Die sanger Len Muller het sy loopbaan op ’n lewende verhouding met God gebou. Nou pluk hy die vrugte daarvan.
Die musiekbedryf is onvoorspelbaar en vol uitdagings, van finansiële onsekerheid tot die volgehoue druk om relevant te bly en, terselfdertyd, aan jouself getrou te wees.
Len Muller, deesdae veral bekend vir sy treffer “Soos ’n engel”, sê dat daar tye in sy lewe en loopbaan was waar hy gevoel het alles is te moeilik, te onseker. “Maar,” sê hy vandag, “deur dit alles het ek geleer dat God voorsien. Dat Hy alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet. Dat Hy ’n plan met my lewe het.”
Musiek in sy hande
Len (42) vertel dat sy pad saam met God en musiek al van ver af kom. “Ek was in die Hoërskool Richardsbaai toe ’n oom ’n profetiese woord oor my uitgespreek het. Hy het gesê daar is musiek in my hande en dat God dit kragtig gaan gebruik. Dit was nog voordat ek geweet het ek kan sing of liedjies skryf.”
LEES OOK: ‘Ek het skielik besef ek was so arm soos ’n geestelike boemelaar,’ vertel Danie Botha
Eendag, by ’n jeugbyeenkoms, het Len en ’n groep jong mense om ’n klavier gestaan en aanbiddingsliedjies sing. Hy vertel: “Die jeug-en-aanbiddingsleier was ook ’n musiekonderwyser. Sy het my gehoor sing en gevra of sy vir my sanglesse kan aanbied, gratis, sodat ek saam met haar die aanbidding in die kerk kan lei. Kort daarna het my ma vir my ’n eerste kitaar gekoop.”
Later is Len genader om by die Dolosfees in Richardsbaai te sing. Dit was toe dat hy ontdek het dat hy ook ’n gawe het om Afrikaanse liedjies te skryf. “Net daar het die begeerte ontwikkel om stories deur liedjies te vertel, en om op dié manier ook my getuienis met ander te deel.”
In 2014 het Len besluit om voltyds by die musiekbedryf betrokke te raak en alles wat hy kon daarvan te leer.
“Ek het stad toe getrek en werk gekry by Merchant Musiek, ’n Christelike platemaatskappy wat deur Louis Brittz gestig is. Daar het ek geleer hoe platemaatskappye ’n ooreenkoms met ’n sanger aangaan.”
Een van Len se verantwoordelikhede by dié maatskappy was stoorkamerbestuur. Hy vertel: “Ek sou CD’s verpak terwyl ek luister hoe ’n bemarkingstrategie vir Retief Burger se volgende CD bespreek word.”
’n Internskap by Clear Entertainment het Len geleer hoe om sangers se loopbaan te bestuur en te help ontwikkel. En deesdae verskyn hy nie net op die verhoog nie, maar hy werk ook agter die skerms as ’n agent. Hy het reeds meer as honderd optredes vir sangers soos Juan Boucher en Danie du Toit, oftewel Danie Reënwolf, gereël.
“Ek probeer ’n deurlopende balans handhaaf tussen my musiekloopbaan en my verantwoordelik-hede as agent,” sê hy. “Ek beskou dit as ’n voorreg om in albei rolle ’n impak te maak.”
Egtheid wen altyd
Reg deur sy loopbaan, tot nou toe, het sy pad gereeld met dié van wonderlike mense gekruis, vertel Len. “Van gevestigde sangers tot musiekvervaardigers het my gehelp om my loopbaan te slyp.
“Daar was Hendri de Klerk, my eerste vennoot in ons platemaatskappy Kanada Records, wat my geleer het hoe platekontrakte werk. En Franie Kotze van Clear Entertainment, wat my alles van ’n sakeonderneming geleer het, en hoe om sangers te bestuur, sodat ek uiteindelik my eie agentskap kon begin.
“Retief Burger het my geleer hoe om binne ’n geestelike familie my roeping ten volle uit te leef. Danie Reënwolf en Juan Boucher is die mentors en vriende wat my tans help om elke dag te groei, as sanger én as agent.”
By elk van dié mense, vertel Len, het hy geleer dat egtheid altyd wen. Jy kan nie soos iemand anders probeer wees om sukses te behaal nie. “Mense assosieer hulle graag met iets wat eg is, wat die waarheid is.”
Treffers vir die koninkryk
Len sê sukses is vir hom nie noodwendig ’n plek op ’n trefferlys nie, maar die vermoë om musiek te maak wat mense raak, en wat ’n impak vir die koninkryk maak.
“Met my jongste liedjie ‘Soos ’n engel’, wat in ’n stadium nommer een op die iTunes-trefferlys was en wat ál meer op radiostasies se trefferlys verskyn, reken ek dat ek ’n nuwe mylpaal bereik het. Ek het pas ook ’n spesiale akoestiese weergawe van ‘Soos ’n engel’ saam met Juan Boucher bekendgestel. En ek werk aan ’n nuwe album.
“Dis ’n fantastiese ervaring om saam met ander sangers te werk en kreatiewe energie met mekaar te deel. Ek hoop om teen Oktober vanjaar die nuwe album bekend te stel.”
Elke struikelblok op sy pad het dié talentvolle sanger sterker gemaak. Daar was ook baie hoogtepunte, soos verlede jaar se bekendstelling van die enkelsnit Arende en Engele. “Dit was ’n baie persoonlike projek,” vertel
Len, “en ek het dit aan my vrou, Chanél, en my vierjarige seun Arend opgedra.”
Boonop het Len die voorreg gehad om sy eie weergawe van “Sarie Marais” saam met die legendariese Nederlandse sanger Stef Bos op te neem, en ’n Afrikaanse blues-lied saam met Dan Patlansky.
Len is ook deur Louis Brittz en Retief Burger se Nuwe Lof-span genader om te help skryf aan nuwe Afrikaanse aanbiddingsmusiek. “Dit was ’n groot voorreg,” sê hy.
’n Lewende verhouding met ’n liefdevolle God
Dis vir Len belangrik om terug te gee, en om ander sangers te ondersteun waar hy kan.
Sy gesin is sy inspirasie en die rede vir alles wat hy doen. Sy geloof is sy fondament. “My geloof help my om gefokus te bly, om nie verlore te raak in die sukses of teleurstellings van die bedryf nie. Ek glo dat my talent ’n gawe is en dat ek dit moet gebruik om ’n verskil te maak.
“Ek is met ’n wonderlike vrou getroud, wat my in alles ondersteun. Arend is nog klein, maar ek hoop om vir hom ’n voorbeeld te wees van ’n mens wat met integriteit sy roeping uitleef. Ek wil hê hy moet weet dat hy oneindig geliefd is. En dat sy waarde nie bepaal word deur wat hy doen nie, maar deur wie hy is.
“Ek wil hê hy moet sien dat geloof nie bloot ’n stel reëls is nie, maar ’n lewende verhouding met ’n liefdevolle God.”
Dis nie altyd maklik om sy geloof in sy werkplek uit te leef nie, sê Len. “Die musiekbedryf kan soms oppervlakkig wees, en vol versoekings. Maar ek het geleer dat as jy vasstaan in wie jy is en in wat jy glo, jy nie maklik rondgeskuif kan word nie. Jy neem ’n besluit uit geloof en nie uit vrees nie.”
Len vertel dat hy in ’n huis grootgeword het waar geloof belangrik is. “Maar soos almal moes ek my eie verhouding met God ontdek. Dit was ’n pad van groei en leer, en dit is steeds ’n reis.”
In ’n wêreld waar godsdiens dikwels mense verdeel en van mekaar vervreem, en genade oënskynlik nie geduld word nie, is Len daarvan oortuig dat liefde en respek die antwoord is. “My geloof leer my om ander lief te hê en nie om hulle te oordeel nie. En ek glo dat mense deur dade eerder as deur woorde oortuig word.”
Sy verhouding met Jesus Christus beteken vir hom dat hy nooit alleen is nie. “Dis ’n verhouding, dis nie net ’n geloof’ nie. Dis die wete dat ek geliefd is, ongeag wat ek bereik of nie bereik nie. Dis om te lewe vanuit aanvaarding en nie vir aanvaarding nie.
“Jesus Christus het my lewe gered.”

















