Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

Hoe lyk jou ballon-briefie?

8 Maart 2021


DEUR MILANIE VOSLOO

“Mamma, ek dink nie Jesus hoor my nie,” sê my vyfjarige kleindogter een aand vir haar ma. Geskok vra my dogter waarom sy so dink.

Die kind antwoord: “Ek bid al só lank dat Hy hierdie aaklige siekte moet wegneem wat mense so doodmaak. En dit gebeur dan nie!

LEES OOK: Maandag-inspirasie: Hy wag met oop arms op jou

“Sal Mamma asseblief vir Hom ’n briefie skryf? Ek sal vir Mamma sê wat om te skryf. Dan maak ons die briefie aan ’n ballon vas en laat dit in die lug opgaan. Miskien kom dit in die hemel uit en dan lees Hy dit.”

My dogter het toe die briefie met die kind se woorde geskryf en dit met ’n ballon die lug in op gestuur.

Ek weet nie waar die afgeblaasde ballon met die briefie uiteindelik sy lêplek gekry het nie. Ek weet wel dat die klein dogtertjie se gebede lankal reeds in God se hart ’n lêplek gevind het. En altyd sal hê.

God hoor jou. Nie een van jou gebede gaan ongemerk by Hom verby nie. Nooit nie!

 My ballon-briefie

Here, ek voel regtig soms of U nie hoor nie.
Miskien omdat ek so méns is.
Ek wens U kan langs my kom sit,
my in die oë kyk,
my hart hoor
en my dan saggies teen u bors vashou.

Natuurlik ken U my hart.
Maar vandag stuur ek vir U
’n ballon vol van my woorde.
My versugtinge.
My vrae.

Sal U dit asseblief ontvang
en my dan op u manier
en u tyd
met u stem verras?

Here, ontvang vandag my ballon-briefie, asseblief.

Uit die Woord

“Met alles in my pleit ek by U: moenie u rug vir my keer nie. Doen goed aan my soos U belowe het” (Ps 119:58 – Die Boodskap).

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.