Sy is ’n gewilde sangeres, ’n bekende gesig op TV, en sy hou haar lyf soms ook aktrise. Sy woeker met haar talente en gryp elke geleentheid wat oor haar pad kom passievol aan. Boonop doen sy al hierdie dinge met ’n moeitelose sprankel.
DEUR FRANCINE PRINS
“My ma is my grootste bewonderaar, en my man my grootste kritikus. En dit is die perfekte span om agter jou te hê!”
So vertel Leah, sangeres, TV-aanbieder en aktrise. “Soms het ’n mens dit mos nodig dat iemand vir jou sê jy het goed gevaar. My ma ondersteun my dikwels op so ’n manier.
“En ek is baie dankbaar vir my man Hennie, want hy sal vir my sê as ek dalk van die noot af gesing het.” Sy lag. “Of as ek te veel nonsens op die verhoog gepraat het!”
Dis haar ma en haar man en haar vriende wat help dat Leah nie ’n mens word wat sy nie eintlik is nie. “My man ken my al 15 jaar lank, en hy sal my gou sê as ek verander.
“Ek check ook gereeld by my vriende in. Goeie vriende wat ’n eerlike antwoord gee as ek hulle daarvoor vra.
“En dan, natuurlik, speel my geloof ’n rol daarin dat ek net myself bly. As ek weg van die Here beweeg, gaan ek ook weg van wie ek regtig is. Die Here hou my gegrond.”
Die Covid-19-pandemie het Leah daaraan herinner dat daar geen waarborge in die vermaaklikheidsbedryf óf die lewe is nie. “Ek het opnuut besef dat alles van jou weggeneem kan word. Dat jy binne oomblikke platgeslaan kan word.”
Blaai jy deur Leah se onderskeie sosiale mediaprofiele, sien jy die een groot glimlag ná die ander. Sy lyk oral en altyd gelukkig.
Is dit eg? wonder jy.
Haar antwoord is eenvoudig: “Ek wil graag hê mense wat daardie profiele besoek, moet goed voel. Dis mos lekker om na iets te kyk wat jou opbeur. Daarom sorg ek dat ek nie negatief is nie, dat ek eerder die positiewe en die goeie beklemtoon.
“Ek hou nie ’n vals beeld voor nie. Maar daar is soveel negatiewe dinge in die wêreld dat ek eerder kies om iets te wys wat mense sal opbeur.
“Natuurlik beleef ek minder goeie dae, en soms sukkel ek ook met die negatiewe. Maar ek kies om dit nie te wys nie; ek hanteer dit eerder saam met my familie en vriende.
“In my hart is ek ’n positiewe mens. En die slegte dinge in die lewe het ook gehelp om dit in my te vorm.”
Soos ’n mens kan verwag, is daar soms negatiewe kommentaar op haar profiel. Soos dit maar is by iemand wat ’n groot aanhang by die publiek geniet. Hoe dink Leah daaroor?
“Toe ek jonger was, het ek sommer sulke kommentaar uitgevee. Maar deesdae sal ek daarop reageer. As iemand byvoorbeeld iets oor my skryf wat ek weet nie waar is nie – iets soos: ‘Jy dink darem baie van jouself’ – sal ek daardie persoon antwoord.
“Dis mos baie maklik om persoonlik of afbrekend te wees as jy anoniem is, as jy dit op die foon se skerm kan doen. Sal jy so iets vir my sê as ek by jou is?
“Ek leer dus deur ondervinding hoe om sulke dinge op sosiale media te hanteer.”
Dol dagboek
Leah se bestuurder, Corné Oosthuizen, het aan die einde van 2022 se eerste maand vir haar gesê: “Ek wil huil as ek na jou dagboek kyk!”
Leah lag daaroor, soos ’n regte raakvatter met baie energie én ’n liefde vir wat sy doen. “Toe ek sien hoe vol my dagboek is, het ek net daar, in ’n huilstemmetjie, vir my man gesê: ‘Ek gaan jou hierdie maand mis.’
Daar is baie projekte wat Leah besig hou, soos die opnames van Duidelik dapper en Dankie Lottoland, al twee kykNET-programme. En sy het onlangs ’n akteursrol in ’n nuwe kykNET-storiefilm gehad wat in Maart uitgesaai word.
Dan, gelukkig, is daar die verhoogoptredes wat weer gereël mag word; Leah toer die land vol met haar musiek.
Intussen het sy ’n motiveringskursus vir Libertas Besigheidsinstituut ontwikkel wat sy “Passie Positiwiteit Produktiwiteit” noem. “Dit was ’n groot, maar lekker uitdaging,” vertel sy. “Alles wat ek moes deurmaak, veral die ervarings in die slegte tye, het my gehelp om ’n beter mens te word. Ek kon hierdie lewenslesse met teorie kombineer en ’n volwaardige kursus ontwikkel.
“Die kursus raak dinge aan soos hoe om jouself en jou emosies te bestuur, hoe om die goeie te neem uit die slegte tye. Daar is ook raad oor hoe om te kommunikeer en misverstande te probeer vermy, en hoe om konflik te hanteer.
“Ek hoop die kursus help mense om te besef dat hulle altyd ’n keuse het. Dat hulle, wanneer hulle in ’n donker gat beland, kan kies om daar te bly of om uit te klim.
“Ek besef dat nie almal by my belewenisse sal aanklank vind nie, maar dalk help dit iemand om ’n ander perspektief te verkry. As jy deur die leermateriaal werk, kan jy uit die kursus neem wat vir jou sin maak en wat jou sal bemagtig.”
Balans, matigheid
“Ek het vir myself gesê 2022 gaan my jaar-van-betrokkenheid wees. Ek het al sóveel van my vriende en familie se groot mylpale gemis – ’n troue, ’n babatee, verjaardae …
“Nou laat ek my besige dagboek vír my werk. As ek ’n uitnodiging na ’n familiegeleentheid kry, vra ek Corné om dit dadelik in my dagboek aan te teken. As ek ’n naweek saam met Hennie wil wegbreek, maak ek seker dis ’n afspraak in my dagboek.”
’n Klompie jare gelede het Leah op die harde manier geleer dat sy selfs haar rustye ’n deel van haar beplanning moet maak. Sy vertel: “Ek was gedurig siek, maar ek het deurgedruk – daar was dinge om te doen, afsprake om na te kom, ’n loopbaan om te bou.
“Maar daardie dag toe die dokter vir my sê: ‘As jy só aanhou, gaan jy volgende jaar hierdie tyd nie meer kan sing nie,’ het die werklikheid my getref.
“Nou probeer ek die lewe meer gedissiplineerd aanpak, ook wat my ontspanning betref. Ek maak seker dat ek ’n balans handhaaf, dat ek matigheid voor oë hou.”
Daar is nog baie drome in dié musiekmens se oë. “Ek wil meer skryf,” sê sy. “Ek wil eendag dalk ’n musiekblyspel aanpak.
“Hopelik kom daar weer ’n akteursrol oor my pad én ek is beskikbaar so tussen my ander projekte deur. Eendag sal ek ook my hand aan radio wil waag.
“En natuurlik wil ek aanhou sing! Ek hoop om dit nog lank te kan doen, want ek hou daarvan. Dis vir my heerlik om op die verhoog te staan en te ervaar hoe mense my musiek net soveel geniet soos wat ek dit geniet.”