Dit is nie nuus dat die huwelik en finansies in ’n tawwe tameletjie kan ontaard nie. In 2021 het Statistieke SA die egskeidingsyfer bekendgestel en getoon dat vier uit tien huwelike nie die 10-jaar mylpaal sal haal nie. Kundiges sê die drie hoofredes vir die verbrokkeling van huwelike is gebrekkige kommunikasie, ontrouheid en finansies.
Finansiële kundiges meen boonop dat sowat 80% van egskeidings in Suid-Afrika deur skuld en geldelike probleme veroorsaak word. ’n Studie deur Ramsey in die VSA het getoon dat geld die grootste kwessie is waarom paartjies verskil en dat 86% van paartjies wat in die laaste vyf jaar getroud is, hul huwelik begin het met skuld.
Wees gereed om te praat oor jou huwelik en finansies
Miskien het julle onlangs besluit om te trou, of jy en jou huweliksmaat het besef dat dit tyd is vir dáárdie gesprek – die een rondom finansies. Wat ook al jou unieke situasie, om besluite oor finansies saam te neem en eerlik daaroor te kommunikeer is van kardinale belang vir die bou van ’n gesonde huwelik.
“Dit maak nie ’n verskil of julle baie of min geld het nie. As julle verskillende besteegewoontes, spaardoelwitte, idees oor beleggings of uiteenlopende vrese oor die moontlikheid van armoede het, sal finansiële probleme uiteindelik in julle huwelik kop uitsteek,” sê Suze Orman, internasionale persoonlike finansiële raadgewer.
Sy het ook gewaarsku dat dit soms kan gebeur dat die een wat die meeste geld in die huwelik inbring, sal probeer om die finansies te beheer. Dit kan tot ’n magstryd oor geld lei, wat wrywing in die huwelik veroorsaak.
PC Bruwer & Vennote benadruk die waarde van kommunikasie oor finansies in ’n huwelik of verhouding en verduidelik waarom alle partye moet weet wat in die gesin se finansies aangaan. Dit begin by oop kommunikasie en om nie enige inligting van jou maat te weerhou nie.
Tekort aan geld is níe die probleem nie
Huweliksberaders Deon en Karin du Toit verduidelik in ’n artikel, Finansies en Jou Huwelik, dat egpare verkeerdelik dink dat ’n tekort aan geld die probleme in hulle verhouding veroorsaak.
Hulle identifiseer die volgende reedes waarom paartjies vassit oor finansies:
- Paartjies kan nie kommunikeer oor die werklike probleem sonder om mekaar skuldig te probeer maak nie;
- Hulle wil nie hul eie skuld en verantwoordelikheid erken nie;
- Hulle gee meer uit as wat hulle verdien;
- Hulle werk nie volgens ’n begroting nie;
- Hulle verstaan nie dat ’n emosionele leemte in hul lewens tot emosionele spandering van geld kan lei nie;
- Hulle dink dat vreugde in die lewe gaan oor dit wat hulle kan koop of besit in plaas daarvan dat dit gesetel is in wie hulle is en waarvoor God hulle wil gebruik op die aarde;
- Mense wat tans in krisisse sit as gevolg van die ekonomiese druk, is nie bereid om drasties af te skaal nie.
“Die oplossing vir die meeste uitdagings, ook in finansies, begin by wie jy is en wat jou skeppingsdoel is,” sê die Du Toit’s. “Geen kontantbedrag kan mense se finansiële krisis permanent oplos nie. In die meeste gevalle skuif dit die oorspronklike probleem uit met ’n paar maande en voor hulle hulle oë uitvee, is daar weer geldnood.”
Huwelik en finansies: Neem só beter besluite
Wenk #1: Pak julle geldsake saam-saam aan
Dit is beter om vanuit die staanspoor te besluit hoe julle julle geldsake gaan hanteer. Praat daaroor. Bespreek julle finansiële doelwitte. Besluit of dit beter sal wees om aparte bankrekeninge te behou en tekenregte op elke rekening te kry. Beplan ook dadelik hoe julle ’n spaarrekening gaan bedryf.
Wenk #2: Vermy argumente oor geld
Hoe vermy jy finansiële argumente met jou maat as julle eers getroud is? Deur julle verskillende geldpersoonlikhede vas te stel.
Netwerk24 beskryf die verskeie geldpersoonlikhede só: “Jou geldpersoonlikheid word gewoonlik gevorm deur jou grootwordjare, leefomgewing en loopbaan. En trou ’n rojale besteder met ’n suinigaard, kan die hare dalk waai as julle geen begrip vir mekaar se geldbenaderings het nie.”
Hoe bestee/bespaar julle elkeen? Bespreek julle finansies op ’n gereelde basis. Praat openlik en eerlik daaroor.
Wenk #3: Skerp kommunikasie op
Daar is dikwels ’n gebrek aan kommunikasie oor finansies binne ’n huwelik. Huweliksmaats steek vir mekaar geldsake weg of weerhou inligting oor wat hulle bestee, of oor hoeveel skuld hulle het. Een of ander tyd gaan die waarheid uitkom. Beraadslaag liewer altyd met jou maat oor al die uitgawes. Eerlikheid binne die huwelik het op alle vlakke betrekking.
Wenk #4: Beplan vooruit
Selfs al verloop jou loopbaan volgens plan, en jy verdien genoeg geld en het nie skuld nie, kan jy jouself steeds in finansiële moeilikheid bevind indien jy onvoorbereid is op noodgevalle. Kundiges se raad is ’n noodfonds of spaarfonds van minstens drie tot ses maande se maandelikse inkomste wat eenkant gehou moet word. Dít kan stres aansienlik verminder.
Lees ook gerus ons artikel, “Huweliksraad: Hoe om beter te kommunikeer”.
Bronne geraadpleeg:
- https://www.statssa.gov.za/?p=16142
- https://www.ramseysolutions.com/relationships/money-marriage-communication-research
- https://pcbruwer.co.za/die-waarde-van-kommunikasie-oor-finansies-in-n-huwelik-of-verhouding/
- https://juig.co.za/article/finansies-en-jou-huwelik-2/
- https://www.investopedia.com/articles/basics/07/money-personality.asp#:~:text=It%20may%20be%20useful%20to,spenders%2C%20debtors%2C%20and%20shoppers
- https://www.netwerk24.com/huisgenoot/raad/geldsake/5-wenke-om-jou-finansies-en-jou-romanse-of-huwelik-gesond-te-hou-20220610