Kuier hierdie laaste wintermaand om! Lag en gesels, deel in mekaar se lief en leed. Ja, vat hande met vriende en familie rondom ’n groot tafel. Al wat jy dan (nog) nodig het, is ’n vurk en ’n servet. DEUR ATEL STREICHER. FOTO’S: THIRDREPUBLIC.
Hoenderrepies in kerrie- en koljandersous
Dit kan koud of louwarm geëet word – en saam met rys.
4 porsies
Jy benodig
- 400 g (drie groot) ontbeende hoenderborsies, sonder vel
Marinade
- 250 ml (1 k) Bulgaarse jogurt
- 10 ml (2 t) vars koljander, gekap
- 2 knoffelhuisies, fyngemaak
- 5-10 ml (1-2 t) fyn komyn, of na smaak
Sous
- 15 ml (1 e) kerriepoeier
- 250 ml (1 k) mayonnaise
- 125 ml (½ k) Bulgaarse jogurt
- 125 ml (½ k) blatjang (ek verkies dié met ’n vrugtegeur, soos perske of mango)
- 1 suurlemoen se sap en fyngerasperde skil
Om voor te sit
- ’n Hand vol vars koljanderblare, gekap
- 2 ryp mango’s, geskil en in skywe gesny
Jy maak só
- Spoel die hoender goed af en droog dit dan met kombuispapier af.
- Meng die bestanddele vir die marinade. Plaas die hoender in ’n oondbak, en giet die marinade daaroor. Bedek dit en laat dit sowat twee ure lank staan om te marineer. Voorverhit die oond intussen tot 180ºC. Plaas die hoender in die oond. Verwyder dit ná 20 minute en laat dit effens afkoel.
- Meng die sous se bestanddele en geur dit net met sout en peper. Sny die hoender in skyfies (saam met die vleis se grein). Giet die sous bo-oor. As jy dit koud wil bedien, plaas dit ’n paar uur lank in die yskas.
- Sit dit voor met die koljander en die mango.
Gegeurde maalvleis in wraps, met avokado en suurroom
Jy benodig
- 15 ml (1 e) olyfolie
- 1 ui, gekap
- 1 rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
- 2-3 knoffelhuisies, fyngemaak
- 500 g beesmaalvleis
- Sowat 5 ml (1 t) fyn komynsaad
- 5 ml (1 t) gedroogde fyn brandrissiepoeier
- Sout en peper
- 1 blik (410 g) gekapte tamaties
- 1 blik (400 g) rooi nierboontjies, gedreineer
Om voor te sit
- 8 gaar wraps
- 250 ml (1 k) suurroom
- 2 avokado’s, geskil, ontpit en in skywe of blokkies gesny, en met ’n bietjie suurlemoensap besprinkel
- 125 ml (½ k) vars koljanderblare, gekap
Jy maak só
- Verhit die olie – en braai die uie, soetrissies en knoffel sowat een minuut lank daarin, of totdat dit sag is. Voeg die maalvleis by en braai dit bruin.
- Geur dit met die komyn en brandrissie, asook die sout en peper na smaak. Voeg die tamaties en die nierboontjies by en laat prut dit sowat twee minute lank.
Om voor te sit
- Skep die maalvleismengsel op elke wrap. En skep die suurroom, avokado en gekapte koljander bo-op.
Macaroni en dubbel-dik kaas met spek
6 porsies
Jy benodig
- 500 g rou macaroni
- 150 g botter of margarien
- 250 ml (1 k) koekmeelblom
- 1 liter (4 k) warm melk
- 250 ml (1 k) room
- Sout en peper
- ’n Knippie neutmuskaat
- 300 g (500 ml) gerasperde Cheddar
- 15 ml (1 e) olyfolie
- 250 g gekapte spek
- 125 ml (½ k) Parmesaan
Jy maak só
- Kook die pasta in kookwater met sout tot net-net sag (maar nie pap). Dreineer dit. Verhit die oond tot 180ºC.
- Verhit die botter totdat dit gesmelt het. Voeg die meel by en roer dit met ’n houtlepel totdat daar groot klonte vorm. Verwyder dit van die stoof en klop die melk geleidelik met ’n draadkloppper by, totdat die sous sonder klonte is. Verhit dit 1-2 minute lank oor lae hitte. (Dit is om die meel gaar te kry – sonder om dit te brand!). Verwyder dit van die stoof. Roer nou die kaas by totdat dit gesmelt het. Roer die room by.
- Geur dit met die sout, peper en neutmuskaat.
- Verhit die olie en braai die stukkies spek totdat dit ligbruin is. Meng die pasta, kaassous en spek saam.
- Sprinkel die Parmesaan bo-oor en bak dit sowat 25 minute lank, of totdat dit bo-op goudbruin is.