’n Enkelma en onderwyser van Kimberley deel haar swaarkrypad as enigste versorger van haar kleuter, maar ook hoe sy die afgelope vyf jaar by vyf skole skoolgehou het omdat sy nie vaste werk kon kry nie. Sy wil vir ander vroue sê: “Hou vas aan jou geloof en moet nooit opgee nie!”
“My geloof dra my. Ek bly biddend op my knieë, want God is my grootste bron van hoop. In my swakste oomblikke hou ek vas aan die wete dat hy ’n beter plan het vir my lewe – selfs wanneer ek nie die pad voor my kan sien nie.”
So vertel enkelma Quintilla Oss van Kimberley, Noord-Kaap oor die uitdagings wat sy trotseer, maar hoe sy aan hoop bly vasklou. Sy is alleen verantwoordelik vir haar 2-jarige kleuter.
Quintilla wil graag haar getuienis met LiG-lesers deel omdat sy glo daar is soveel ander enkelma’s of vroue wat ook deur moeilike tye gaan en inspirasie uit haar storie sal put.
“Dit voel soms asof die wêreld op my skouers rus. Dis moeilik om my werk, finansies en my kind se versorging te balanseer,” sê dié onderwyser. “Maar,” sê Quintilla, “my kind gee my ’n rede om aan te hou, selfs op dae wat ek baie uitgeput en oorweldig voel.”
Quintilla ervaar ook onsekerheid in haar onderwysloopbaan. “Ek het by vyf skole in die afgelope vyf jaar gewerk omdat ek nie permanente werk kon kry nie. Ek moes aanhou skuif en aanpas by nuwe omgewings sonder enige waarborge. Maar, ek hou aan en uit.”
LEES OOK: ‘Soms ervaar ons my man in die sonsopkoms, ander kere in die wind’ – enkelma ná man doodgery is
Volgens Quintilla is sy die afgelope ruk by Floors High School en kry sy ten minste die geleentheid om haar onderwyspassie uit te leef. “Ek is ’n Afrikaans Huistaal-onderwyser. Ek werk met kinders wat baie onseker is en wat sukkel om met begrip te lees. Al wat hulle nodig het is iemand wat in hulle glo. Ek sien myself baie in hulle omdat ek ook weet hoe dit voel om nie seker van jou pad te wees nie.
“Om skool te hou vir 47 leerders in een klas is nie altyd maklik nie – dis báie uitdagend. Daar is soveel verskillende behoeftes en verskillende persoonlikhede en soms voel dit dat daar nie genoeg tyd is om elke kind die aandag te gee wat hulle verdien nie. Dit verg baie van my geduld, energie en deursettingsvermoë – veral op dae wanneer ek self moeg is. Ek probeer regtig help en daarom gee ek elke dag ’n uur ná skool klas om leerders te help met lees. En Saterdae neem ek my kind saam as ek vir twee ure leerders help met lees en skryf. Wanneer ek sien ’n leerder begin verbeter en begin in homself glo, dan weet ek hoekom ek hierdie werk doen.
“Onderwys is meer as net ’n werk, dis ’n roeping. Mý roeping,” vertel Quintilla.
Quintilla vertel ook hoe dankbaar sy vir haar familie se ondersteuning is. “Ek sou nie hier gewees het sonder die ondersteuning van my ma, susters en broer nie. Hulle tel my op wanneer ek nie meer kan nie. Hulle herinner my dat ek sterker is as wat ek dink.”
Sy wil vir ander vroue sê: “Hou vas aan jou geloof in onsekere tye. Moet nooit opgee nie.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.
















