Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Hoe moet ons na God soek?

DEUR SIMONE GAUCHE; FOTO: EMILY BUNTING

Die afgelope paar maande geniet my twee seuntjies dit om wegkruipertjie te speel. Maar, nodeloos om te sê, ’n tweejarige en ’n vierjarige is nie eintlik wegkruipertjiekampioene nie …

Om mee te begin, sê hulle my presies waar hulle gaan wegkruip nog voordat ek begin tel. Dit het lang verduidelikings gekos, wat dikwels herhaal moes word, om hulle daarvan te oortuig dat dit nie die beste wegkruipertjiestrategie is nie.

LEES OOK: Solank jy na Jesus toe stap, maak dit nie saak as jy begin sink nie

Voorts hardloop die twee raserig na hul gekose wegkruipplek. Ek hoor hoe hulle afspreek waar om weg te kruip, en hoe hul voete kadoef-kadoef op ons houtvloere maak.

Daarby kruip hulle altyd saam weg. As ek dus een gevind het, het ek al twee gevind. Ag, en terwyl hulle so wegkruip, lag en gesels en skree hulle sodat ek presies weet waar in ons huis ek moet gaan soek. O, en daar is altyd ’n voet of ’n hand of ’n kop wat by die skuilplek uitsteek.

Alte dikwels kruip hulle op dieselfde plek weg as die vorige keer. Dan sal een ewe trots aankondig: “Ek gaan weer onder die komberse wegkruip!” En die ander een: “Ek gaan weer in die kas wegkruip!” Dis asof hulle wil seker maak ek sukkel nie om hulle op te spoor nie.

Nou rek ek maar die speletjie uit deur te maak asof ek op verskillende plekke soek. Ek vertel luidkeels waar ek oral soek, tot die twee giggelendes se groot vermaak. En as ek hulle uiteindelik opspoor, skree hulle dadelik: “Weer!”

Hulle geniet dit so baie dat ek dit nie oor my hart kan kry om hulle die fynere kunsies van wegkruipertjie te leer nie.

God se liefdesbriewe aan jou

Onlangs, terwyl ons nog so wegkruipertjie speel, sê die Here aan my dat dit presies is hoe dit in sy huis is as dit vir ons voel dat Hy wegkruipertjie speel: Dis altyd ons wat die speletjie inisieer, en Hy wat Hom laat vind. Hy gee leidrade, Hy sorg vir ’n gedruis, sodat ons Hom maklik kan vind. En ons weet reeds dat ons Hom gewoonlik op dieselfde plek vind.

Dit is wel so dat ons Hom dikwels nie wíl vind nie. Dan soek ons op allerlei plekke waar ons weet ons Hom nie sal kry nie. Die waarheid is dat dit baie maklik is om die Here te vind; ons moet Hom bloot met ons hele hart soek.

Ek dink dat as ons Hom nie vind nie, dit bloot is omdat ons nie regtig soek nie. Ons hoef nie eens uitblinkers in die spel wegkruipertjie te wees nie. Hy ken ons hart en deursoek ons gedagtes en weet wanneer ons regtig na Hom soek.

Diegene wat Hom nog nooit gevind het nie, moet bly soek na Hom. Dié wat weet waar Hy is, moet aanhou soek. Alle gelowiges sal daarvan getuig dat daar soms tye kom dat God ver voel, dat ons dink Hy kruip weg. En dan is daar natuurlik die ellendige tye dat óns vir Hóm probeer wegkruip …

Hoe moet ons dan na God soek?

Soek Hom in gebed, soek Hom deur tyd in sy Woord deur te bring. Deur dankbaar te wees vir alles wat Hy vir jou doen, deur tyd saam met jou kerk-familie deur te bring.

Ons moet weet Hy is nooit ver nie. Jesus het belowe: “Soek, en julle sal kry” (Matt 7:7). En die Kroniekeskrywer het gesê: “Die Here deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind” (1 Kron 28:9).

Dis alles beloftes wat ons met die sekerheid vul dat ons soektog nooit tevergeefs sal wees nie.

  • Simone Gauche is ’n ma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF