DEUR SIMONE GAUCHE; FOTO\’S: EMILY BUNTING
As jy kleuters en peuters in die huis het, kan ek jou nie veel vertel van die vrees vir die donker nie. Daar skuil mos monsters onder beddens en in kaste. En jy ken dié uitroep: “Mamma, moenie die lig afsit nie!”
Heel dikwels moet die kamer eers van hoek tot kant deursoek word. En weer van bo tot onder. Dan van voor tot agter. Kruip hier nie iewers ’n monster weg nie, Mamma?
Dis nou Heilige Week in Lydenstyd, en ons word stil. Ons dink aan wat God vir ons gedoen het. En wat dit beteken dat Hy sy Seun vir ons as ’n heilige offer gegee het.
LEES OOK: Hoe skakel ek die lig aan?
Ons kan egter nie ten volle begryp wat dit vir ons beteken as ons nie ook aan die duisternis dink nie, en allereers die duisternis wat die aarde toegevou het ten tye van die kruisiging. Só berig Markus: “Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur” (Mark 15:33).
Ons dink ook aan geestelike duisternis – die sonde wat ons doen, al die kere wanneer ons misluk in ons pogings om God te eer.
Daar is die duisternis van die sondige, stukkende wêreld waarin ons lewe. Die gebrokenheid – oorloë en oorstromings, virusse, die ekonomie, onluste, wreedheid, hartseer.
Ons kan doodgewoon nie aan die duisternis ontsnap nie. Maar ons vind dié troos in Jesaja: “Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak. Ek sal bronspoorte oopbreek en sluitbalke van yster stukkend kap. Ek sal vir jou die skatte gee wat in die donker gebêre word, die rykdomme wat weggesluit is, sodat jy kan weet dat Ek die Here is, dat Ek jou op jou naam geroep het, Ek, die God van Israel” (Jes 45:2-3).
Net soos wat ek, voordat ek my kinders se lig kan afskakel, eers die kamer moet deursoek en veilig maak, gaan die Here voor my uit om my pad gelyk te maak. Maar sy goedheid eindig nie hier nie. Die woord wat met “skatte” vertaal word, verwys na geld, kosbare voorwerpe of ander waardevolle dinge wat geberg word of verborge is. Skatte lê nie net daar in die oopte nie; dis weggesteek. Dis nie maklik om ’n skat te vind nie.
Die Here het vir ons skatte gegee wat in die donker gebêre is: In die donker van ’n kruisiging vind ons verlossing, in die donker van ’n graf vind ons nuwe lewe. En in die donker van ’n gebroke wêreld vind ons hoop op die nuwe Jerusalem.
Wat jou omstandighede ook al mag wees, hoe donker dit ook al om jou mag wees, hoe verlate jy ook al voel, weet dit: Die Here het vir jou skatte weggelê in daardie duisternis waarin jy jou bevind. Hy het jou op jou naam geroep, jy is syne. En die heel beste: Hy is daar in die donker saam met jou, besig om die skatte vir jou te ontsluit.
Mag jy in hierdie Heilige Week vertroosting vind in die God met die skatte. Dien Hom waar jy jou ook al bevind en ongeag die donkerte. Jy weet mos die duisternis is reeds oorwin.
- Simone Gaucheis ’n mamma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.