“Hy kon alles ervaar net soos ’n gewone pappa. Net op óns manier. Dit was baie mooi en baie spesiaal. En ek sal dit nie verruil vir enige iets in die wêreld nie. Hy kon my hand vashou regdeur die geboorte. En hy kon sy seuntjie vashou. Blake het gehuil, maar toe hy sy pappa se stem hoor was hy stil …”
Die Swanepoels se “manier” om hulle eersteling in die wêreld te verwelkom op 13 November 2023 wás inderdaad spesiaal. Johan “Pikkie” kon nie langs die bed staan toe sy vrou Claudia geboorte gegee het aan hulle seuntjie Blake nie. Johan was sterwend aan breinkanker en het in sy eie bed gelê, só gedraai deur die personeel by MediClinic Louis Leipoldt in Bellville dat hy sy vrou se hand kon vashou én in die groot oomblik kon deel.
Pikkie het uiteindelik sowat ’n maand saam met sy seuntjie gehad voordat hy op 12 Desember 2023 die stryd teen kanker by hulle huis verloor het. “Hy was rustig, hy was kalm. En hy is by die Here. Waarvoor kan ’n mens meer vra?” het ’n huilende Claudia oor dié hartseer dag vertel.
Hoewel haar tyd saam met Pikkie min was, was dit vir haar die grootste voorreg, sê sy.
Claudia Swanepoel, ’n haarstilis van Durbanville, het hulle merkwaardige liefdesverhaal in die studio van LiG: God se krag in my krisis kom deel. Kyk die volle getuienisvideo hier.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.