Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Perderuitertjie (4) herstel ‘wonderbaarlik’ na skedelfraktuur

“Dit wat met Marlin gebeur het is 100% die Here se genade. Dit is sy genesende krag wat haar teruggebring het,” sê Elmarie Wilkinson van Zambië wat hieronder vertel wat op Vadersdag met hulle vierjarige dogtertjie gebeur het.

Sondag 16 Junie. Wat ’n lekker dag, ek en Marlin was baie opgewonde om vir Pappa sy geskenk te gee vir Vadersdag. Die middag 12 uur het ons gery na die lughawe om dokter Sannie en haar dogter Santjie te gaan oplaai wat by ons kom kuier het uit Suid-Afrika. Dit is hulle grond waarop ons woon en huur.

Marlin het chips en pizza geëet en lekker gespeel. Ek het haar heeldag bewonder oor haar oulike maniere en haar mooi lang hare, en die klere wat sy self kies om aan te trek. Terrex boots, camo tights en ’n pienk baadjie.

Ons het huis toe gery om voor vyfuur terug te wees. Dit is Sondag en al die diere moet gevoer word. Pa Josh voer elke aand in die week en naweke self die diere. Die perde eerste en dan die skape.

Haar eie perd het haar geskop

Marlin het saam met Josh gaan perde voer. Die perde is redelik onvoorspelbaar as dit by etenstyd kom, so elke perd kry voer in sy eie kamp. Marlin se eie perd, IPT (It’s Party Time) het voor haar hok staan en wag vir haar voerbeurt toe Marlin onskuldig aangestap kom. Josh was besig om die eerste perd te voer toe hy ’n benoude gil hoor. Met die omdraai sien hy hoe IPT haar ore plat trek en uit die bloute op Marlin afstorm. Marlin het geskrik en probeer weghardloop maar tevergeefs, toe IPT by haar kom draai sy om en skop haar.

Josh het gedink sy is dood. Sy’t bly lê. Hy het met haar, pap en doodstil, in sy arms tot by die huis gehardloop. Haar kop was op twee plekke stukkend, die een gedeelte het soos ’n duik gelyk en toe die bloeding stop, kon ons mooi sien daar was stukkende been en ons kon stukkies van haar brein sien. Marlin se koppie het baie gebloei. Dit het ongelooflik seer gelyk! Ek het op my knieë geval en die Here gesmeek om ons dogtertjie se lewe te spaar. Uit paniek stuur ek ’n stemnota na ons selgroep hier in Lusaka: “Asseblief, bid vir Marlin, ons perd het haar geskop, dit lyk verskriklik! Asseblief, bid dat die Here haar sal spaar, asseblief, Here!”

Ek het onmiddelik geweet ek kan niks help nie, net die Here kan Marlin se lewe red. Net daar op my knieë het die Here vir my kom sê “daar waar chaos is, is Ek nie”. Ek het kalm geword en kon dink wat om volgende te doen.

Sannie bel soos ons ry die hospitaal, want sy ken die dokters daar. In die kar het ek nie een oomblik ophou bid nie. Ek kon my gebede nie inhou nie. Die Here het my laat hardop bid: “Here, sy is u kind. Ons het haar lief. U het haar lief. Ons gee haar in u hande, Here. Maak ons sterk vir dit wat U besluit om met Marlin te doen.” Ons het Marlin totaal aan ons Vader oorgegee en ook besef dat Marlin aan die Here behoort, Hy kan haar enige tyd kom haal. Marlin is sy eiendom en sy kind.

In die kar het ons spesifiek gebid dat die Here Marlin moet wakker hou tot by die hospitaal en ons het ook gevra dat die Here die regte dokter sal stuur om ons te help. Sy het gekreun van die pyn en was naar. Die rit het omtrent 35 minute geneem.

By die ongevalle-afdeling het hulle vir haar goed gegee vir die pyn. Sy’t kort-kort gehuil en gegil van die pyn. Ek was in en uit met ons jongste, baba Gina wat sewe maande oud is. Josh het nooit vir Marlin gelos nie. Hy het heeltyd by haar gebly, gebid en gehuil.

