Dit maak deesdae wêreldwyd opslae, dié dat twee mense wat in ’n intieme verhouding betrokke is by verskillende adresse woon. Ook in Suid-Afrika is daar heelwat paartjies wat dit só doen. Daar is wel ook dié wat sê dit werk nie vir hulle nie. En hoe behoort gelowiges hieroor te dink?
Huwelik, saamwoon en die wet
’n Studie van Pew Research Centre in die VSA het getoon dat getroude paartjies meer tevrede is en meer vertroue het in hulle verhouding as diegene wat saamwoon, maar nie getroud is nie. Behalwe vir die voor die hand liggende wetlike redes, sien baie paartjies die grootste voordeel van trou eerder as om saam (of saam-en-apart) te woon, as die duidelikheid van die status van die verhouding en dat hulle daardeur gemoedsrus het en veilig voel.
Vir díe wat besluit om saam te woon en nie wetlik in die huwelik tree nie, is dit van belang om te onthou dat saamwoon (of die Engelse ‘cohabitation’) nie as ’n wetlike verhouding geag word deur Suid-Afrikaanse wetgewing nie. Lees gerus meer hieroor in die artikel, Cohabitation and the Law in South Africa.
Saam-maar-apart: Is die huwelik iets van die verlede?
Is dit hoe verhoudings in die toekoms gaan lyk: Ons is saam, maar ons woon apart?
Irene Haasbroek, ’n multidissiplinêre praktisyn in Kimberley, sê dis geen nuwe tendens nie; dit het slegs ’n nuwe baadjie gekry. Sy reken die vernaamste rede waarom paartjies só leef, is om hul persoonlike identiteit te behou. “Baie keer is ’n persoon se vryheid van spraak in ’n eerste huwelik hom of haar ontneem, en nou word dit ten alle koste beskerm.
“Kommunikasie is tog die hoeksteen van alle verhoudings, en albei partye se verwagtinge moet gerespekteer word. Die voordeel van die ‘saam maar apart’-verhouding is dat al twee partye die reëls maak en die grense stel. En dit kan met verloop van tyd verander, soos wat die onderskeie behoeftes verander.”
Lees ook ons artikel oor kommunikasie in die huwelik.
Vorige huwelik, nou saam-maar-apart: Die begin van ’n liefdesverhaal
Hendrik Marais en Karina Strydom is tans in ’n “saam-maar-apart”-verhouding.
“Te veel van ’n goeie ding,” sê Hendrik, “is soms bloot … té veel. Tyd saam kan soos sout in kos wees – noodsaaklik en smaaklik, maar te veel daarvan bederf die lekkerte.”
Sestien jaar gelede is Hendrik se vrou, ná 35 jaar se getroude lewe, aan kanker dood. “So ’n jaar ná my vrou se dood het my jongste seun voorgestel dat ek ’n agentskap vir enkellopendes bel. Voor ek desperaat of laf raak!”
Karina was destyds ’n jaar lank geskei ná ’n huwelik van 20 jaar. Sy het by dieselfde agentskap gaan aanklop. “Ek was haar eerste koffie-afspraak,” vertel Hendrik, “en ons twee het dadelik besef ons wil mekaar graag beter leer ken. Etes en flieks het gevolg, en ons was binne ’n paar maande so verlief soos twee tieners.”
Tot hier loop die storielyn soos duisende ander verhoudings wat uiteindelik op ’n huwelik uitloop.
Hoekom saam-maar-apart vir hierdie paartjie werk
Hendrik vertel: “Ons was opgewonde oor ons nuwe lewe, maar ons het besef dit sou moeilik wees om by mekaar in te trek. Ons moes albei se kinders in ag neem, asook Karina se eksman. Daar was ook die gesamentlike meubels, skilderye en ander huisraad.
Hendrik en Karina wou hul verhouding na ’n volgende vlak neem. Hulle het goed oor die weg gekom, kon ure lank gesels, lekker saam vakansie hou – maar daar was ook verskille.
Hendrik verduidelik: “Ons musieksmaak verskil, en ek lees eerder as wat ek televisie kyk. Ons gaan na verskillende kerke toe, het verskillende voorkeure wat kos betref. En ons stem ook nie heeltemal saam oor hoe ’n mens ’n ander een se kinders grootmaak nie.”
Die unieke logistieke van saam-maar-apart
Dis toe dat die paartjie met ’n unieke plan vorendag gekom het: Albei is lief vir binnenshuise versiering en moderne argitektuur, en toe besluit hulle om twee nuwe huise te bou, die een bo-op die ander.
Elke huis weerspieël elkeen se voorkeure. Hendrik s’n, byvoorbeeld, het nie binnemure of -deure nie, maar wel ’n goeie kombuis en ’n etenstafel vir 14. Karina se oopplan-huis het twee kamers vir haar seuns, en dit voel baie soos ’n vakansiehuis.
Hendrik en Karina leef nou al tien jaar lank so saam, en dit werk vir hulle. Hulle vertel: “Elkeen koop sy eie kruideniersware. Ons sal wel so ses etes per week saam eet. Ons onderskeie blyplekke het trappe wat na mekaar lei.
Hendrik sê: “As ons uitgaan, ry ek van my motorhuis af na haar voordeur toe. En ek maak die motor se deur vir haar oop. Net soos ons dit gedoen het toe ons begin uitgaan het. Ná 16 jaar bly dit spesiaal.”
“Ons twee het elkeen genoeg ruimte om baie van die klein besluite onafhanklik van mekaar te neem, daardie klein jakkalsies wat so maklik ’n goeie verhouding kan verniel. Oor die lekker dinge – soos waar ons gaan eet, vakansie hou, of fliek – besluit ons saam.
“Ons respekteer mekaar se privaatheid en sal nie oor en weer kuier sonder om te klop of vooraf te bel nie.”
Is die huwelik nie die volgende natuurlike stap nie?
Hendrik sê: “Dit kon seker werk. Maar dalk voel ’n mens vryer en selfstandiger sonder ’n kontrak. Nie een van die partye het nou wetlike aanspraak op die ander nie; dit bly ’n vrywillige saak.
“Ons is albei streng monogaam, en al twee besef dat die ander een sy of haar goed sal vat en loop die oomblik as daar van ontrouheid sprake is.”
Hendrik is daarvan oortuig dat die meeste verhoudings waarskynlik kan baat by ’n bietjie meer ruimte, ’n bietjie meer respek en ’n bietjie meer romanse.
“Ons kon ons probleme uiteindelik bevredigend uitsorteer. Maar daar bestaan nie ’n resep wat by almal pas nie. Mense moet doen wat vir hulle werk.”
Saamwoon voor die huwelik: Hierdie paartjie vertel
Leonie en Gerhard het drie jaar voor hul troue hoofsaaklik weens finansiële redes by mekaar ingetrek. Elkeen het ’n eie slaapkamer gehad. Maar ná ’n jaar en ’n half só saam, het die krake begin wys. Van die aanvanklike weeklikse afspraak-aande het weinig oorgebly.
Leonie sê sy was later erg gefrustreerd. Hul aanvanklike reëling het toe meer kwaad as goed voortgebring.
Prof Pieter Joubert, ’n sielkundige in Potchefstroom, sê die huwelik bly ’n Godgegewe instelling waarin sekere waardes en beginsels geld. Sodra jy nie meer volgens ’n waardestelsel leef nie, swaai die deur vir allerlei misbruike wawyd oop.
“Enige verhouding kos werk,” sê hy, “maar vir baie paartjies is hierdie soort werk gans te veel moeite. Daarom probeer hulle om met die minste moontlike moeite die beste moontlike resultate te verkry.
“As ’n paartjie byvoorbeeld vir ’n situasie kies waar hulle apart bly woon, neem dit baie van daardie inspanning weg. Beginsels word oorboord gegooi, maar tog verwag die onderskeie partye prestasies van mekaar.”
Wat sê die Woord oor die huwelik en saamwoon?
Ds Christo de Witt van die NG Kerk op Plooysburg stem saam met Prof Joubert se stelling. “Volgens die Bybel word twee mense ná hul huwelik een. Met ’n ‘saam-maar-apart’-reëling blyk dit dat die paartjie net ‘saam’ is wanneer dit goed gaan en lekker dinge gedoen word; wanneer die slegte dinge opduik, is dit elkeen vir hom- of haarself.
“Die paartjie is nie regtig bereid om aanpassings te maak, om mekaar se laste te help dra nie. Elkeen behou ’n eie blyplek, eie roetine en persoonlike ruimte.
“Maar vra ’n huwelik nie juis dat ek bereid sal wees om veranderings aan my menswees aan te bring ten einde my maat in ag te neem nie?”
* Oorspronklike artikel geskryf deur Ilette Coetzer vir LiG.
Bronne geraadpleeg: