Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Selfliefde lei tot deernis met ander

“Selfliefde” het ’n gewilde woord geword. Baie gesprekke, artikels en praatjies handel deesdae hieroor. Daar is wel die gevaar dat dit ’n goedkoop woord word, wat uitsluitlik gebruik word om te regverdig waarom jy dinge vir jouself moet doen of koop sodat jy vir almal om jou kan wys hoe oulik of belangrik jy is. Dan het selfliefde niks minder nie as eiebelang geword, egoïsme.

Vir Jesus was selfliefde ook belangrik. Hy het dit egter nie gemeet aan wat jy vir jouself doen nie, maar aan wat jy vir ander doen. Liefde vir en deernis teenoor jouself is nie blote selfsorg nie; selfliefde is ’n oproep tot aksie. Dis liefde wat in dade uitmond. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself, het Hy ons geleer. En ons ken dit, ons sê dit hardop, maar dit word nie noodwendig deel van ons menswees nie. 

Jesus se opdrag om ons naaste lief te hê soos onsself, impliseer dat ons onsself moet liefhê. Ons moet sag werk met onsself, ons moet genade hê vir onsself, ons moet omgee vir onsself en onsself liefhê en versorg. As ons dit kan regkry, sal ons liefde vir ander dieper reik, omdat die bron van liefde dan groter is en verder strek. 

Hoor hoe skryf die apostel: “As iemand sê, ‘Ek het God lief’, en sy broer haat, is hy ’n leuenaar. Want wie sy broer, wat hy sien, nie liefhet nie, kan nie God liefhê, wat hy nie sien nie” (1 Joh 4:20).

Wanneer ek oorreageer of iemand anders oordeel, vind ek dat dit dikwels verband hou met dié dele van my lewe waar ek besonder hard oor myself oordeel. Kortweg: My gebrek aan genade met myself maak my genadeloos teenoor ander.

Dis belangrik om hierdie verband tussen jou optrede na buite en jou innerlike gevoelens te herken. En dan te erken dat dit gewortel is in ’n gebrek aan liefde vir en deernis teenoor jouself. 

LEES MEER: Ontmoet God in jou omstandighede

As iemand ons daarna vra, is dit maklik om te erken dat deernis, barmhartigheid en genade noodsaaklik is in ’n Christen se lewe. Hoe ons met mekaar omgaan, is tog belangrik. Maar ons ag dit dikwels nie nodig om dieselfde soort guns aan onsself te bewys nie. Ons oordeel en veroordeel onsself, ons luister dikwels na daardie binnestemmetjie wat ons kritiseer en slegsê.

Ons gooi ons foute en tekortkominge voor ons eie kop as ’n manier om onsself te straf. Só sê ons vir onsself dat God se genade nie eintlik vir ons genoeg is nie. Ons reken ons verdien dit nie.

Selfliefde beteken dat jy jouself behandel op ’n manier wat jou swaarkry en pyn verlig, wat dit nie vererger nie. 

Om jouself lief te hê en om vir jouself om te gee is dus nie gelyk aan hooghartigheid of narsissisme nie; dis eerder ’n noodsaaklikheid ten einde werklik vir ander om te gee. Selfliefde is ’n gesonde verhouding met jouself. Dis om jouself te aanvaar met al jou tekortkominge en foute. Dis om jouself te vergewe. Om te erken dat jy nie perfek is nie, en daarin te rus dat jy steeds wonderbaarlik geskep is, uniek. Jy waardeer jouself vir wie jy werklik is. Op dié manier kan jy ook ander mense onvoorwaardelik liefhê. En kan jy hulle aanvaar, met al hul foute en tekortkominge, en hul uniekheid.  

Jy kan oor jouself sê, soos die Here God ná die skepping: “Dit is goed.” Jy is goed – van kop tot toon, van binne en van buite, met al jou nukke en grille, jou stukkende plekke en swakplekke, en met al die foute uit jou verlede.

Ja, ons vind dit moeilik om onsself lief te hê, om na onsself te kyk en lief te wees vir wat ons sien. In hierdie tyd voel ons dikwels ons is nie mooi genoeg of goed genoeg nie. Ons is nie perfek nie. En perfek is die standaard!

Ons voel dalk ons behoort nie aan die “regte” ras of kultuur nie, dalk nie die “regte” geslag nie. Dalk is ons nie maer genoeg, slim genoeg of oulik genoeg na ons sin nie. Maar om lief te wees vir jouself, en vir alles aan jouself, is uiters noodsaaklik – vir jou én vir jou hele omgewing. Sonder selfliefde kan jy nie jou liefde ten volle uitleef waar jy leef en beweeg nie.

Ons almal wil liefhê. Ons wil liefde ontvang. Liefde is die rede vir ons grootste vrese en diepste begeertes. ’n Mens kan selfs sê liefde is die rede vir ons bestaan. Daarom is dit dalk nodig dat jy ’n slag voor die spieël gaan staan en besef: Hierdie liefde begin by mý. 

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF