Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Jacques Papenfus se verhaal (deel 1): ‘Die donker nadat my gesin gesterf het …’

“My ontmoeting met die hawelose Basie en Klasie het my op die pad na my eie genesing geplaas. Ek sou nie weer omkyk nie. Daarna het ek nog sulke mense ontmoet en hulle ook in my huis ingeneem. Daar was uiteindelik agt. Die klipperige pad wat ons die eerste tien jaar moes stap, lê steeds in my lyf. Ons het elke dag slegs genade gehad om aan vas te hou. Al die uitdagings het ons egter die geleentheid gegee om volkome op God en sy wonderwerke te leer vertrou.”

LEES OOK: Jacques Papenfus se verhaal (deel 2): ‘My donkerte word lig by Moeggesukkel’

Só vertel die 43-jarige Jacques Papenfus. Hy help mense wat hoop verloor het. Jare gelede was hy immers in dieselfde bootjie. Hy vertel: “Ek het in Harrismith grootgeword. Ons was ʼn hegte gesin – Pa, Ma, my ouer broer Aldo (toe 13), ek (toe 9), my boetie Handrè (toe 5) en my babasussie Leandrè (toe 2). Ons en ons ouers was met vakansie by die see. Ons het ontspan, daar was volop gesinstyd en baie vreugde.

“Ons het wel besluit om vroeër terug te keer huis toe. Ons plan was eenvoudig: Ons sou vinnig by die huis stop en daarna my oupa en ouma op die plaas gaan verras. Dit was Kersfees. Dit sou ʼn spesiale tyd wees – Kersfees saam met ons familie. Ons het al die geskenke in die motor gelaai, met die vooruitsig om dit op Kersdag by Oupa en Ouma oop te maak.

“Maar daardie Kersdag het nooit gekom nie. Op pad terug, naby Pietermaritzburg, het my pa ʼn hartaanval agter die motor se stuurwiel gehad. Die ongeluk was verwoestend: My pa, my ma, my broers en my babasussie is almal dood.

“Ek het eers ná Kersfees in die hospitaal wakker geword, met ʼn ernstige kopwond, ʼn been wat op drie plekke gebreek is en ʼn gebarste milt. Ek het die ongeluk oorleef; die ander nie. Ek was gelukkig; hulle was nie.”

Sonder hulle wat hom liefgehad het

Ná die ongeluk is Jacques se hele wêreld in chaos gedompel. Alles het deurmekaar gevoel, en in sy siel was daar net leegheid. Daar was ʼn donker, seer plek waar eens vreugde was. Hy sê dit het gevoel asof hy op ʼn pad sonder rigting was, sonder die mense wat hom liefgehad het, sonder hulle wat vir hom ʼn tuiste was. Hy het sy veilige hawe verloor.

@daarishoop_moeggesukkel

Pa, Ma en Seun het van die Kaap af Pretoria toe gekom op ‘n belofte van werk. Hulle het alles opgepak en agtergelaat, met die hoop op ‘n nuwe begin elders. Ongelukkig het dinge nie vir hulle uitgewerk soos beplan nie. Hulle het hulself in ‘n oomblik van nood bevind en moes vir vier nagte op straat in Sunnyside oorleef – van alle plekke. Weereens, jammer aan diegene wat ons tans nie kan help nie. Dit is nie omdat ons nie wil nie, maar eenvoudig omdat ons regtig nie plek het nie. Ons gaan ‘n plan maak! Hierdie gesin sal vir ‘n rukkie ‘n heenkome kry in ‘n ou karavaan op Moeggesukkel se perseel. Ons MOET help… Dankie aan elkeen wat saam met ons ‘n GROTER verskil maak!

♬ original sound – Moeggesukkel
Jacques en sy span bring deesdae hoop vir die hooplose en vertel daarvan op hulle TikTok-rekening.

Jacques het later by familie gaan woon. Hy was maar 14 toe hy begin het om met dagga te eksperimenteer, op soek na ʼn soort ontsnapping, na iets om die pyn te verdoof.

Dagga was egter bloot die begin. Hy was 18 toe hy in heroïen se kloue beland het, en dit het hom al hoe dieper in ʼn put van selfvernietiging afgetrek.

Hy vertel: “Ek het sewe jaar lank ʼn stryd hiermee gevoer. Daar was talle oomblikke van absolute gebrokenheid, maar ook diepe selfondersoek ten einde die verslawing te probeer oorwin. Dit was sewe jaar se val en opstaan. Dit was nie maklik nie, maar ek het ook dít oorleef. Vandag dra ek die wonde daarvan, as bewys van waar ek was en van hoe ver ek gekom het.”

Die pad na genesing

Jacques se genesing het in sy omgeehart ontspring. Een aand in Pretoria, vertel hy, het hy ʼn diepe deernis vir weerlose mense in homself ontdek. “Ek en my vriend Lukas Mphuti het deur die stad se strate gery. Dit was vir ons  ʼn gewone aand; ek het egter nie geweet dat dit die begin van my nuwe reis sou wees nie. Op Kerkplein het ons twee hawelose mans op ʼn bankie sien sit. Ek het gewonder of hulle iets gehad het om te eet of te drink. Ek het my afgevra: Is hulle so verlore soos ek destyds was? Ons het ʼn paar eenvoudige stukkies kos by ons gehad – brood, atjar, ʼn piesang en aanmaakkoeldrank. Ons het by hulle gaan sit en die kos met hulle gedeel. Dit was ʼn klein gebaar, maar dit het my geseën op my pad na verlossing. Hierdie belewenis was deel van my genesingsreis.

“Van toe af het ek twee keer per week daarheen teruggekeer, nie slegs vir Basie en Klasie se onthalwe nie, maar ook om die ander mense wat so op straat gewoon het van kos te voorsien. In hierdie gee en uitreik het ek begin ontdek dat ek waarde het. Dat ek meer is as my verlies of my verslawing.

“Deur iets vir ander te beteken het ek uiteindelik die krag gehad om dwelms en die lewe se ander uitdagings finaal te oorwin.”

Vandag leef Jacques reeds 15 jaar sonder dwelms.

* Lees môre verder hoe Jacques deesdae hoop bring vir mense wat hoop verloor het. En hoe God sy en sy vrou se droom bewaarheid het toe Hy hulle ʼn groot gesin gegee het.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF