Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Koelkop en kreatief – dis Katinka

Sy is ’n sprankelende blondekop wat nou reeds ’n bekende gesig vir televisiekykers geword het. Maar wie is sy as sy nie op die kassie is nie? En wat is die storie agter hierdie sprankel?  DEUR DEONETTE DE KOCK; FOTO\’S:  LEANDRI GELDENHUYS

Sonder ’n krieseltjie grimering. Lank en lenig, haar blonde hare in ’n hoë poniestert saamgevat. Die groot blou oë skitter net soveel soos haar nuwe trouring. Die 22-jarige Katinka Oosthuizen is ’n pragtige vrou.

En sy is flink besig om hul nuwe meenthuis in Durbanville uit te verf. ’n Skildery van haar bekende kunstenaarma, Maria, versier die een muur.

Haar lang, aantreklike eggenoot, Braam Weyers (21), met wie sy tydens ons geselsie presies twee weke en twee dae lank getroud is, praat ’n paar woorde saam met ons, en verkas dan na hul ateljee op die boonste verdieping.

Uiteindelik kom Katinka tot stilstand, en met ’n beker stomende koffie en baie handgebare praat sy oor haar splinternuwe huwelik, al hul opwindende planne en oor die lewe in die Kaap.

Met die eerste oogopslag

“Om getroud te wees, is wonderlik. Ek ‘love’ dit! Maar dis tog ’n aanpassing om deurentyd by mekaar te wees, om dieselfde ruimte te moet deel.

“Boonop verskil ons soos dag en nag van mekaar, ons het verskillend grootgeword. Braam is georganiseerd, en ek doen dinge instinktief en soos die geleentheid dit wil hê. Op ’n stadium het ek ’n neusring gedra, en my hare was soms pienk, op ’n keer blou, en toe ook pers.

“En kyk net hier,” sê sy en wys my drie klein tatoeëermerkies met ’n Christelike boodskap op haar hande, asook ’n kruisie op haar linkerenkel.

Katinka en Braam het mekaar in Mei 2018 in Stilbaai ontmoet waar hy vir ’n “gap”-jaar by ’n program gewerk het, en sy ’n bemarkingsvideo vir hulle moes skiet. Vir Katinka was dit liefde met die eerste oogopslag, en gou was hulle onafskeidbaar. Sy vertel: “Ek kon net myself by hom wees. By die huis gekom, het ek vir my ma gesê ek het my trouman ontmoet. My ma het al gebid vir die regte man vir my, want ek is effens mallerig en het al dom dinge aangevang.

“Braam is definitief deur die Here na my toe gestuur. Hy maak my rustig. Hy is ’n introvert, terwyl ek natuurlik ook só is; ek kom net as ’n ekstrovert oor, omdat mense dit van my verwag.”

Katinka vertel dat sy altyd wou trou voor sy 23 is. Braam het dit geweet voordat hulle begin vas uitgaan het. En daar was hierdie wedersydse voorneme: “Om die Here te eer, wou ons nie  saamwoon of saamslaap voor ons troue nie, al was ons so lief vir mekaar. Dis ook waarom ons so jonk getrou het, want hoe langer jy saam is, hoe moeiliker word dit om by so ’n voorneme te hou.”

“Om mét Hom te lewe …”

Katinka se ma is die baie bekende skilder, Maria. Katinka vertel dat hulle ’n wonderlike verhouding het. “My ma is my grootste ‘fan’. Ons onderskeie persoonlikhede is eintlik presies dieselfde. En al verskil ons soms oor dinge, is ons groot maats en kan ons oor enige ding gesels.

“My ma het eers in 2007 begin skilder en het nie in kuns gestudeer nie. Maar sy werk hard en begin soms drie-uur in die oggend reeds met haar skilderwerk.

“My pa bestuur die kunsgalery op Mosselbaai. Aanvanklik het ons in die galery gebly … dit was ’n nederige begin.”

Nadat Katinka by AFDA in Observatory in die Kaap begin studeer het, en ná ses maande haar studies gestaak het, het sy in ’n diepe depressie verval. “Ek wou net in die bed bly,” vertel sy, “ek was die hele tyd moeg, ek het nie omgegee hoe ek lyk nie, ek het oor enigiets gehuil. Ek wou niemand sien nie. Alles was net sleg.

“Ek was 19 jaar oud en het in ’n gat geval waaruit ek nie kon kom nie. Daar is mense wat dink dat as jy gered is, jy so iets sal kan hanteer. Maar dit werk nie so nie. Depressie is ’n siekte soos enige ander siekte. Mense steek dit weg, want hulle is bang hulle word veroordeel.

“Gelukkig kon ek met my ma daaroor praat. Ek het drie jaar lank antidepressante gebruik, en die Here het my daardeur gehelp. Soms vang dit my nog, maar ek glo dis belangrik om reg te eet, te oefen, die regte vriende te hê en om tyd saam met die Here deur te bring.”

Katinka kom uit ’n Christelike huis en haar verhouding met die Here lê haar na aan die hart. “Ek het al vir ’n rukkie sonder die Here probeer lewe. Maar om mét Hom te lewe, is net soveel meer. Wanneer Hy deel van alles in jou lewe is, gee dit jou ’n doel. Ek kan nie anders nie as om Hom die eer te gee vir alles in my hart en in my lewe.

“Die lewe is so leeg as jy Hom nie in jou lewe het nie.”

Veelsydig

Katinka het reeds in graad 9 met haar Instagram-video’s begin. Sy is raakgesien nadat haar “Pliggie”-video in matriek opslae gemaak het. “Ek was nog altyd ’n ‘entertainer’, al verkies ek om agter die kameras te werk en redigeerwerk te doen. Ek het nooit die kollig nagejaag nie; dit was bloot vir my eie vermaak.

“Ek wou nog altyd net ’n filmregisseur wees. Daarom was ek verras toe ek sien die mense hou so baie van wat ek doen.”

Nog ’n wonderlike belewenis was haar deelname aan Survivor. In Januarie 2018 is Survivor in die Filippyne geskiet, en einde Februarie daardie jaar is Katinka as een van die topvyf deelnemers huis toe gestuur.

“Die eerste tien dae het ek diarree gehad. Jy moes in die bos piepie, jy moes altesaam 34 aande op die strand slaap. Die ergste van Survivor was dat jy geen privaatheid gehad het nie, en dat jy niemand kon vertrou nie. Daarby was die tye tussen die uitdagings vir my erg. Dit het soms twee tot drie dae lank geduur, en ek kán nie stilsit nie.

“Die lekkerste daarvan was om geen vorm van tegnologie by jou te hê nie. Én om ’n uitdaging te wen, en om dan te mag eet. Ek is 1,75 m lank en ek hou van eet!

“Jy leer in dié tyd om elke klein dingetjie te waardeer – ’n sagte sitplek, jou bed, genoeg kos. Jy besef hoe min ’n mens eintlik nodig het.”

Vanaf April 2019 was Katinka die aanbieder by Klink soos Naweek met JOOX op DStv se VIA-kanaal. Hieroor was sy baie opgewonde. “Dis definitief die coolste geleentheid wat nóg oor my pad gekom het. Ek was mal daaroor. Maar die program is een van die dae verby, ná vyf seisoene van 12 episodes elk.”

Katinka is ’n veelsydige vrou. Reeds op skool het sy troufoto’s en trouvideo’s geneem. En haar eie maatskappy, Katinka Productions, gestig. Toe sy en Braam begin uitgaan, het hulle hierdie projek saam aangepak.

Verder besit sy ook ’n webtuiste, Katseblad. Op hierdie platform verkoop sy onder meer hempies wat deur haar ontwerp word. Boonop verdien sy ’n inkomste uit sosiale media-platforms soos Instagram, met maatskappye wat haar betaal om hul produkte hier te adverteer.

Die pad lê oop en blink

Katinka is dol oor Kaapstad, en die trek Durbanville toe was nie vir haar ’n moeilike skuif nie. Sy sê: “Dis naby die stad, en ek is baie lief vir Kaapstad. Ek voel so tuis hier. Ek kan my kreatiwiteit uitleef – en ek kan aantrek soos ek wil!

“Daar is ook net soveel meer werkgeleenthede hier, veral in die sosiale media-omgewing: Instagram, Facebook, YouTube. Hier is ook baie meer maatskappye vir wie ek as ‘influencer’ kan werk en produkte bemark.”

Klaarblyklik wag daar nog vele opwindende dinge op hierdie jonggetroudes. Nie net wil hulle soveel moontlik reis nie, maar Katinka wil begin om in eiendom in die Kaap te belê. Sy besit reeds ’n plekkie in Mosselbaai wat sy verhuur.

Braam wil sy loopbaan as akoestiese sanger stewiger vestig. Katinka het ook ’n musiekloopbaan in die oog: Sy het reeds ’n kontrak met Sony Music gesluit vir ’n klompie enkelsnitte rap-musiek wat sy self geskryf het. Sy wil Katinka Productions laat groei, soos ook Katseblad.

Jy kan nie anders as om opgewonde te wees vir Katinka se onthalwe nie. Die pad lê oop en blink voor hierdie kreatiewe blondekop.

 

 

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.