Daar is ’n legende oor ’n koning uit die Ooste met vele bekommernisse, wat op ’n dag al sy wyse manne byeengeroep het met ’n spesiale opdrag: Hulle moes ’n leuse uitdink, magiese woorde wat hom tydens beproewings sou help. Dit moes op elke denkbare situasie toegepas kon word, in teëspoed sowel as voorspoed. En dit moes vir altyd geldig wees, kom wat wil.
LEES OOK: Pas jou vriendskappe op!
Daar was nog ’n vereiste: Die slagspreuk moes kort genoeg wees om op ’n ring gegraveer te kon word sodat die koning dit altyd kon sien.
Die wyse manne het aan die werk gespring – en gedink en gedink en gedink. Uiteindelik het hulle die slagspreuk geformuleer en na hul koning gebring. Dit was toe inderdaad wyse woorde vir elke situasie, goed en sleg. Vir wanneer dinge verander én wanneer dit om die dood nie wíl verander nie. Dit sou ’n angstige hart en deurmekaar gedagtes stil maak.
Die slagspreuk was eenvoudig, en het só gelui: “This too shall pass.”
Is dié storie oor die koning en sy slim manne waar, of is dit inderdaad bloot ’n legende?
Wie weet? Dit maak egter nie saak nie. Hierdie paar woorde leef in die gedagtes van mense regoor die wêreld. Dit troos hulle tydens beproewings, dit gee hulle moed en hoop as hulle gevaar trotseer.
Dit wys hulle ook daarop dat, wanneer dit baie goed gaan, alles in ’n oogwink kan verander. Dié wete weerhou hulle van hoogmoed.
Die wyses se woorde het digters en filosowe deur die eeue heen geïnspireer. Die Afrikaanse rockgroep Zinkplaat se eie weergawe daarvan klink só: “Alles is oukei, alles gaan verby. Die lewe is te kort om suur te word.”
Dit sál verbygaan …
Niemand in die Bybelse verhale het dit beter verstaan as Job nie. Nadat alles van hom af weggeneem is, het hy gesê dat ’n mens “jou swaarkry vergeet en daaraan dink asof dit water is wat weggeloop het” (Job 11:16).
Job het besef dat swaarkry verbygaan. Met verloop van tyd dink ons aan ons eertydse ellende as water wat weggeloop het.
Paulus eggo hierdie gedagte wanneer hy só aan die gemeente in Korinte skryf: “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig” (2 Kor 4:16-18).
Wat jou ook al seer of hartseer maak, vind troos in die waarheid dat dit uiteindelik sal verbygaan. Dat dit op heerlikheid sal uitloop. Alles wat vandag jou vreugde steel, sal vergaan. Weet dat God dit kan gebruik om jou karakter te bou. Vra Hom om jou te help om jou oë op die ewige te rig. Die wêreld is gebroke, en swaarkry is onvermydelik, maar Jesus kom weer. En wanneer dit gebeur, sal alle swaarkry verby wees. Hoor sy belofte: “Maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie” (Joh 16:22).
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.