Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Soms ervaar ons my man in die sonsopkoms, ander kere in die wind’ – enkelma ná man doodgery is

Ek het op 30 Desember 2022 ’n plasing op Facebook gemaak sonder dat ek geweet het wat wag. Ek het Psalm 32:8 aangehaal: “Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.” My boodskap daarby het gelui: “Ongeag wat 2023 bring nie, ek sal vashou hieraan en die Here vertrou.”

Dit was aan die einde van ‘n rowwe jaar. My pa was baie siek en is oorlede in Oktober daardie jaar.

Presies ’n week nadat ek die boodskap geplaas het, is my man skielik in ’n tref-en-trap ongeluk doodgery van sy fiets af terwyl hy geoefen het. Dít net 10 weke nadat my pa oorlede is. My hele wêreld was op sy kop gegooi. Nie in my wildste drome het ek hierdie sien kom of gedink so iets sal gebeur nie.

 Ons twee kindertjies was klein, hulle was in daai stadium vier en twee.

LEES OOK: ‘Ons gaan nie wag vir ‘eendag’ … en dan is dit te laat nie,’ vertel gesin wat ’n jaar lank kamp

God antwoord met sonsopkoms


Die aand ná my man se ongeluk, het ek baie met die Here geworstel. Ek was baie kwaad en ontsteld. Dit het vir my gevoel die Here was stil en dat ek geen antwoord kry nie. Maar die volgende oggend toe die son opkom, het ek God gehoor. Die Here het vir my gesê dat ek Hom net moet vertrou, ek en die kinders gaan dit maak. Die pyn wat ek nou voel kan nie vergelyk word met die vreugde wat nog gaan kom nie. Ek was so oorweldig en dankbaar dat die Here my gebed gehoor het, dat Hy my trane gesien het en dat Hy my weer sal heelmaak. Ek het ook besef dat ek toe nie geweet het wat die Here doen nie, maar dat ek wel later sal verstaan.



 Van daardie oomblik af, het ek ’n rustigheid beleef wat ek nie regtig kan beskryf nie, maar ek het geweet dat God in beheer is en al is hierdie hóé sleg en seer – Hy is in beheer en sal ons help.

Ons het ’n ‘village’

Alhoewel ons lewe in wêreldse terme beslis nie ideaal is nie, het ek en die kinders mekaar. Ons verhouding is soveel dieper en baie sterker as voorheen.

Ons het ongelooflike mense al oor ons pad gehad die laaste paar jaar wat absoluut uit God se hand gestuur was. En so min soos ek daarvan hou om vir hulp te vra, het die lewe my op my knieë gebring waar ek afhanklik was van hulp en mense. Die woorde “It takes a village to raise a child” is so waar. Ek het ’n ongelooflike village wat my bystaan en help. Mense wat vreemdelinge was, is nou hartsvriende. My sussies speel nog altyd ’n groot rol in my lewe en hulle ondersteuning is vir my van onskatbare waarde. Die juffrouens by die kinders se kleuterskool daardie tyd het regtig uit hulle pad gegaan vir my en die kinders. My kollegas by die werk ondersteun my ongelooflik baie. Ek wil wel ’n groep mense uitsonder – ’n vriendekring wat vir my vreemdelinge was voor my man se dood. Hulle het my en my kinders net onder hulle vlerke geneem. Hulle het al soveel maal na my kinders gekyk as ek siek was of moes reis vir werk. Hulle het my tot laat nagte gehelp om my huis op te pak toe ek moes trek en soos een man opgedaag op die dag van die trek om te help. Hierdie mense is absoluut van die Here af gestuur.



My persoonlike verhouding met die Here het verdiep en ek is elke dag dankbaar dat ek na Hom toe kan gaan met bekommernisse en vrese. Hy het keer op keer vir my gewys dat Hy in beheer is en dat ek net moet vertrou. Ek weet eerlikwaar nie hoe mense dit sonder God doen nie.

‘Ons vind my man in die natuur’

Ons as gesin was bitter lief vir kamp, toer en fietsry. Hoe sou ons dit doen sonder my man? Ek moes ’n paar aanpassings maak aan die manier hoe ons toer en kamp, maar ek en die kinders het aangehou met dit waarvoor ons lief is. Soms was dit tot baie mense se verbasing en ongeloof!

Ek, Jan en Leah het onlangs ’n toer deur die Namibiese duine gaan doen, asook ‘n hele paar Wildtuin- en ander kampe. Die woestyn was iets besonders en definitief iets buite my gemaksone. Van daardie duine is ’n paar verdiepings hoog en dan moet ’n mens daar op of af. Ek dink ek het maar net besef, dat as ek nie die dinge gaan aanpak nie, gaan ons ophou leef. As ons nie met die boswa toer nie, toer ons met die daktent. Ek het ons voertuig ingerig met ’n daktent, kombuis, geyser, stort en yskas. Hierdie manier van kamp is baie makliker vir my as vrou alleen. Die kinders geniet die daktent vreeslik en ons het elkeen ons werkie wat gedoen moet word voor ons gaan en dan by die kamp. Een van Jan se werkies is om vir my op die tent se dak te sit, sodat ek hom makliker kan toekry. Ons is lief vir die natuur, dis waar ons harte kan stilraak en waar ons my man se nabyheid die meeste voel. Soms is dit ‘n voël, ‘n sonsopkoms of sonsondergang en ander kere sien ons hom in die wind. 

Dit ís baie moeilik om ’n uitdagende werk te hê en alleen-mamma te wees van twee kleuters terwyl jy self nog rou oor jou beste vriend en man. Die rouproses het nie ’n tydlyn nie en dit is maar op en af. Dit was gewoonlik ook die moeilikste in die tye wat ek sélf probeer het om dinge uit te sorteer of besluite te neem. Dis hier waar ek geleer het van God se geduld. Wanneer ek dan gewoonlik opgee, dan kom sit Hy daar saam met my op die vloer en vat my hand en herinner my dat ek net alles aan Hom hoef oor te laat. Hy het ’n plan en ek is nie alleen nie. Al verstaan ek nie altyd die plan nie. Ek het beslis ook geleer dat ’n mens se perspektief oor dinge regtig bepaal hoe jy voel en hoe jy dinge sien en beleef.

 Ek is seker dat daar nog ’n groter plan is hiermee en dat ons eendag sal verstaan, al verstaan ons nog nie nou nie.

Wat ek kán getuig, is dat God goed is, al is die lewe soms nie. En dat al is ’n mens se beker leeg, is dit soms net nodig dat jy jou beker regop hou en ontvanklik is. God kom na jou toe waar jy is, en Hy hervul jou beker.

·        Nicola is ’n algemene bestuurder van Bronkhorstspruit. Haar kinders Jan is nou sewe en Leah is vyf. 

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF