Ek staan met ’n X-straal-uitdruk van ’n enkel wat op drie verskillende plekke gebreek is. En ek dink: Die menslike liggaam is só broos. Hierdie dop wat ons siel moet dra, breek alte maklik. Die vel kan oopskeur en skaaf. Die binnegoed kan deur bakterieë en virusse aangeval word. Die organe kan ophou werk. Die brein kan op verskeie maniere aangetas word …
Ja, die “dop” funksioneer op ’n wonderlike wyse – maar ai, dis erg kwesbaar en besonder breekbaar.
Tog het God in sy alwysheid besluit Hy wil ons siel aantrek met hierdie menslike liggaam. Toe het Hy daarna gekyk en gesê: “Dit is baie goed.” Hy het later self hierdie liggaam aangetrek en tussen ons kom leef. So het Hy wonderdade verrig en uiteindelik die ganse mensdom gered.
Jesus het geweet hoe belangrik ons liggaam is. Hy het baie van sy tyd op aarde daaraan afgestaan om mense se liggaam reg te maak. Hy het lammes laat loop, blindes laat sien, bloedvloeiing gestop, siekes genees, dooies opgewek, en nog meer. Hy het geweet ons brose liggaam is heilig.
Jou liggaam word in die moederskoot gevorm, en dit bly joune totdat jy eendag sterf. As jy gelukkig is, sal jy in hierdie lyf jou eerste tree gee, jy sal leer hardloop en bome klim. Jy sal leer praat, lees en skryf. Jou lyf stort trane en lag uitbundig. Dit ervaar liefde en warmte.
LEES MEER: Selfliefde lei tot deernis met ander
Jy beleef God vir die eerste keer in jou liggaam. Dit word ouer, maar die essensie daarvan bly lewenslank dieselfde. Dit bly jóúne.
Daar is mense wat baie tyd en geld daaraan bestee om hul liggaam te verander – maar dit was nooit regtig die bedoeling nie. Daar is ander wat hul liggaam verwaarloos of onbewustelik verniel. Jy moet weet jy kan nie ‘n nuwe een kry nie.
Ons leef in ’n tyd waar die samelewing graag ons lyf kritiseer. Daar is óf te veel van jou óf te min; jou velkleur is “verkeerd”; jy is óf te manlik óf te vroulik; jy praat te hard en te veel, en dalk sê jy te min. Jy is nie mooi of jonk genoeg nie. Blykbaar is jy nie slim of sterk genoeg nie.
Die mense van dié wêreld sê dat hoe jy lyk en optree nie goed genoeg is nie.
Soms gebeur daar selfs verskriklike dinge met jou liggaam, dinge waaroor jy geen beheer het nie. Dit word dan baie moeilik om te leef met die waardigheid wat jou as kind van God toekom. Jy begin twyfel aan jou lyf. Jy voel dalk ongemaklik of selfs vasgevang daarin. Soms voel dit asof jou lyf jou teleurstel. Dis nie sterk of vinnig genoeg nie, dit raak siek, seer of stukkend.
Tog het God hierdie liggaam self aanmekaargeweef en Hy het gesê dis baie goed. Dis goed genoeg vir jou en jou omstandighede.
Nadia Bolz-Weber het eens gesê: “God red jou in jou liggaam en nie van jou liggaam nie.” Jou lyf mag dalk sy unieke uitdagings hê, maar dis die een wat vir jou gekies is. Al die uitdagings leer jou belangrike lewenslesse. Jou brose en breekbare liggaam kan jou leer om in afhanklikheid van God te leef. Dit leer jou om hulp te aanvaar. Dit hou jou nederig. Jy leer dat tyd bloot genade is.
Dit mag dalk nie altyd so voel nie, maar jou lyf is mooi en heilig vir God. Dis vir Hom belangrik, Hy het ’n doel daarmee. Dit kan tog nie anders nie. Dis die liggaam wat God na sy beeld geskape het, wat Hy ontwerp en vir jou gekies het.
Mag jy leer om jou lyf lief te hê, om dit te versorg. En om te leef soos ’n mens met ’n liggaam wat heilig en goed is.
Hoor wat skryf Paulus: “Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, ’n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie?” (1 Kor 6:19).
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.