Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Juanita op 50: ‘Ek is nader aan God, sterker en hopelik ’n beter mens’

LiG het al voorheen met JUANITA DU PLESSIS op die voorblad gespog. Vroeër vanjaar het dié gewilde sangeres 50 geword, en sy vier eersdaags ’n kwarteeu op die verhoog. Alles was egter nie maanskyn en rose nie, veral nie die afgelope paar jaar nie. Maar, sê sy, sy het nuwe hoop.

DEUR ILSE SALZWEDEL; FOTO\’S: ANNEMARIE WICHMANN

Die Juanita wat dié keer met LiG gesels, is nie dieselfde mens as die een voor die koronaviruspandemie nie. Hoewel daardie ellende ons almal op die een of ander manier negatief geraak het, is die vermaaklikheidsbedryf feitlik oornag tot stilstand gedwing. Met bykans rampspoedige gevolge vir baie sangers, akteurs en ander wat hul brood in die kunstewêreld verdien. Juanita en haar gesin was geen uitsondering nie. Maar, vertel sy vandag, saam met die bekommernis wat hulle sommige dae behoorlik platgeslaan het, het hulle as gesin én as enkelinge geestelik en emosioneel baie gegroei.

LEES OOK: Amor op amper-vyftig: ‘My geloofspad ná die seer met Joost het my sterker gemaak’

‘God is getrou’

“My geloof het my gedra,” sê Juanita. “Ons het wel spaargeld gehad, maar omdat daar geen vertonings was nie, het ook dit mettertyd opgeraak. Soos baie ander het ons soms nie geweet waar die geld vandaan sou kom om bloot die basiese dinge te betaal nie.” Dit was ’n tyd waarin hulle op hul knieë gebly het. “Ons moes eenvoudig glo dat God sal sorg.” En Hy het. Juanita vertel: “Al het ’n mens sommige dae gewonder waar Hy is, en of Hy ooit jou gebede hoor, kan ek vandag getuig dat God op ’n wonderbaarlike manier vir ons gesorg het. Hy is getrou.” Wanneer sy oor die afgelope twee jaar praat, hoor jy die emosie in haar stem. “Die Here het in die Bybel belowe om ons nooit alleen te los nie, en ons het dit beleef. Ons het regtig geleer om vir alles en in alles ten volle op God te vertrou, en ons het ervaar hoe Hy deure vir ons laat oopgaan.” Al was dit nie maklike tye nie, kon sy en Doepie, haar man en bestuurder, elke maand die nodige betaal. “Die geld het soms uit onverwagse oorde gekom. En ons kon sien hoe God op ’n bonatuurlike wyse voorsien.” In dié tyd het hulle by die Every Nation-kerk aangesluit, en ook deel van ’n omgeegroep geword. “Die Here het aan ons hierdie wonderlike geestelike familie gegee om ons te help dra in gebed. Ek het die wonderlikste groep vriendinne daar!” Om nou by ’n kerk ingeskakel te wees, is juis een van die groot veranderings in die Du Plessis-gesin se lewe. Dit het ’n anker geword. “Voor die pandemie was ons gedurig op die pad, en meestal was dit net ons gesin so saam. “Maar dis nie goed om in isolasie te leef nie; dis ’n strategie van die vyand om jou te isoleer. Tydens die grendeltyd het die Here baie duidelik aan ons gesê dis tyd dat ons ons prioriteite regkry. “En ons besef nou hoe belangrik dit is om medegelowiges te hê wat saam met jou kan bid, en wat vir jou by die Here kan intree. Dit het ons die krag gegee om aan te hou en nooit moed te verloor nie.”

“Ons het geleer dat wat ons het, meer as genoeg is. Wat jy kortkom, sal God voorsien. “Maar dan op sý tyd, nie joune nie. Ek moes die afgelope twee jaar leer om baie geduldig te wees …” vertel Juanita. Foto: Annemarie Wichmann

 ‘Al die genade’

Juanita sê sy verkies om op die toekoms eerder as die verlede te fokus. “Die verlede is verby; ’n mens kan niks daaraan verander nie – behalwe om daaruit te leer wat jy moet. “Ek kan in alle eerlikheid sê ek is nou sterker, en hopelik ’n beter mens. En ek het ’n baie meer intieme verhouding met die Here.” Wat het hierdie uitdagende tyd haar geleer? “Om dag vir dag te leef. Jy weet nooit wat die toekoms inhou nie. Wie sou ooit kon dink daar sal ’n tyd kom dat ons nie meer kan optree nie? “Dit het soms gevoel asof ons eenvoudig nie lig sien nie. Maar dan het ons weer dankie gesê vir al die genade wat ons wel beleef: Ons het mekaar; ons is gesond; ons het ’n dak oor ons kop. Ons het nooit honger gaan slaap nie. “Bloot om te kon asemhaal in ’n tyd waar mense letterlik gesterf het weens asemnood, was al ’n groot seën. Ons het mekaar aan sulke dinge herinner.” Juanita sê sy wil voortaan meer bewustelik leef. “Geld is nie alles nie; eintlik is dit net ’n gejaag na wind. Ek kan regtig nou soos Paulus sê dat ek weet hoe dit voel om baie te hê en ek weet ook hoe dit voel om min te hê. “Ons het geleer dat wat ons het, meer as genoeg is. Wat jy kortkom, sal God voorsien. “Maar dan op sý tyd, nie joune nie. Ek moes die afgelope twee jaar leer om baie geduldig te wees …” Nee, sy bekommer haar deesdae nie meer oor môre nie. “Jesus sê dit ook vir ons: Môre bring sy eie sorge. Ek weet die Here het ’n plan met ons toekoms. En Hy het ’n doel met ons lewe, met elkeen van ons.”

Bonustyd – en ’n nuwe begin

Die onverwagse bonustyd wat hulle as gesin saam kon deurbring, veral aan die begin van die pandemie tydens die streng inperking, is iets wat Juanita altyd sal koester. Die oudste van hul drie kinders, Ruan-Josh (31), het nie tydens die inperking by hulle gewoon nie, maar Franja en haar tweelingbroer Mario (28) wel. “Dit was aanvanklik nogal lekker om so rustig te wees. Ek het die afgelope 22 jaar nooit vakansie gehad nie; ek het die land vol gereis vir vertonings.” En toe, eensklaps, was hul onderskeie dagboeke leeg … “Ons het geswem, gebraai, legkaarte gebou en net lekker gekuier.” Hoewel hulle nog altyd bekend was as ’n hegte gesin – Franja en Ruan-Josh het dikwels saam met Juanita opgetree – het die swaarkry hulle nog nader aan mekaar gebring. “Dat nie een van ons ’n inkomste gehad het nie en almal saam swaargekry het, het ook beteken ons moes mekaar dra, mekaar aanmoedig en probeer positief hou.” Juanita sien daarna uit om voortaan meer dikwels op te tree, en om haar aanhangers in lewende lywe te bedank vir hul ondersteuning in die moeilike tyd. “Hul boodskappe op sosiale media het my help dra.” Daar is ook nuwe musiek uit haar pen op pad, en die opnames begin eersdaags. Voor die pandemie het Juanita en Doepie daarna begin uitsien om rustiger te leef. Sy wou minder optree. Maar al moet hulle nou op ’n manier opnuut vir hul toekoms beplan, bly die dankbaarheid. “Ons het mekaar, ons kinders, ons huis, ons gesondheid. Ek het weer geleer om die klein dingetjies in die lewe te waardeer. Ek het weer hoop vir die toekoms.”

Vyftig, en tuis in haar vel

Juanita het in April 50 geword – en sy lyk nie veel ouer as toe sy 24 jaar gelede die Suid-Afrikaanse musiekbedryf verower het nie. Vyftig is, wat haar betref, allesbehalwe vreesaanjaend. “Ek is gemaklik met wie ek is. Vroeër jare het ek my baie gesteur aan ander mense se menings, veral die snedige kommentaar op sosiale media. Maar soos ’n mens ouer word, maak jy mos vrede met jouself – met hoe jy lyk, met waar jy jou bevind. Ek is nou rustiger, want ek weet wat die waarheid is. En God ken my hart.” Die finansiële uitdagings wat die pandemie meegebring het, het haar boonop geïnspireer om haar handelsmerk uit te brei. Aanhangers kan deesdae uitsien na ’n nuwe, eksklusiewe reeks lyfsorgprodukte, handdoekstelle, japonne, “hoodies” en ’n leerhandsak. Juanita het die JD Exclusive Range, wat in Julie bekend gestel en aanlyn beskikbaar is, saam met Roedolf D Couture ontwikkel. (Hy ontwerp ook Juanita se uitrustings.) Die reeks sluit twee parfuums in. Die onderskeie name is nie net gekies omdat dit twee van haar grootste gospeltreffers is nie; “dis ook my persoonlike leuse”, sê Juanita. Vlieg Hoog is deur Jesaja 40:31 geïnspireer (“Hulle vaar op met vleuels soos die arende”) en Wees Lig deur Matteus 5:14 (“Julle is die lig vir die wêreld”). “Ek wil hê elke botteltjie parfuum moet ook ’n boodskap uitdra en iets vir die koninkryk van God beteken.”

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF