Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Hoop uit die Woord: Die Here alleen weet verder

Hoop uit die Woord

Ek het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God” (Esegiël 37:3).

Af en toe gebeur dit dat ons in situasies beland waar alles totaal hopeloos lyk. Asof daar geen uitweg of uitkoms bestaan nie – geen kans op ‘n nuwe wending of ander moontlikhede nie. Skade en skande alleen skyn ons voorland te wees.

In Esegiël 37 is dit waar die profeet hom bevind – in ‘n vallei vol droë bene. In Hebreeus dui die woord vallei op ‘n slagveld vol onbegraafde lyke. Dat daar in dié vallei slegs doodsbeendere oorgebly het, het één ding beteken: dat die gestorwenes nie eers begrawe is nie, maar deur voëls en diere opgevreet is. In die ou Ooste kon geen verskrikliker lot jou tref nie. Vir hulle het dit onder andere beteken dat die mense in skande en onder God se vloek gesterf het.

Maar presies só hopeloos, só bedenklik was Israel se situasie in die ballingskap – soos kaalgevrete doodsbeendere op ‘n slagveld. Vir hulle, so kom dit voor, was daar inderdaad geen hoop of kans op nuwe lewe nie. Alles was verby.

Uiteindelik is dit die ongemaklike vraag waarop Esegiël moes antwoord: “Dink jy daar kan in die bene weer lewe kom?” Waarop sy antwoord was: “Nee, dit weet net U, Here my God.”

Wat ‘n sober, maar merkwaardige antwoord. Want soms is dit waaragtig al wat ons kan sê wanneer die ongeluk toeslaan en alles so hopeloos skyn te wees: “U alleen weet Here.” Wat ook kan beteken: “My lewe is nou alleen in U hande, Here – lei U my verder …”

Here, wat ‘n troos om te weet dat wanneer ons lewe vasgeloop is, ons nie herwaarts of derwaarts weet nie, U nog daar is. En dat U nog planne vir ons het. Amen.

Geskryf deur Carel Anthonissen vir Bybel-Media


Hoop uit die woord is geborgde inhoud deur Boodskap van Vandag. Om elke dag die Boodskap van Vandag te ontvang, kliek hier. Om hierdie inisiatief te ondersteun, kliek hier.

LEES OOK: Boodskap vir Vandag maak ’n impak!

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►