Ons selgroepvriende en ds Willem Schoeman van ons NG gemeente in Lusaka was ook daar om saam met ons te bid en ons te ondersteun.

‘God self gaan aan Marlin werk’

Ons moes besluit. Vlieg ons Marlin met die mediese vliegtuig na Suid-Afrika of gaan sy in Lusaka hierdie groot breinoperasie ondergaan. Die CT-skanderings het bevestig haar skedel het ’n fraktuur gehad en ’n stuk been het in haar brein gesteek. Daar was ook splinterstukkies been wat uitgehaal moes word.

Ons moes besluit en gou. Ek en Josh was op ons knieë. Ons het gebid, “Here Jesus, asseblief, hoe maak ons?” Ek besef toe, hier waar ons nou is in hierdie hospitaal, hier is die Heilige Gees teenwoordig. Of ons by die heel beste dokter in Suid-Afrika kom of hier in Zambië … God self gaan aan Marlin werk.

Die tekens was vir ons duidelik dat die operasie onmiddelik moes gebeur. Voor Marlin in is na die teater het die dokters saam met ons hande gevat. Ek het in Engels gebid sodat hulle kon verstaan: “U hande is hulle hande, Here. Uself gaan aan Marlin werk. Ons dank U vir hierdie mense vir wie U die kennis gegee het om Marlin te kan help. In Jesus Naam. Amen.”

Dit was al laat. Marlin was omtrent drie ure in teater. Josh het voor die teaterdeur bly wag en ek was op en af met babasussie. Ons kon kalm bly. Ons het aanhou bid en vertrou.

Na die operasie het die dokters ons voorberei dat daar probleme kan wees weens skade aan Marlin se brein. Sy sal dalk weer moet leer om te loop. Die linkerkant van haar lyfie kan lam wees. Haar sig kan weg wees. Spraak was die grootste bekommernis.

Ons het saam hande gevat om Marlin se bed en gebid. Die Heilige Gees het ons gevul met soveel moed, krag en vrede. Wanneer vrees inkruip, het ons dit vir Jesus gegee en Hy het geantwoord op elke klein dingetjie. Intussen het ons wonderlike gemeenskap ons in die hospitaal kom bederf met meer as genoeg kos, klere en lekkergoed.

‘Ons God is groot’

Die derde dag na die operasie (omtrent tweeuur die oggend) sit Marlin regop. Ek was wakker met babasussie wat intussen siek geword het met hoë koors. Toe glimlag Marlin vir ons. Sy het beduie sy is dors en honger. Toe sê sy iets en net daar begin sy praat.

Die volgende oggend toe die verpleegsuster inkom en vra hoe dit gaan, antwoord ek haar “baie goed, sy praat”. Sy trek haar masker af en roep uit “Halleluja! Prys die Here, sy praat!” Sy het Marlin op haar kop gesoen en vir my en my man omhels. Toe vertel sy dat hulle in die teater vir haar aanhou bid het vir volle herstel, want dit het sleg gelyk. Hulle het aanhou bid dat sy sal praat.

Ons was ses dae in die hospitaal. Marlin onthou nie die trauma nie. Ons het vir haar in die hospitaal verduidelik haar perd, IPT, het haar teen die kop geskop. Toe ons uit die hospitaal kom, wil sy dadelik weer perdry. IPT is haar perd en sy is lief vir die perd en nie bang vir haar nie.

Mense het al vir ons gesê ons moet die perd skiet, maar ons voel ons kan nie die perd blameer nie. Dit voel meer dit is ons eie skuld, want ons weet die perde is onvoorspelbaar met etenstyd. Ons is net baie dankbaar dat die Here Marlin vir ons gespaar het.

Ek hoop en bid dat die Here hierdie storie gebruik om mense nader aan Hom te bring. Ons het nie woorde om dankie te sê vir al die gebede en boodskappe uit Suid-Afrika, Namibië en Zambië nie, ons God is groot!

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF