Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Kleurvolle klanke, vol hoop

Hul musiek dra dié hoopvolle boodskap vir Suid-Afrika, sê die Kaleidoskoop-duo: Ons kan énige seisoen aandurf. Draai bloot jou gesig na die Ligbron.

Deur Conette le Roux

Hoe mooi is dit nie! Pragtige, sielvolle klanke wat ’n liggie in jou binneste aansteek.” Só het ’n gehoorlid  by ’n onlangse Kaleidoskoop-optrede uitgeroep.

En nou, met die uitreik van Kaleidoskoop se jongste album Gunsteling seisoen brand die liggie nóg helderder.

Oor die naam van hierdie album gesels die Kaleidoskoop-duo, Anique en Joeba Jordaan, graag. “In elke seisoen wat ons beleef, is daar tog ’n deurlopende faktor: goeie vriendskappe, hegte familiebande, ’n verhouding met die Here. En hiérmee kan jy enige seisoen aandurf.

“Al gaan jy deur ’n moeilike seisoen, kan die lied in jou hart onveranderd bly. Mits jy fokus op dit wat ewigheidswaarde het.”

Alhoewel Kaleidoskoop se musiek gewoonlik die mooi van die liefde, die lewe en menswees besing, het hulle vir hierdie album ook ’n bietjie dieper gaan delf. “Ons het ook aan die hartseer dele van die lewe aandag gegee,” sê hulle. “Dit is tog ’n werklikheid. Maar ware hoop is ook ’n werklikheid, en dit is deur hierdie lens wat ons tóg die slegte seisoene kan oorleef. Hoop help ons om weer die mooi dinge raak te sien, dié dinge wat ons inspireer.”

Kaleidoskoop se tweetal skryf al hul musiek self. Hul vorige album Vars uitgekerf het in 2012 die pryse laat instroom, onder meer Huisgenoot se Tempo-toekenning vir die beste kontemporêre album. Én nie minder nie as drie Ghoemas: nuweling van die jaar, beste kontemporêre album en musiekvideo van die jaar.

Voor Vars uitgekerf was daar ook Acoustic covers, maar reeds in 2010 het Kaleidoskoop hul eerste album, Platsak, in ’n huis in Vleesbaai vervaardig.

 

Dié talentvolle duo het ’n klompie vrae beantwoord:

Julle sê dat daar ’n baie goeie rede is waarom julle vyf jaar lank gewag het voor Gunsteling seisoen gebore is. Vertel!

“Ons moes eers met die verloop van tyd dinge beleef en ervaar, sodat ons in dié proses ons liedjies as ’t ware kon ‘raak leef’. Veel eerder só as wat ons iets sou gaan soek om oor te skryf.

“Ons liedjies is die produk van dit wat op ons hart gedruk het en waarmee ons dan gestoei het … totdat ons gevoel het dat daar iets sinvols of waardevols is om met ander te deel. Dit is dán dat ons gewoonlik ’n bietjie wegbreek, ons bring tyd in die natuur deur, en ons skryf al hierdie idees neer. En probeer dan om melodieë vir die woorde te vind.”

Jul lekkerste optrede tot dusver?

“Seker toe ons vir die eerste keer op ons eie, sonder ander kunstenaars se hulp, ’n gehoor van meer as 1 000 mense bymekaar kon kry. Dit was met ’n piekniekkonsert op Valentynsdag 2011 op Stellenbosch. Ons het geen idee gehad hoeveel mense sou opdaag nie, en dit was só ’n groot seëning om te sien dat die mense die grasperk vól sit!”

Vertel ons waarom jul geloof vir julle so ’n groot inspirasie is.

“’n Kaleidoskoop is ’n speelding wat jy op ’n ligbron moet rig en waardeur jy moet kyk om allerhande mooi patrone en kleure te sien. Ons hoop om met ons musiek die mooi patrone van liefde, lewe en menswees te wys. Ons lirieke en melodieë weerspieël dit wat deur Jesus, die Ligbron in ons lewe geïnspireer is. Alles wat mooi is, kom van God. Hy is ons inspirasie.

“Die musiekbedryf is ’n plek waar jou geloof, waardes en vertroue op God daagliks getoets word. Ons kan getuig hoe Hy van die begin af vir ons deure oopgemaak het – én toegemaak het! – en in elke opsig voorsien.”

Julle sê julle bring ’n boodskap van hoop vir Suid-Afrikaners. Vertel ons iets hiervan.

“Suid-Afrika verkeer op ’n mespunt. En –  ons land se mense begin besef dat ons God baie nodig het. Hy vra wel ook iets van ons. Die teksvers in 2 Kronieke 7:14 gee ons hoop, omdat ons weet dat God
’n God van sy woord is. As Hy sê dat Hy ons land kan en sal genees as ons aan Hom gehoorsaam is en bid, weet ons
dit sal gebeur.”

Nog ’n bietjie kleur

  • Anique en Jouba is nie aan mekaar verwant nie en ook nie met mekaar getroud nie, al is albei Jordaan.
  • Anique het op ’n wyndruiweplaas in Rawsonville in die Boland grootgeword.
  • Jouba het die eerste 12 jaar van sy lewe in die klein dorpie Kremetart op die grens van die Krugerwildtuin gewoon. Daarna het die gesin Swellendam toe verhuis.
  • As hulle nie musiek gemaak het nie, sou Jouba wou wyn maak (hy het ’n BSc-graad in Wingerd- en Wynkunde) of met leer werk. Anique, wat oor ’n honneursgraad in Fisiologie beskik, sou ’n kleuterskooljuffrou wou wees.
  • Jouba het Kaleidoskoop eintlik reeds in 2007 saam met ’n vriend, Gerhard Liebenberg, begin. Anique het later as gaskunstenaar vir hulle begin optree, en het gou Jouba se ander musiek-helfte geword.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF