping floreer, nie dat ons bloot dag ná dag bestaan nie. 

#5 Diens aan ander laat jou geestelik groei

Diens as geloofsgewoonte vloei voort uit ons verstaan van God as ’n Here vol deernis en omgee vir die wêreld. Gys sê: “Hy is besig om te herstel, te versoen, heel te maak, te bevry en te vernuwe. Hy roep ons om saam met Hom ’n verskil in die wêreld te maak.”

Gys identifiseer die volgende drie gebiede in ons lewe waar ons op hierdie manier by God se werk kan inskakel:

  • in ons huis
  • by ons werk
  • in ons gemeenskap

Hy verduidelik voorts dat ons elke dag diens-as-geloofsgewoonte behoort in te oefen.

Jesus het met ’n waskom en ’n kruis kom wys wat is selfprysgawe. Dis hierdie ingesteldheid wat Hy ook van sy volgelinge verwag. En Hy nooi ons uit om ons eiebelang prys te gee en Hom te volg. 

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.