Jou kind lag nie meer nie. Die liggie het verdof. Is dit bloot ’n fase, dalk tienerhormone? Of skuil daar iets ernstigers agter die somberheid? Hoe herken ouers ’n werklike geestesongesteldheid by hul kind? En wat staan hulle dan te doen?
“Ek vra my gedurig af hoe ons dit misgekyk het,” sug Karin*, ’n Pretoriase ma. “Was ek oorgerus omdat ons geen familiegeskiedenis in dié verband het nie? Het Leila* haar depressie weggesteek agter die masker van ’n besige, voorbeeldige tiener?
“Het ek toe maar geweet hoe totaal anders depressie in tieners manifesteer as in grootmense …”
’n Paar maande voor haar diagnose het Leila ’n liefdesteleurstelling beleef. Sy was hartseer, maar het dit op die oog af goed hanteer. “Sy het gesê: ‘Mamma, ek glo Jesus het iemand in gedagte wat beter by my pas.’ Sy het steeds uitgeblink in akademie en sport en het tyd saam met haar vriendinne deurgebring.”
Terugskouend besef Karin nou dat Leila ál stiller geword het en ál meer tyd in haar kamer deurgebring het. “Ons het gedink dis tienernukke, ook toe sy ongewoon geïrriteerd was met haar kleinboetie.
“Dis hý wat die snye aan haar enkels opgelet en my kom vertel het.”
LEES OOK: Selfdood onder tieners | ‘My kind, my kind, hoekom?’
Karin was platgeslaan. “Ek het gereken dat ons geen geheime vir mekaar het nie, dat sy oor enigiets met my kon praat. Ek het soos ’n mislukking gevoel. My man het probeer troos en gesê dat Leila self verward was. Dit het so geleidelik gebeur, en ons was almal so besig. Ons kind het in stilte swaargekry.”
Hulle het Leila na hul huisdokter toe geneem. Hy het ’n psigiater gebel en dié het haar dadelik in ’n kliniek laat opneem.
“Om haar daar af te laai, was hartverskeurend,” onthou Karin. “Sy het bitterlik gehuil en aanhou sê: ‘Ek hoort nie hier nie. Ek kan my regruk. Jesus sal my help.’
“My kind het die eerste twee weke daar omgehuil. Daarna het die medikasie en terapie begin help.”
Dis nou ’n jaar later, en dit gaan beter. “Die psigiater reken hulle kan haar stadigaan van die antidepressante begin speen. Terapie het haar lewensvaardighede geleer én ons ken ook nou die gevaartekens.”
’n Neerslagtige generasie?
Geestesongesteldheid by tieners is klaarblyklik ’n wêreldwye krisis. Volgens die Wêreldgesondheids-organisasie (WGO) is selfdood die vierde grootste oorsaak van tienersterftes en verantwoordelik vir 9% van alle sterfgevalle. Dié reeds skrikwekkende syfers is boonop aan die toeneem.
Die skerpste styging is by meisies tussen 15 en 19, maar alle kinders tussen 9 en 18 is in ’n hoërisikogroep. Die South African Depression and Anxiety Group (SADAG) waarsku dat een uit vyf Suid-Afrikaanse kinders simptome van depressie toon en dat 17% in die afgelope ses maande selfdood oorweeg het.
Van waar die hoë risiko van geestesongesteldheid by tieners?
Die kenners sê hormone speel vir seker ’n rol; adolessensie is ’n wipwaentjierit. Omdat lewenservaring ontbreek en die brein onvolwasse is, word emosies besonder intens beleef. Hul vermoë om hul gevoelens te verwoord en te verwerk is onderontwikkel. Baie tieners reken dat hul gevoelens onomkeerbaar is. En selfdood lyk soms na die enigste uitweg.
Hoe vroeër geestesongesteldhede behandel word, hoe beter is die prognose. Die WGO meen egter dat die diagnose en behandeling daarvan by tieners veel te wense oorlaat.
Joanna Keovoulou, kliniese sielkundige en stigter van PsychMatters, reken dis omdat mites en wanopvattings steeds gedy. Baie ouers wie se kinders dringend hulp benodig, dink dis bloot ’n tienerfase. Sommige reken steeds daar kleef ’n stigma aan geestesongesteldheid en is bang hul kind word geëtiketteer. Talle ouers voel skaam of skuldig. Boonop is baie van hulle bekommerd oor die medikasie se newe-effekte.
Skermtyd, en die gevare daarvan
Die gevolge is ernstig, en sluit in:
- Tieners wat meer as vyf uur per dag met hul slimfoon besig is se risiko vir selfdoodgedagtes en -pogings is 70% hoër as die ander.
- Selfs matige skermtyd gaan gepaard met verhoogde vlakke van angs en depressie.
- Slaapversteurings, swak akademiese prestasie en sosiale onttrekking kom wyd voor.
Boonop kan boeliegedrag – fisiek of verbaal of aanlyn – ’n verwoestende impak op ’n jong mens se geestesgesondheid maak. Vernedering, uitsluiting of dreigemente het nie net vrees en skaamte tot gevolg nie, maar veroorsaak ook angs, depressie en selfbeeldprobleme. Dit ontketen selfs selfdoodgedagtes.
Kuber-afknouery hou unieke gevare in. Dit vind dikwels in die geheim plaas, dit kan 24/7 ’n werklikheid wees, en dit laat die slagoffers daarvan magteloos voel. Selfs ’n enkele haatgevulde boodskap of aanlyn gerug kan ’n kind se wêreld in duie laat stort. Ouers moet bewus wees van hierdie gevaar, oop kommunikasie aanmoedig, en hul kinders help om hul grense te beskerm, juis ook digitaal.
Herken depressie
Renata verdeel die tekens wat op depressie kan dui in vier groepe:
- Emosionele simptome: hartseer; huilerigheid; onttrekking; ’n verlies aan belangstelling en genot in gunstelingaktiwiteite; angs; prikkelbaarheid; woede-uitbarstings.
- Kognitiewe simptome: konsentrasieprobleme; pessimisme; skuldgevoelens; hopeloosheid; gevoelens van waardeloosheid en hulpeloosheid; hipersensitiwiteit; gevoelens dat die lewe nie die moeite werd is nie; selfdoodgedagtes.
- Fisieke simptome: eetlus- en gewigverandering; slaapprobleme; moegheid; traagheid; rusteloosheid.
- Gedragsverandering: onttrekking van aktiwiteite en van vriende en familie; klouerige of veeleisende gedrag; ontvlugting in aktiwiteite soos videospeletjies; alkohol- en/of dwelmmisbruik; roekeloosheid; selfbesering.
Indien jou kind langer as twee weke sulke of soortgelyke simptome toon, is dit tyd vir ’n professionele evaluering. Dis egter uiters noodsaaklik dat ouers dadelik hulp inroep wanneer ernstige simptome soos selfskade of selfdoodgedagtes voorkom.
Bejeën enige praatjies oor selfdood, selfs “grappies” daaroor, baie ernstig. In 75% van die kere wat pogings tot selfdood voorkom, gee die betrokke jong mens vooraf ’n verbale aanduiding daarvan, veral teenoor geliefdes.
Kommerkous of angsversteuring?
Alle kinders bekommer hulle soms, veral in nuwe of stresvolle situasies. ’n Sensitiewe kind met ’n neiging tot angstigheid vra meer vrae, beplan vooruit, en verkies roetine bo verandering. Wanneer angstigheid egter sulke kinders se lewe begin oorheers, moet daar dieper gekyk word.
’n Angsversteuring verskil van ’n persoonlikheidsneiging wat die intensiteit, duur en impak daarvan betref. Eersgenoemde hou nie op nie, dis buitensporig, en dit belemmer die kind se daaglikse funksionering.
Win ’n professionele mening in as jou kinders dikwels fisiek siek voel weens spanning, as hulle bepaalde situasies ontwyk omdat hulle bang is, as hulle aan slapeloosheid ly, of indien hulle aktiwiteite vermy wat hulle voorheen geniet het.
Volgens die American Academy of Pediatrics oorweeg medici ’n diagnose van angsversteuring wanneer spanning nie bloot tot ’n enkele situasie beperk is nie, indien dit minstens vier weke aanhou, en as dit ’n negatiewe uitwerking op die kind se sosiale, akademiese of gesinslewe het.
Gaan praat met ’n dokter indien julle hieroor wonder. Vroegtydige ondersteuning maak ’n groot verskil.
Waar kry ons hulp?
“Dit verg moed om te erken jou kind benodig hulp,” sê
Volgens die South African Society of Psychiatrists is die gemiddelde Suid-Afrikaner meer as nege uur per dag met ’n slimfoon besig. Dis langer as byna enige ander groep in die wêreld. Prof Renata Schoeman, ’n psigiater, waarsku: “Ons kan nie verwag dat kinders hul selfoongebruik sal reguleer terwyl hulle elke dag sien hoe verslaaf volwassenes daaraan is nie. Kinders leer deur nabootsing.”
Joanna. “Onthou tog dat julle nie alleen is nie. Die goeie nuus is dat gemoedsteurnisse behandelbaar is. Professionele raad moet vroegtydig ingewin word. Dit sal help voorkom dat die probleem vererger, en dit sal die uitwerking van dié probleem op jou kind se ontwikkeling beperk.”
’n Verskeidenheid benaderings kan oorweeg word. Gaan klop aan by jul huisdokter, ’n psigiater, ’n sielkundige of ’n maatskaplike werker. Skole en kerke kan jou gewoonlik van die nodige verwysing voorsien.
Hoe kan ek my kind bystaan?
- Kry professionele hulp.
- Versamel soveel inligting moontlik. Hoe beter jy verstaan, hoe beter kan jy ondersteun.
- Luister aktief en sonder om te oordeel. Gee volkome aandag aan wat jou kinders sê. Konsentreer op hul woorde en lyftaal in plaas daarvan dat jy jou gereed hou om te reageer. Laat hulle toe om die spreekwoordelike punt ná elke sin te plaas voordat jy antwoord. Moenie aanneem dat jy weet wat hulle bedoel nie. Maak seker daarvan deur kort-kort hul gedagtes op te som of ’n verhelderende vraag te vra. Sê iets soos: “Verstaan ek jou reg dat …?”
- Gee erkenning aan hul gevoelens. Wanneer jy nie terugdeins vir hul sterk emosies nie, kan hulle meer openhartig wees.
- Vermy beskuldigende frases soos: “Dis nou tyd om jou reg te ruk!” As jou kinders self uit die gat kón klouter, het hulle dit al gedoen. Verseker hulle dat hulle nie swak of lui is nie, dat hulle bloot ’n siekte het wat mediese behandeling noodsaak.
- Beperk skermtyd. Stel ferm reëls op en hou self daarby.
- Prioritiseer rus. ’n Depressiewe of angstige kind het nie nóg ’n aktiwiteit of prestasie nodig nie, maar herstel, stilte en geborgenheid.
- Bevorder jou kind se liggaamlike welstand met behulp van sonlig, vars lug, oefening, gesonde slaappatrone en voedsame kos.
- Bid vir en saam met jou kind. Dit versterk jul band en kweek hoop. Onthou net: Gebed is nie ’n plaasvervanger vir professionele hulp nie. ’n Geestesongesteldheid is net so werklik soos ’n liggaamlike siekte. God werk deur dokters, terapeute en medikasie om genesing te bring.
Genetika
Kinders wie se ouers aan ’n geestesongesteldheid ly, loop ’n verhoogde risiko om self daarmee te worstel. Indien jy of jou huweliksmaat met depressie gediagnoseer is, is jul kinders drie tot vier maal meer daartoe geneig. Buiten die genetiese vatbaarheid speel omgewingsfaktore ook ’n rol. Dit alles beteken nie hulle sál siek word nie, maar dit beklemtoon hoe belangrik vroeë ondersteuning, emosionele veiligheid en oop gesprekke is.
*Skuilnaam



















