Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Jesus het élke vrou se waarde raakgesien en erkenning gegee,’ sê Susan Coetzer

SAAMGESTEL DEUR ENGELA DUVENAGE; HOOFFOTO: FACEBOOK

Die gewilde skrywer, motiveringspreker en aktrise Susan Coetzer se jongste boek, Blinde mol of wyse uil? (Lux Verbi, 2022) fokus op integriteit, en die waarde wat dit in ons tyd, en in menige mense se lewens- en suksesverhale speel. Op haar ligte, skreeusnaakse en dikwels persoonlike manier skryf sy onder meer hoedat eerlikheid, opregtheid, waardering, respek, regverdigheid, getrouheid, deernis, nederigheid, vrede en omgeeliefde alles deel is van ’n lewenspakkie wat met integriteit en in geloof geleef word.

Hier is ’n uittreksel uit die boek, met vergunning van die uitgewers.

En toe Hy opkyk, sien Hy die rykes wat hulle gawes in die skatkis gooi. En Hy het ook ’n arm weduwee daar twee geldstukkies sien ingooi. En Hy sê: Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het. Want hulle almal het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe.

– Lukas 21:1-4

Mense met integriteit waardeer ander mense en wys dit vir hulle. Jesus het gereeld gewys dat Hy mense waardeer. In die verse hier bo sien ons hoe Hy erkenning gee aan die arm weduwee se waarde as mens, nie aan die geringe waarde van die twee muntstukkies wat sy ingegooi het nie. Ek wonder hoeveel mense wat daar teenwoordig was, het hierdie vrou se liefdesoffer raakgesien en haar daarvoor geloof. Dalk was dit net Jesus. Want Hy kyk dieper as ’n stewige bankbalans.

Blinde mol of wyse uil?

Hy kyk na die goeie balans in jou hart. En Hy het gesê die arm weduwee se innerlike rykdom het soveel meer waarde as die twee muntstukkies waarop die rykes neergesien het. Jesus het goeie dade raakgesien en aan mense erkenning vir hulle goedheid gegee. Hy het ook die goedheid in die skynbaar onbelangrike mense raakgesien, al het ander verkies om hierdie mense te ignoreer of selfs te kritiseer.

In Jesus se leeftyd is vroue as minderwaardig geag, maar in Jesus se oë was hulle geensins minderwaardig nie. Hy het die arm weduwee se waarde raakgesien en haar uitgesonder as die een wat die meeste vir Hom gegee het. Sy het alles wat sy besit het, gegee.

Dit laat my hart warm klop wanneer ek lees met hoeveel deernis Jesus vroue behandel het, ook die weduwees en die geskeides en die vroue met ’n nie-so-suiwer reputasie. Jesus het vroue nie as onbelangrik beskou nie. Hy het elke vrou se besonderse waarde raakgesien en openlik erkenning aan hulle gegee, midde-in ’n mansgeoriënteerde samelewing.

Lees gerus Markus 14:3-9. ’n Vrou seën Jesus met ’n albastefles vol duur lekkerruikolie. Die mense kritiseer haar, maar Jesus staan vir haar op. “Oral waar die goeie nuus in die wêreld verkondig word, sal wat hierdie vrou gedoen het, ook vertel word, en sy sal hiervoor onthou word,” sê Hy.

Mag dit ’n inspirasie wees vir elke vrou wat nie altyd die erkenning kry wat haar toekom nie.

Jesus, die Man van genade en integriteit, eer hierdie vrou openlik in die openbaar vir die goeie daad wat sy vir Hom gedoen het. Jesus sorg dat haar naam hoog gehou en onthou sal word, terwyl die beterweterige godsdienstiges haar kosbare bydrae aan die Meester kritiseer as ’n vermorsing van geld.

Vandag nog kry ons mense wat geen waarde aan ander se goedheid heg nie. Hulle aanvaar dit as vanselfsprekend of ignoreer dit selfs openlik. Gelukkig is daar ook dié mense wat erkenning gee aan ander vir die ekstra myl, die ekstra tyd, die baie energie en die innovering wat hulle in hulle werk, sosiale geleenthede en vriendskappe inploeg.

As vryskutter het ek oor die jare vir ’n verskeidenheid maatskappye artikels en boeke geskryf. Party redakteurs het nooit moeite gedoen om dankie te sê of erkenning te gee aan my werk nie. Hulle het slegs met my gepraat as hulle kritiek wou lewer. Ander het, genadiglik, my hardwerkendheid, skryftalent en my bydrae tot die sukses van hulle maatskappy raakgesien en gereeld vir my positiewe terugvoering en erkenning gegee. Wie dink jy was die wind onder my skrywersvlerke? En wie het my ontmoedig en waardeloos laat voel?

Mense met integriteit is nooit so selfgesentreerd of so besig met hulle eie belangrike sake dat hulle ander se bydrae ignoreer nie. Hulle sien die waarde van elke mens raak, hoe gering dit ook al is. En hulle gee erkenning waar dit toekom. Iemand met integriteit se woordeskat is ryk aan waardering vir ander. Hulle aanvaar nie ander se goedheid en guns as vanselfsprekend nie. Wanneer iemand iets vir hulle doen of iets vir hulle beteken, sê hulle dankie. En hulle sal nooit die eer vir ander se harde werk of kreatiewe en innoverende idees vir hulleself toe-eien nie.

Ek hou nie daarvan as mense ’n ophef van my as ’n celebrity maak nie. Dit laat my ongemaklik voel. In my oë is ons almal celebrities. My definisie van ’n celebrity is “a person whose life is worth celebrating”. En ek glo ons elkeen se lewe is belangrik genoeg om gevier te word. Ek glo ons almal is hier om te dien, nie om gedien te word nie.

Ek verwag nie spesiale behandeling nie, maar ek glo ek verdien regverdige erkenning wanneer dit my toekom. Ons het tog almal ’n behoefte aan ’n plekkie in die son. Wanneer iemand vir my dankie sê, is dit soos ’n vitamien B-inspuiting. Ek kry sommer nuwe woema en doen nog meer. Ná een funksie waarin ek my hart en siel en sweet uitgestort het, het ’n jong vrou ’n paar dae later hierdie woorde vir my gestuur: “Someone out there feels better because you exist.”

Ek het dit op my selfoon gestoor. Hierdie woorde sal bly dien as aansporing wanneer ander mense my ignoreer of soms selfs ongeskik en wreed teenoor my optree.

Blinde mol of wyse uil kos R240, en word deur Lux Verbi uitgee.

* Met vergunning van Lux Verbi/NB Uitgewers.

 

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF