Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Klein Jana se ma: ‘Die wonderwerk is te groot om te begryp’

Nadat die kleine Jana Steyn per ongeluk onder haar pa se bewegende bakkie beland het, is daar landwyd asem opgehou. En saam gebid vir haar herstel. Dis nou byna drie maande later, en Jana is terug op die plaas. Sonder dat sy enige merkbare skade oorgehou het. Haar ma sê: “Jana sal eendag van God se grootheid kan getuig.”

“Haar voetjies hardloop nou weer die hele plaas vol. En haar vrolike gelag is musiek vir my ore. Ek dank die Vader elke dag vir hierdie wonderwerk. Dis te groot om te begryp.”

Só sê die 27-jarige Kelly Steyn ná die nagmerrie wat sy en haar man Shaun (29) die afgelope drie maande deurgemaak het. Die traumatiese gebeure nadat dié kleinding (nou 20 maande) onder haar pa se bakkie beland het, het hierdie gesinnetjie se lewe soos handomkeer verander.

Kelly vertel: “Jana is ná agt weke in die hospitaal weer haar ou self, en sy geniet elke oomblik hier by die huis. Sy is altyd aan die gang, aan die babbel en beweeg. Sy wil net saam met haar pa rondry en tussen die diere wees.

“Sy hou van drukkies en soentjies uitdeel, en haar hart is vol liefde. Sy is weer die kind wat sy voor die ongeluk was. Ons is só dankbaar daaroor!”

‘Nee, asseblief, Here!’

Maar 26 Augustus 2025 is steeds vars in die ouerpaar se geheue. Dit was ’n gewone Dinsdagoggend op die plaas Cave Familie Boerdery buite Koster in Noordwes. Kelly het net ’n oomblik lank haar rug gedraai toe Jana soos blits wegglip. Sy wou agter haar pa en driejarige boetie Joshua aan wat met die bakkie sou ry.

Kelly onthou: “Toe die bakkie skielik tot stilstand kom en ek Jana hoor huil, het ek yskoud geword. Ek het begin hardloop. Shaun het haar onder die bakkie uitgehaal. Ons het gesien haar gesiggie het baie seergekry. Die bloed het tot in haar nek afgeloop.

LEES OOK: Perderuitertjie (4) herstel ‘wonderbaarlik’ na skedelfraktuur

“Shaun het uitgeroep: ‘Nee, asseblief, Here, nie my kind se mooi gesig nie!’

“Ons was diep geskok, maar ek het besef ons kon nie nou ineenstort nie. Ons het hardop gebid en die Here gevra vir wysheid en leiding. Dat Hy sy beskermengele stuur om Jana te omring en veilig te hou. Dat Hy haar en die trauma van mekaar sal skei sodat sy nie te veel daarvan beleef nie.

“Ek het vir Shaun gesê dis niemand se skuld nie. Ons moes net sterk wees ter wille van ons kind. My ouers het vir Joshua kom haal en ek en Shaun het hospitaal toe gejaag. Jana was op my skoot. Sy het geskree van die pyn. Die ambulans het ons halfpad hospitaal toe gekry.”

“Om my kind so te sien veg vir haar lewe was die ergste ding wat ek nog ooit ervaar het. Ek wou al haar pyn vir my vat …”

‘Ek kon voel hoe die hemel suis’

“Terwyl ons by Waterfall City Hospital in Midrand gewag het, kon ek voel hoe die hemel suis van al die gebede wat vir Jana opgaan. Ons het bly bid vir kalmte, en ons skok en trauma by die Here se voete neergelê. Ons het net oorgegee.

“Ons het besef Jana is in sy hande en dat ons nie aan sy liefde hoef te twyfel nie. Ons het gevoel hoe Hy ons sterk maak.”

Jesaja 41:13 het Kelly in dié tyd getroos. Dit lui só: “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ek help jou.”

Jana se gesigwonde is met steke geheg. Daar is ook vasgestel dat sy ’n skedelfraktuur het; daar was trouens ’n groot gat in haar skedel waar die dokters stukkies been moes verwyder. Genadiglik het die res van haar lyf en haar organe goed gelyk.

Ná ’n vier uur lange operasie moes Jana ses weke in die intensiewesorgeenheid deurbring, en toe het twee weke se rehabilitasie gevolg.

Kelly vertel dat sy die Here elke aand gevra het om haar die nodige rus te gee en haar brein “af te skakel”.

“Die Here was getrou,” sê sy. “Ek en my man het ’n berader gaan spreek en dié het ons gehelp. Joshua was sewe weke lank by ’n spelterapeut wat hom gehelp het om sy trauma te verwerk.

“Shaun het elke dag vir my en ons dogtertjie gebid. Hy het vir Jana die Efesiërs 6-wapenrusting ‘aangetrek’ en haar gesalf. Hy het my kalm en rustig gemaak. Ná dese is ons net nog nader aan mekaar.”

‘Dis asof Hy ons hierdeur teruggeruk het na Hom’

Die gebede en ondersteuning van familie en vriende was vir hulle ’n groot seën. Kelly vertel ook hoe die trooswoorde in Jesaja 43:1-2 haar gehelp het: “Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is Myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.”  

Al dié dinge het daartoe bygedra dat haar verhouding met die Here nou soveel dieper as voorheen is. “Voor die ongeluk het ek die pad met die Here gestap, maar ná Jana se ongeluk is ek selfs méér betrokke by Hom en sy saak, en my band met Hom is soveel sterker.

“Dis asof Hy ons hierdeur teruggeruk het na Hom. En elke keer as ek my kind sien rondhardloop, dank ek die Here.”

Klein Joshua was baie bly om almal terug by die huis te hê. En Jana is weer haar ou self. Sy het geen emosionele skade oorgehou nie. En sy speel graag saam met haar boetie.

“Ons is wel versigtig,” sê Kelly. “Ons wil nie hê dat Jana te veel kere val of gestamp word nie. Daarom dra sy vir eers ’n spesiale helm om haar brein te beskerm. Sy moet heeltemal herstel voordat die dokters ’n laaste operasie sal uitvoer om die gat in haar skedel te herstel. Dit sal oor so ’n jaar wees.

“Die dokters is baie positief, en hulle is gelukkig met haar goeie vordering.”

Shaun en Kelly het wel ook “huiswerk” gekry: Hulle moet volhou om Jana se brein te stimuleer met die soort oefeninge wat sy tydens haar rehabilitasietyd gedoen het. Daar is weeklikse arbeidsterapie, asook allerlei ekstra oefeninge.

“Jana se toekoms lyk uitstekend. Ek vertrou dat die merkies op haar gesig baie mooi sal herstel. Ek is daarvan oortuig dat as iemand haar eendag vra wat met haar gesig gebeur het, sy van God se grootheid sal getuig. Dat sy sal sê haar pa se bakkie het oor haar kop gery – maar hier staan sy nou! Haar naam beteken nie verniet God’s gracious gift nie!”

’n Ekstra-spesiale Christusfees

“My droom vir Jana is dat sy haar naam sal lééf. Dat sy altyd sal weet dat God haar liefhet en haar beskerm omdat sy ’n belangrike doel op hierdie aarde moet vervul.”

Kersfees is om die draai, en Kelly vertel: “Ons het nie ’n Kersboom nie en ruil nie geskenke uit nie. Ons hou ’n Christusfees en gaan Kersoggend kerk toe. Daar vier ons nagmaal. Daarna kuier ons die hele dag saam met familie op die plaas. Daar is ’n waterwurm en lekker kos.

“Vanjaar sal ekstra-spesiaal wees: Jana is by ons. Ons is só dankbaar vir die klein dingetjies in ons lewe. En vir gesonde kinders.

“Die Here het my weer eens gewys hoe lief Hy sy kinders het. Hy het my ook gewys dat gebed kragtig is. En dat ons Hom ten volle kan vertrou.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF