Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Hoe gebed jou geestelike gesondheid bevorder

Geestelike gesondheid

Die wetenskap kan nie konkreet bewys dat gebed ons geestelike gesondheid bevorder nie. Tog ervaar diegene wat bid dat hulle emosionele en selfs fisieke toestand positief daardeur bevorder word.

In hierdie artikel kyk ons na die gevolg van gebed op ons gesondheid – emosioneel, geestelik en fisies.

Gebed maak ons rustiger

Alhoewel die wetenskap nie met navorsing kan bewys waarom mense wat bid rustiger raak nie, is daar tog bewyse dat dit so is. Ons kan deur geloof aanvaar dat dit God is wat ons las kom dra wanneer ons daarmee in gebed na Hom toe gaan. Boonop voel ons sommer rustiger omdat ons oor ons stres en angstigheid met Hom kan praat.

Jesus weet dat ons dikwels stres oor die lewe, en daarom spoor Hy ons aan om met al ons bekommernisse na Hom toe te gaan. Hier is veral twee Bybelverse wat ons uitnooi om te bid, sodat Hy vir ons vrede kan gee:

“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” – Filippense 4:6-7

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Jesus se woorde in Matteus 11:28.

Gebed bevorder geestelike gesondheid wat ons fisies beter laat voel 

‘n Studie onder ongeveer 200 bejaarde, siek persone het gevind dat gebed hulle uiteindelik gesonder laat voel het. Die studie is oor ‘n tydperk van twee jaar gedoen. Die navorsers het bevind dat mense wat positiewe geloofsaktiwiteite doen, soos bid, kerkbywoning en die uitleef van hul persoonlike geloof, fisies gesonder is.

Wetenskaplikes is dit eens dat emosionele ervarings (wat geestelike ervarings insluit) nou verband hou met ons fisiologiese prosesse. Hierdie prosesse sluit onder andere die funksionering van ons immuunsisteem in. Dit verklaar dan wetenskaplik waarom iets soos gebed ‘n impak op ons gesondheid kan hê.

Wanneer ons met geloof na dié dinge kyk, weet ons dat God ons kan genees. Soos Dawid in Psalm 103 bid: “Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon”.

Mense wat bid voel minder eensaam

Gebed veroorsaak dat ons ‘n verbintenis met God ervaar, en ook met ander gelowiges. Dit bring dan mee dat ons minder eensaam voel. Mense wat gedurig bid is dikwels ook deel van ‘n kerk wat gereeld bymekaar kom en sodoende ook deel is van ‘n gemeenskap van gelowiges.

Gebed verminder gevoelens van isolasie, angstigheid en vrees.

Ryan Bremner, ‘n professor in sielkunde, verduidelik dat rituele oor die algemeen ‘n kalmerende uitwerking op ons het. Dit neem ons gedagtes weg van ‘n doellose pad na nêrens, vol onnodige kommer, en gee aan ons ‘n gevoel van invloed of beheer oor iets waaroor ons uiteindelik geen beheer het nie. Gebed kan as ‘n ritueel gesien word. So ook ‘n kerkdiens of ander geloofsaktiwiteite.

Geestelike gesondheid: Gebed kan aggressie en woede verminder

Die Bybel het ‘n sterk boodskap van vrede, en noem dat Jesus die Een is wat daardie vrede bring. Ons geloof en gebede tot Jesus help dat ons vrede ervaar. 

Navorsers het met drie eksperimente bewys dat om te bid vir ander ons vrede laat toeneem, en sodoende ons woede en aggressie verminder. Die toetse is gedoen op mense wat uitgelok is om kwaad te word vir ‘n ander persoon. 

In die eerste eksperiment moes deelnemers vir ‘n vreemdeling wat hulle kwaad gemaak het, bid. Die mense wat gebid het, het minder woede teenoor die vreemdeling ervaar as ‘n kontrolegroep wat net aan die vreemdeling moes dink.

In die tweede eksperiment was die mense wat kwaad gemaak is en toe gebid het vir ‘n persoon wat hulle ken, minder aggressief teenoor daardie persoon.

Die derde eksperiment het gevra dat mense bid vir ‘n vriend in nood. Nadat hulle gebid het vir die vriend, het hulle oor die algemeent ‘n minder aggressiewe aanslag tot die lewe gehad as die kontrolegroep. 

Gebed kan op verskeie maniere ons geestelike gesondheid bevorder. Mense wat tot Jesus Christus bid, ontvang sy vrede en daarmee saam ‘n hele rits gesondheidsvoordele.

Lees ook die artikel, “Vyf maniere om geestelik gesond te wees”.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.