Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Lekker gesinstyd | Maak herinneringe

Vakansietyd is die ideale tyd vir gesinspret. Én om op hierdie manier, so speel-speel, herinneringe te skep. Dis makliker as wat jy dink. Maak herinneringe met hierdie klompie maklike idees.

Maak herinneringe | Lekker legkaarte

Gebruik groot Lego- of ander boublokke om hierdie legkaarte te maak.

Maak die legkaart só

• Pak vier boublokke op mekaar en plak ’n foto daarop. Jy sal die foto vooraf volgens die regte afmetings moet knip. Gebruik ’n kunsmessie om die foto’s op die randjies van die blokke deur te sny. 
• Laat die kinders die blokke skommel en weer bou. Gebruik meer blokke vir moeiliker legkaarte, of kombineer blokkies van verskillende groottes.
Wenk: Indien jy foto’s van mense gebruik, almal ewe groot en in dieselfde posisie, kan dit baie pret wees om die blokke te meng en sodoende met allerlei nuutskeppings vorendag te kom.

Maak herinneringe | Nog pret met Lego’s 

• Blinddoek die kinders, gee aan elkeen ’n aantal blokkies en laat hulle vyf minute lank bou sonder om te kyk. Daarna moet hulle die blinddoek afhaal en probeer om hierdie (vreemde) skepping in iets nuttigs te omskep deur slegs ander blokkies by te voeg.
• Ontwikkel julle eie geheime kode met lego’s. Klik hier vir aanwysings.

Maak herinneringe | Lekker pret met botteldoppies

Maak herinneringe met botteldoppies

Verf jul eie botteldoppies, of kies doppies sonder prentjies en woorde. Skryf die letters van bekende woorde op die doppies en laat die kinders die woorde bou. Julle kan ook magnete op die doppies plak en dit dan op die yskas of op ’n ander witbord gebruik.

Wenk: Hierdie is ’n goeie geskenk vir kleuters. Skryf hul naam en van (of die name van gesinslede en troeteldiere) op die doppies en plaas dit in ’n plastiekhouer. Laat hulle dan die name met die doppies uitpak.

Wenk: Botteldoppies kan ook gebruik word om “kringetjies-en-kruisies” of selfs dambord te speel.    

Maak herinneringe | Superslym

Mielieblom, water en voedselkleursel maak ’n heerlike slym waarmee kleuters en selfs groter kinders hulle ure lank kan vermaak. Meng die bestanddele totdat dit vloeibaar genoeg is, plaas dit in ’n groot bak saam met klein bakkies en speelgoed waarmee kinders kan speel. As hulle klaar gespeel het, kan die slym gelos word om droog te word. Die poeier kan dan weer vir die volgende dag se slym gebruik word. 

Klik hier vir nog aktiwiteite vir verveelde kinders.

Wenk: Hierdie aktiwiteit kan nogal morsig wees; laat die kinders hiermee buite speel. 

Maak herinneringe | Fantastiese foto’s

Druk ’n paar van jul gunstelingfoto’s en vertoon dit op ’n kreatiewe manier. Jy benodig 

• ’n Houtpaaltjie, ongeveer 30 cm tot 60 cm lank en 1 cm in deursnee (by hardewarewinkels beskikbaar)
• Spuitverf (opsioneel)
• Kombuistou
• Kleefband 
• Vloeibare gom
• Kraletjies of blokkies

Só maak jy die kreatiewe “fotoraam”

• Verf die paaltjie in die kleur wat jy verkies. Besluit hoeveel foto’s julle wil gebruik. Knip drie of vier stringe tou en bind dit stewig aan die paaltjie vas. Gebruik ’n bietjie gom om te verseker dat dit nie skuif nie.
• Plak die foto’s met die kleefband aan die toutjies vas. Hang kraletjies aan die tou­tjies en hang ’n blokkie of ’n ander vormpie onder aan die toutjie om te verseker dat dit gelyk hang.
• Heg ’n toutjie aan die twee punte van die paaltjie vas en hang dit op. 

Maak herinneringe | Kersfees-idees

Tel die dae met julle eie adventkalender

Adventkalender

• Draai twee A4-bladsye in die breedte en knip 25 cm X 3 cm-stroke. Laat jou kinders op elkeen van hierdie stroke ’n teksvers skryf of plak wat hulle aan die Kerstyd herinner. Klik hier vir moontlike teksverwysings. 
• Vorm en plak nou die stukkies papier in ’n kleurryke papier-ketting wat julle iewers in die huis ophang. Dis jul Adventskalender. Van 1 Desember af kan iemand elke oggend een van die teksverse afknip en lees. Die laaste teks word op Kersoggend gelees.

’n Kleurryke, maklike Adventskrans

Jy benodig:
• 3 velle papier
• 2 papierborde
• Strikkies, blinkers en ander versierings

Sit julle adventkalender só aan mekaar:

• Plaas die twee papierborde bo-op mekaar en knip die sirkel aan die binnekant uit sodat net die rand oorbly. 
• Draai die velle papier dwars en knip dit in 3 cm-stroke. Vou elke strook dubbel bo-oor die bord se rand sodat die los punte na buite wys. Plak die stroke langs mekaar vas. 
• Knip ’n netjiese kepie in elke strook om ’n randpatroon te vorm. En versier dit met blinkers, sterre, linte en ander Kersversierings. Heg ’n breë lint daaraan vas waarmee dit aan ’n deur gehang kan word.

Maak herinneringe | Vertel die Kersverhaal met prentjies

Spoelklippe of houtblokkies bied aan julle ’n oulike manier om op ’n ander manier na die Kersverhaal te kyk. 

• Gee aan elke kind ’n klompie spoelklippe of houtblokkies, koki’s, verf en kwassies. Laat hulle die karakters in die Kersverhaal hierop teken en verf. (Die sketse kan maar baie eenvoudig wees.) 
• Gebruik dan die klippe om die Kersverhaal te vertel. Gesels ook oor die verskillende karakters en hul onderskeie rolle. En vertel wat hulle moontlik ervaar en gevoel het.

Maak herinneringe | Versier die Kerstafel

Hierdie vrolike Kersboompies is pret om te maak. Maar wees gewaarsku: Hulle is só lekker dat hulle waarskynlik nie eens die Kerstafel sal haal nie …

Maak lekkergoed Kersboompies só

• Gee aan elke kind ’n Marie-koekie, ’n roomyshorinkie en ’n klompie gekleurde lekkers. En versiersuiker wat met ’n bietjie water aangemaak is. 

• Laat hulle die roomyshorinkie op die koekie vasplak en dit met die lekkertjies versier. Julle kan ook die roomyshorinkie vooraf met verskillende lekkers vul of met gekleurde versiersuiker versier.

Vou feestelike servette

Vou servette wat by die Kersfees-tema pas. Jy maak só:

Kersfees-servette
Kersfees-servette
Kersfees-servette

• Gebruik ’n vierkantige servet, of vou ’n lapservet in die vorm van ’n vierkant. Draai die servet sodat die los punte ondertoe wys. 
• Vou nou die punte een ná die ander na bo om verskillende lagies te vorm.
• Vou die buitenste hoeke na binne en draai die servet om. Siedaar, ’n Kersboom! Versier dit met klein sterretjies of blinkertjies.

Hou ’n Kersfees-skattejag 

• Die kinders moet elke keer iets soek wat by ’n deel van die Kersverhaal pas. Iemand kan die betrokke Bybelgedeeltes voorlees. Of laat ouer kinders hul eie Bybel gebruik. 

Hier is ’n klompie moontlikhede: 

  • Lukas 2:7 | Soek iets wat sag en warm is soos die materiaal waarvan ons in hierdie vers lees.
  • Lukas 2:7 | Soek iets wat dieselfde kleur is as die materiaal of stof wat waarskynlik onderin Jesus se bedjie of krip was.
  • Lukas 2:8 | Soek iets wat sag en wollerig is soos die diere waarvan ons in hierdie vers lees.
  • Lukas 2:9 | Soek iets wat pragtig en blink is, amper soos die hemelse wesens waarvan ons in hierdie vers lees.
  • Lukas 2:15 | Soek iets wat die skaapwagters moontlik sou dra of gebruik toe hulle vir Jesus in Betlehem gaan soek het.
  • Lukas 2:19 | Waar het Maria al haar mooi herinneringe gebêre? Soek iets wat dieselfde vorm het.
  • Matteus 2:9 | Soek iets wat dieselfde vorm is as die lig wat die wyse manne gelei het.
  • Matteus 2:11 | Soek waardevolle of mooi geskenke vir die klein Jesus. Jy moet dieselfde aantal geskenke hê as die wyse manne.

Maak julle eie Kersfeespapier

Maak vrolike papier met voedselkleursel en skottelgoedseep.

Kersfeespapier
Kersfeespapier
Kersfeespapier

• Meng ’n bietjie water met skottelgoedseep in ’n vlak bak. 
• Blaas met ’n strooitjie in die seepwater totdat daar baie borrels vorm, en drup ’n klein bietjie van die voedselkleursel bo-oor die borrels. 
• Blaas weer. Druk die papier versigtig teen die borrels om ’n mooi “marmer”-effek te verkry.
• Gebruik nou dié papier om geskenke toe te draai of om geskenkkaartjies te maak.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.