DEUR SUSAN GOOSEN
- Doen slegs een ding op ’n slag. Eet rustig. Drink koffie. Geniet jou warm bad. Moenie probeer om verskeie take gelyktydig af te handel nie.
- Doen jou take stadiger, maak seker dat jy elkeen behoorlik afhandel. Dit verbeter jou fokus en verminder jou stres.
- Sorg dat daar verposings tussen aktiwiteite is. Sorg vir genoeg tyd om ’n taak af te handel, en maak voorsiening vir tyd tussen die onderskeie aktiwiteite. Dit maak jou rooster minder spanningsvol, en dit maak voorsiening vir die onvoorsiene.
- Doen minder. Prioritiseer. Stel vas wat regtig belangrik is.
- Sorg dat daar elke dag ’n paar minute is waartydens jy net mooi niks doen nie. Sit stil, haal diep asem en word bewus van jou gedagtes en wat om jou aangaan.
- Fokus op die huidige, op dit wat jy nou doen. Moet tog nie knaend oor môre bekommerd wees of jou oor die toekoms kwel nie. Geniet wat jy nou het.
- Eet stadig, selfs wanneer dit ’n eenvoudige ete is. Proe en geniet elke happie. (Jy sal waarskynlik ook minder eet!)
- Maak van skoonmaak en kosmaak ’n soort meditasie. Fokus net daarop; doen dit stadig en deeglik. Dit kan jou hele dag verander – én jou met ’n skoner huis laat.
- Wees werklik “daar” wanneer jy met mense praat. Moenie deur al die lysies in jou kop gaan of kort-kort na jou foon of horlosie loer nie. Luister met aandag en geniet die tydjie saam met die ander persoon.
- Detoks gereeld van tegnologie. Probeer om eenvoudiger dinge – soos ’n mooi sonsondergang of mooi musiek – te geniet, sonder dat jou aandag deur jou tegnologiese apparate afgetrek word.