DEUR FRANCINE PRINS
Daar is ’n lêer in my e-posprogram waarin ek spesiale briefies bêre. Dit is dié waarin mense vir my dankie sê vir die werk wat ek doen, of waarin hulle vertel dat hulle inspirasie uit een van my skryfstukke geput het.
Hierdie klompie briewe sal ek so af en toe herlees. Dit bring soveel vreugde en vrede, veral op daardie dae wanneer dit voel asof daar niks goeds uit my skryfpen wil kom nie. Om ’n briefie te wil skryf, eis van jou om toegewyd te dink oor wat jy wil neerskryf, oor die gedagtes waaraan jy woorde wil gee en aan die persoon wat dit gaan lees. Dis ’n taak wat fokus vra.
Martin Seligman, ’n sielkundige wat hom op die studie van die sogenaamde “positiewe sielkunde” toelê, het gevind dat dankie-sê-briewe ’n groot verandering in die briefskrywers se lewe kan teweegbring.
LEES OOK: ‘My grootste vreugde’ ‒ Francine Prins oor pasgebore baba
Hy het ’n studie geloods waar hy aan mense gevra het om ’n besoek te bring aan iemand teenoor wie hulle om die een of ander rede dankbaar is. Maar voor dié besoek het Seligman hulle ’n week gegee om eers ’n brief te skryf waarin hulle moes sê presies waarvoor hulle dankbaar is.
Daar is bevind dat die briefskrywers gelukkiger was as wat die geval was voordat hulle begin skryf het. Dat hulle selfs minder depressief gevoel het.
Vir wie kan jy vandag ’n kort dankie-sê-briefie skryf? En aan wie kan jy ’n lang brief vol besonderhede rig om alles waarvoor jy dankbaar is uit te stippel?
LEES OOK: Kom sit ’n bietjie by My
Is dit nie dalk ’n goeie idee om elke maand vir elkeen van jou kinders ’n briefie te skryf nie? En vir jou eggenoot. En ’n spesiale vriendin.
Dit sal vir hulle ’n kosbare geskenk wees, veral in daardie ek-voel-nikswerd-nie-dae. Dit sal ook vir jou ’n geskenk wees terwyl jy daaraan skryf. Dink net: Twee maal vreugde en vrede uit een briefie!
Here, dankie dat daar mense in my lewe is vir wie ek uit my hart ’n brief vol dankbaarheid kan skryf.
Hierdie stuk is deel van 100 dae van dankbaarheid, ‘n dagstukkieboek wat hier te koop is.
- Francine Prins is redakteur van LiG se gedrukte tydskrif en sosiale media. Volg haar skryfwerk by #weeslig en #francineprins