Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Pas jou vriendskappe op!

Simone Gauche foto1: God se genade is groot

In die aanloop tot my verjaardag lees ek ’n artikel op ’n mediese webblad met die opskrif: “Lesse vanuit die langste studie oor geluk.”

Dié artikel raak my omdat ek besig is om verjaardagreëlings te tref. Reëlings, ja. Want wanneer ek verjaar, gee dit my ’n geleentheid om my vriendskappe te vier. Dis ’n dag waarop ek die mense wat ’n verskil in my lewe bring met eetgoed bederf, en ons geniet ’n kosbare tydjie saam.

LEES OOK: Om pa te staan vir jou optrede en keuses

Daar is wel ook die verlange na dié wat boodskappe van ver stuur en wat nie die dag en sy goedheid met my kan deel nie. 

Wat my veral van die artikel – ’n Harvard-studie oor menslike ontwikkeling – getref het, was dat die deelnemers se hele lewe oor dekades heen in oënskou geneem is. Dis in 1938 in Boston in die VSA van stapel gestuur en het onmiddellik drie geslagte in ag geneem: oupas/oumas, ouers, kinders. Meer as 2 000 mense se doen en late is in die loop van 85 jaar gevolg. Dis inderdaad die wêreld se langste wetenskaplike studie oor geluk. 

Die gelukkigste deelnemers het twee dinge gemeen gehad:

  1. Hulle het na hul gesondheid omgesien.
  2. Hulle het tyd afgestaan en doelbewus aandag gegee aan die opbou van liefdevolle verhoudings met ander. 

Almal van ons jaag geluk na. Ons wil weet hoe verkry ons geluk, en wat die faktore is wat geluk bepaal. Goeie gesondheid, ja. Dis vanselfsprekend. Maar tot die navorsers se verbasing het dit geblyk dat gesonde verhoudings die vernaamste bepalende faktor van sowel geluk as gesondheid was. 

Sam Walter Foss het ook hierdie waarheid besef toe hy in 1897 ’n gedig geskryf het wat losweg gebaseer is op die Griekse digter Homeros se epos Ilias – en daarmee het Foss die spyker op die kop geslaan: “Laat my bly in ’n huis reg langs die pad, waar die mens verbyjaag. Hulle is goed; hulle is sleg; hulle is swak. Hulle is sterk, wys en ligsinnig, net soos ek. Hoekom sal ek dan in die veroordelaar se stoel sit, of siniese oordele vel? Laat my woon in die huis reg langs die pad, en ’n vriend vir alle mense wees.” 

Die Bybelskrywers het dit lánkal gesê

Een van die wonderlikste waarhede oor die Bybel is die manier waarop Bybelse riglyne ons, eeue voor wetenskaplike navorsing dit sou aantoon, die pad na ’n gesonde en gelukkige lewe wys. Ja-nee, die pad na geluk is geen geheim nie. En alles wat ons daaroor moet weet, is lankal reeds in die Bybel opgeteken. As die mensdom tog net wou luister …

Dink aan Bybelverse soos:

• “Yster slyp yster, vriende vorm mekaar” (Spr 27:17).

• “Moenie by ’n vriend wat al jou pa se vriend was, verbygaan na jou broer se huis toe as jy moeilikheid het nie: ’n Buurman wat naby is, is meer werd as ’n broer wat ver is” (Spr 27:10).

• “Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God” (1 Joh 4:7).

• “Wie medelye met ’n vriend beskou as ’n las, het die eerbied vir die Almagtige verwerp” (Job 6:14).

• Of lees weer Prediker 4:9-12 wat verduidelik: “Twee vaar beter as een …” 

• Jesus leer ons ook wat ware vriendskap is en hoe dit lyk toe Hy gesê het: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê” (Joh 15:13).

‘’n Paadjie wat in onbruik verval …’ 

Ten spyte van al die tegnologiese hulpmiddels tot ons beskikking is eensaamheid aan die toeneem. Die afgelope pandemie het, al kan ons nog nie die volle impak daarvan verreken nie, dit waarskynlik vererger.

Dit blyk dat ons, soos met fiksheid, gereelde oefening nodig het om gesonde verhoudings te handhaaf. Én om te voorkom dat die vriendskap-vlammetjie geblus word. Daarby kan ’n stokperdjie, ’n sportsoort of vrywillige werk jou netwerk verbreed en jou help om nuwe vriendskappe te vestig. Ralph Waldo Emerson het gemaan: “Gaan dikwels na die huis van jou vriend. Onkruid versmoor ’n paadjie wat in onbruik verval.” 

’n Onberekenbare voorreg

Dit blyk dat vriendskappe ons gesonder maak, dat dit ons help om moeilike situasies te oorkom en dat dit ons gelukkiger mense maak. Robert Louis Stevenson het gereken dat solank ons liefhet en deur ander geliefd is, ons onvervangbaar is. Niemand is nutteloos as sy of hy ’n vriend het nie. 

Namate ek ouer word, besef ek my verjaardag gaan ál minder oor my en ál meer oor die mense om my. Dis ’n onberekenbare voorreg.

Dalk is daar iewers ’n vriend met wie jy weer in verbinding moet tree. Dalk moet jy ’n doelbewuste poging aanwend om nuwe vriendskappe te vorm. Hoe ook al, mag jy lank en gelukkig lewe met al die liefdevolle vriendskappe in jou lewe.

Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF